Empatie maak jou ’n beter mens
’n Mens raak immuun teen bedelaars, veral as jy van groter stede soos Johannesburg af kom. Om elke hoek en draai kom jy hulle teë.
Hier in Windhoek sien jy ook op ’n paar plekke kinders of ouer mense wat bedel. By die Grove-inkoopsentrum, by WHS se verkeerskruising en by sekere parkeerareas.
As jy hulle sien dan skop al jou waarskuwingseine in. Jou eerste gedagte is, los my uit, gaan vra iemand anders vir geld. En dan begin jy dink aan al die stories wat almal jou vertel oor hoe die kinders nie self die geld gebruik nie en dat hulle vir iemand anders bedel.
Ek weet nie hoeveel van die stories wat ek al gehoor het waar is nie, maar dit laat mens twee keer dink voor jy geld vir ’n bedelaar gee. Waarvoor word daardie geld werklik gebruik?
Ons ry party keer vanaf Eros na die westelike verbypad en soms kom ek en my kinders ’n swart seun, omtrent so 12 jaar oud, teë wat by die verkeerslig bedel.
Ek weet nie regtig waarvoor hy bedel nie, want ek het al gesien hoe iemand koeldrank vir hom gee, dan los hy dit op die sypaadjie sonder om weer daarna te kyk.
Ek en my oudste seun was die een dag so geskok. Ek was in trane. Ek weet nie presies wat met die arme kind gebeur het nie, maar hy kon skaars loop. Iets was met sy been verkeerd en sy hele gesig was “opgeslaan”. Hy het soos ’n bokser gelyk wat 10 rondes in die kryt teen ’n reus geveg het. Dit het beslis gelyk asof iemand hom aangeval het.
Hy staan naby die ouens wat die taxi’s na Okahandja en die Noorde reël. Miskien het hy met hulle besigheid ingemeng? Of miskien het iemand in ’n voertuig wat moeg vir die seun geraak het hom ’n “les” geleer?
Wat doen jy in so ’n situasie? Wie bel jy om te kom help? Wie sal die seun kom haal en na hom omsien in ’n veilige omgewing? Wie is opgelei en bekwaam genoeg om te weet hoe om hom te benader en te hanteer?
Verlede Vrydag toe sien ons hom weer. Dit is toe ek begin wonder of daar nie iets anders met hom verkeerd is nie. Hy huil aanhoudend en tot my en my seun se skok, begin hy sy kop teen die verkeerslig se paal stamp. Nie sag nie, maar met mening en aanhoudend.
Jy voel so hulpeloos en al wat deur jou kop gaan, is wat kan jy doen om hom te help? Ek het ’n kollega gebel om te hoor of sy nie van ’n organisasie weet wat hom sal inneem nie. Maar soos ek verstaan, is daar organisasie wat miskien kan help, maar daar is niemand wat hom kan kom oplaai en hom na ’n veilige hawe kan neem nie.
Ek sê altyd vir my kinders hulle moet eers in die kinders wat bedel se skoene staan voor hulle kan oordeel. Hy het nie gevra om daar te wees nie. Hy het nie gevra om alleen vir homself te sorg nie. Hy sal ook graag in ’n huis wil bly met mooi meubels en skool toe gaan en sport speel. Hy het nie hierdie lewe gekies nie, omstandighede het hom gedwing om so te leef. Dit is al wat hy ken.
Ons moet ons kinders al van vroeg af leer om empatie en simpatie met mense en hul omstandighede te toon. Hulle moet nie net hul harte verhard en maak of hulle niks raaksien nie.
“Empathy is. . . seeing with the eyes of another; listening with the ears of another and feeling with the heart of another.”
Al help hulle nie die persoon self nie, maar doen ten minste moeite om iemand wat bekwaam is te kry om die persoon te help.
How can a heart understand the pain of another heart and still do nothing?
Ons wêreld lyk vandag soos hy lyk omdat almal anderpad kyk. Niemand wil verantwoordelikheid neem nie. Die sienswyse van elke ou vir homself kom al hoe meer na vore.
“It’s the lack of empathy that makes it very easy for us to plunge into wars. It’s the lack of empathy that allows us to ignore the homeless on the streets.” – Barack Obama

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie