En daarom al die drama
En daarom al die drama

En daarom al die drama

Minette Brink
Minette Brink - Vrydagaand is die streeksfinaal van die ATKV-tienertoneelfees in Windhoek gehou.

Ek het gereeld hande saamgeslaan. Nie soseer uit beleefdheid aan die einde van elke show nie; oor die magdom talent in hierdie land.

Net jammer kultuur in hierdie symste land suig sedert die skepping verbete aan ‘n taai, kurkdroë agterspeen.

In teenstelling met die oorvloed geld, tyd en energie wat vir sport beskikbaar is.

Opvoedkunde het onder meer ten doel om ‘n mens vir die lewe voor te berei en as ‘n volwaardige lid van die samelewing te kan funksioneer.

Derhalwe moet kinders toegerus word met die gereedskap wat hulle in staat stel om sukses in die lewe te bereik. Hulle moet ook betekenisvolle en verrykende ervarings gegun word.

Drama doen ál hierdie en méér.

Toneelspeel leer ‘n kind om idees en emosies te interpreteer en oor te dra. Die leerling raak gevolglik al hoe meer gefokus én daar kom ‘n groter fisieke bewuswording. Met groter emosionele openlikheid kan die leerling haar- of homself makliker uitdruk en beter kommunikeer.

Met groeiende selfvertroue en eiewaarde begin die leerling besef dat haar talente waardevol is, dat hy ‘n positiewe bydrae nie net tot die dramagroep nie, maar ook die samelewing kan lewer.

Drama het die mag om elke mens se lewe positief te beïnvloed.

Die studie van dramatekste is die studie van die menslike aard. Dit help die student om die mens se opinie van homself sowel as die konstante veranderings in sy wêreld te verstaan.

Teatergeskiedenis verander voortdurend en brei die student se perspektief van die samelewing uit. Deur studente bloot te stel aan sosiale denkwyses en kwessies van die verlede word hulle bewus van die magtige invloed wat individuele oortuigings op die samelewing het.

Selfs die tegniese aspekte van die teater berei die student vir die lewe voor.

Die studie van teaterkuns en -ontwerp vereis nie net praktiese vaardigheid nie, maar ook die vermoë om deurlopend kreatief te wees. Die uitvoering van kreatiewe idees lei tot nog groter selfstandigheid en produktiwiteit.

‘n Produksie draai nie net om die akteurs nie. Sonder ‘n teks is daar nie ‘n show nie. Sonder ‘n regisseur dans jy op ‘n gevaarlike hoë koord sonder ‘n vangnet. Iemand moet ook in beheer wees van beligting, klank, rekwisiete, kostuums, grimering en verhoogbestuur. In baie gevalle, danksy die taai speen, behartig een leerling twee of meer van hierdie aspekte.

Deur die samestelling van ‘n produksie leer die student ook die belangrikheid van stiptelikheid, dissipline, spanwerk en organisasie. Gevolglik raak die student meer beslis en rasioneel wanneer dit kom by die oplos van probleme. ’n Sterk fondament word ook vir die ontwikkeling van leiereienskappe gelê.

Die effek van drama en teater op die student is langdurig en neem verskeie vorms aan.

Die ongeïnspireerde leerling, die kind wat sukkel om in te pas, die een wat blyk nie doelgerig te wees nie, en die pynlike skaam introvert baat almal by teateropleiding. Vir baie is die teater, net soos sport, ’n tydelike ontsnapping van dit wat pla – onder meer huislike probleme, armoede, groepsdruk, akademiese druk. Drama vereis uiterste dissipline en konsentrasie wat uitmergelend is op geestelike en fisieke vlak, net soos sport

Al die genoemde aspekte is ook beleggings in énige loopbaan in ander rigtings benewens drama.

Vertel dus asseblief vir my: Waarom en hoe lank nog moet kultuur bly skree van die dors?

Kommentaar

Republikein 2024-11-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 37° Rundu: 22° | 38° Eenhana: 21° | 37° Oshakati: 22° | 34° Ruacana: 19° | 37° Tsumeb: 25° | 37° Otjiwarongo: 21° | 36° Omaruru: 20° | 38° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 18° | 34° Henties Bay: 14° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 21° Rehoboth: 18° | 34° Mariental: 18° | 35° Keetmanshoop: 18° | 35° Aranos: 17° | 35° Lüderitz: 16° | 27° Ariamsvlei: 17° | 34° Oranjemund: 14° | 27° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 16° | 32° Lubumbashi: 16° | 33° Mbabane: 12° | 25° Maseru: 7° | 24° Antananarivo: 17° | 27° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 19° | 30° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 24° Durban: 14° | 23° Johannesburg: 13° | 27° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 30° Harare: 17° | 23° #REF! #REF!