En toe maak God 'n boer. . .

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer



“God boer ook.

“Nie met rooi Brahmane en ­Damaraskaap nie, maar met genade.

“In 'n tyd wat boere moet aanhou planne maak, is God se genade vir elkeen van ons meer as genoeg.

“Maar ons moet verder kyk as die stofwolke en die klippe en die leë damme. Ons moet verder kyk as dit en 'n God sien wat ons in genade vashou.”

Dít was gister ds. Johan ­Serfontein se treffende­ ­bood­skap van troos en bemoediging toe die landbou- en skougemeenskap­ gisteroggend by die veekrale­ by die Windhoek Skouterrein­ afskeid geneem het van die legendariese­ en ­geliefde boer en teler mnr. Daantjie­ “Weerlig” van Vuuren van Kamanjab.

Hy is verlede Maandag in die ­ouderdom van 74 jaar aan 'n hartaanval oorlede.

Die gedenkdiens is by die bekende buitelug-“restaurant”, Orpheus Plaasprodukte, gehou waar sy oudste seun, Danie (jnr.) en sy skoondogter, Carina, jaarliks tydens die Windhoek- en ander landbouskoue etes bedien.

Tydens gister se geleentheid is ook afskeid geneem van tannie Anna ­Pretorius, Carina se ouma en die moeder van 'n ewe bekende boer en teler, mnr. Nico Pretorius van Omitara. Sy is Dinsdag dood.

Van Vuuren word Sondag om 10:00 in die familiebegraafplaas op sy plaas Weerlig begrawe.

Gister se gedenkdiens is gereël om sy “skoufamilie” wat jaar in en jaar uit saam met hom skoue bygewoon het, geleentheid te gee om vir oulaas hulde te bring.

Serfontein, wat in die tyd toe hy op Outjo predikant 'n hegte vriend van die Van Vuurens geword het, se opskrif vir sy preek was: “En toe maak God 'n boer. . .”

Hy het uit Genesis 1 voorgelees en gesê die oudste beroep in die wêreld is dié van 'n boer, want die mens se opdrag was om die aarde te bewoon, bewerk en te bewaar. Hy sê dit is juis omdat boere naby aan die grond en die aarde leef, dat hulle na aan die Here leef.

Mnr. Siggi von Lüttwitz, voorsitter van die beeskomitee, het in 'n huldeblyk onthou hoe baie hy en Van Vuuren oor die 40 jaar wat hulle mekaar geken het, saam gelag, geskerts en grappe vertel het.

Hy sê toe hulle mekaar tien dae gelede by die Grootfontein Skou raakloop, het Van Vuuren vir hom gesê: “Siggi, dié jaar het aan my gevat.”

Hy moes die dag van sy dood weer van sy stoetdiere skiet.

“Ons kon so baie oor dissipline, respek en omgee by hom leer,” het Von Lüttwitz gesê.

Die Windhoek Nywerheids- en Landbouskou begin vandag, en is vanjaar net ses dae lank.

Weens die droogte sal byna die helfte minder stoetdiere as normaalweg ten toon gestel word.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!