Engelse klub gee Conradie sy kans
Met ’n universiteitsgraad agter sy naam is sy hande los om die wêreld van professionele rugby te verower.
Andrew Poolman - Die Doncaster Knights het raakgevat deur die handtekening van die geharde Namibiese flank Wian Conradie vir een seisoen vas te knoop.
Doncaster speel in die Engelse Kampioenskap, net onder die premierliga, waar dié span in die 2018-’19 seisoen tiende uit twaalf spanne geëindig het. Dieselfde klub het tevore ook die Namibiese senter Lesley Klim vir ’n suksesvolle tydperk vanaf FNB Unam in Windhoek gekontrakteer, voordat Klim later na die Walliese Pro14-streekspan Ospreys aanbeweeg het.
Conradie (25) se paaie kan dus binnekort kruis met sy ou WHS-skoolmaat Janco Venter, wat reeds in dieselfde liga vir die sterker Jersey Reds (vierde in die vorige seisoen) speel.
Conradie en Venter was ná hul skooldae ook by verskillende spanne in die Varsity-bekerreeks uitgeblink, onderskeidelik vir die Universiteit van Johannesburg en Stellenbosch.
By UJ was Conradie verlede jaar die algehele wenner vir die Universiteit se voorste student-atleet – ’n toekenning vir die student wat op beide sport- en akademiese gebied presteer. As finalejaar bourekenaarstudent het hy ná vier seisoene vanjaar aanbeweeg om in die Varsity-beker ook die Pukke te verteenwoordig.
Conradie sê: “My broer trou komende naweek, so ek woon net dit by en dan moet ek op 12-13 November by Doncaster aansluit sodra die visums gereed is.
“Ek het net eers vir een seisoen geteken met die oogpunt om daarna verder te verleng of dan moontlik na ’n ander klub of ’n groter klub aan te beweeg.
“My plan was nog altyd om eers my graad te kry. Aan die einde van vanjaar se Varsitybeker was dit my doelwit om in die Wêreldbeker te speel en dan van daar af oorsee te gaan rugby speel. Te danke aan my agent het dié geleentheid gekom ná die tweede wedstryd by die Wêreldbeker (teen die Springbokke).
“Ek is eers klaar gestudeer vir nou; ek gaan net fokus op rugby vir die res van my loopbaan.”
JAPAN 2020
Op internasionale vlak het Conradie hom ook reeds behoorlik met fisieke inklimspel tuis gemaak sedert sy jeugdige debuut as 20-jarige teen Kenia in 2015 in Windhoek.
Tot nou het hy 19 toetse agter die blad, waarvan 14 in die beginspan was. In 2015 was hy een van die jongstes in die Wêreldbekerspan na Engeland, maar het met 24 duikslae teen Argentinië in Leicester gewys tot watter werkvermoë hy in staat is.
Vanjaar was hy ’n gevestigde staatmaker vir die toernooi in Japan. Conradie is nie vir die wedstryd teen die All Blacks gebruik nie, maar het teen Italië met elf duikslae (die meeste vir beide spanne) en 46 meter vordering met die agt keer wat hy die bal gedra het, sy stempel afgedruk.
Hy is ook vir die laaste halfuur teen die Springbokke opgestuur in ’n wedstryd waarin Rassie Erasmus se kampioenspan hulle met 57-3 oordonder het.
Die kansellering van Namibië se WB-wedstryd nommer vier, teen Kanada, was ’n gulde geleentheid wat vanweë die gevolge van tifoon Hagibis verlore gegaan het.
Afrigter Phil Davies het juis sy spelersgroep só bestuur dat hy ná die groot botsings teen Italië, Suid-Afrika en Nieu-Seeland steeds bykans ’n voltallige fikse groep gehad het om uit te kies.
Almal was oorgehaal om teen die wisselvallige Kanada met ’n almagtige poging te verseker dat Namibië sy geskiedkundige eerste wedstryd by ’n Wêreldbeker wen, maar vanweë die tifoon is die wedstryd die vorige aand afgelas.
Namibiese spelers is dus ook ontneem van ’n kans om indruk op enige talentjagters vanoor die wêreld te maak. Die Kanada-wedstryd was boonop die dag voor Conradie se 25ste verjaarsdag geskeduleer.
“Die Wêreldbeker was ’n besonderse ervaring. Ek het dit vreeslik baie geniet,” sê hy.
“Japan self is ’n bitter mooi land, skoon en wat vir my die beste was, is hoe hulle funksioneer; alles gebeur net stiptelik en perfek.
“Ons doelwit was wel om teen Kanada te wen, maar dit het toe nie so uitgewerk nie. Ek is dankbaar vir die geleentheid wat ek gehad het om op so ’n vlak te kan speel; ek glo dis al hoe ’n mens sal beter word, as jy teen die wêreld se bestes kan speel.
“Ek dink die toernooi was ’n goeie ervaring vir Namibië. Ons het goeie rugby gespeel en ek is seker ons het ’n paar mense verras gedurende die tye wat ons goed was. Ek glo dit sou nog meer beteken het indien ons die laaste wedstryd teen Kanada kon gespeel en gewen het.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie