Enkele donderbuie tot Noordooste beperk

Dit blyk die weerstelsels wat tans oor suider-Afrika heers, gaan vandeesweek nog hitte bring, maar ook reën vir die Zambezi- en Kavangostreek.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Die Namibiese weerkantoor voorspel enkele donderbuie in die Noordooste vir vandag tesame met gedeeltelike bewolkte en baie warm weer.

Die ||Karasstreek en die Weste sal sonnig en ook baie warm wees, terwyl die kus bewolkte en koel weer met reënbuie aan die sentrale en suidelike kus te wagte kan wees.

Die weerkantoor se hoofweervoorspeller, mnr. Odillo Kgobetsi, het laat weet dat droë weer na verwagting vir die res van die week in die weste en suide van Namibië sal heers.

“Reën word wel vandeesweek in die Zambezi- en Kavangostreek verwag. Dit sal steeds baie warm in Namibië wees,” het hy gewaarsku.

Die kus se koel en reënerige weer sal na verwagting nog die week voortduur, met vog wat in die Namibwoestyn kan voorkom,” het Kgobetsi gesê.

Die weerkantoor voorspel dat môre se maksimum temperature op verskeie plekke in die land by 36 °C sal draai, met temperature van tot 40 °C wat vir Donderdag vir onder meer Ondangwa voorspel word.

Intussen blyk dit Tsumeb het gister goeie reën gehad. Cynric Roger Fisch het op die Facebookblad Reën in Namibia geskryf die dorp is sopnat.

Sakaria Gumede Kandenge het laat weet op Oniipa, naby Ondangwa, reën dit ook.

STELSELS SAL VERTOEF

Weervoorspellers is van mening dat die laedrukstelsels wat tans oor Madagaskar en ‘n deel van Zambië, die noorde van Zimbabwe en Noord-Mosambiek geleë is, ‘n tyd lank daar sal vertoef en waarskynlik goeie reën vir hoofsaaklik noordelike Mosambiek, Noordoos-Zimbabwe, die ooste van Botswana en die suidooste van Angola sal bring.

Madagaskar kry tans ook swaar reën.

‘n Laedrukstelsel wat tans oor ‘n groot deel van Namibië en Suid-Afrika geleë is, sal ook na verwagting ‘n bietjie langer vertoef. Dienooreenkomstig sal droë, warm lug vanaf die weste oor die suide van Namibië en sentrale dele van die Kaap vloei.

Die stelsel blyk nie om enige noemenswaardige beloftes vir reën vir die oorgrote dele van Namibië in te hou nie.

KENNER OOR EL NIÑO

Intussen het Tony Barnston, hoofweervoorspeller van die IRI Earth Institute by die Columbia-universiteit, verduidelik dat seeoppervlaktemperature in die Stille Oseaan, soos verlede maand, steeds sowat 1 °C bogemiddeld is, wat gelyk is aan ‘n swak tot matige El Niño.

“Tog koppel atmosferiese toestande steeds nie, soos verlede maand, met die oseaan nie. Windpatrone in die boonste en laer vlakke asook die atmosferiese drukpatrone van die suidelike ossilasie-indeks is meer neutraal. Dit lyk glad nie soos ‘n El Niño-patroon nie.

“Die seeoppervlaktemperature doen dus al die ‘werk’ en die atmosfeer reageer nie. Dus het ons nie ‘n volle El Niño-gebeurtenis nie en daarom is die uitkykstatus steeds ‘n El Niño-wag.”

Barnston sê aan die ander kant hou modelle vol dat atmosferiese toestande sal koppel en ‘n El Niño sal vorm, al is dit laat. Dus voorspel hulle dat die warm seeoppervlaktemperature deur die somer sal voortduur en, merkwaardig, tot in ons herfs en selfs vroeë winter sal voortduur. Hy sê die modelle voorspel ook die gepaardgaande weersanomiliteite sal intree, wat met ‘n El Niño gepaardgaan.

“Dit plaas ons in die eienaardige situasie waar ons nie kan sê El Niño was hier nie, maar dit gee ons ‘n weervooruitsig wat baie soos ‘n El Niño-reën afwyking lyk - oral op die aardbol.

Hy het gesê dit sluit in dat sekere gebiede natter as normaalweg sal wees en ander droëer – soos Suider-Afrika, waar reënval ondergemiddeld is. Hy het bygevoeg dat dit, as daar na reënsyfers gekyk word, soos ‘n tipiese El Niño-weerpatroon lyk.

“Ons verwag dat atmosferiese toestande volgende maand met die warmer seeoppervlaktemperature sal koppel. Dan sal ons waarskynlik ‘n El Niño hê – ook wat die atmosfeer betref.

“Ek het dit ‘n maand ook gesê en ek dink nog steeds dat dit gaan gebeur. Maar dit maak mense huiwerig is om dit te glo. Ons sal moet wag en sien.

“Tot dan het ons ‘n El Niño-tipe weerpatroon wat vir die klimaat voorspel word – ongeag,” het Barnston gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!