Enkellopend en oukei
Yandi du Plessis
Ek het verlede week tong-in-die-kies gesê daar is ’n gemarginaliseerde groep wat dikwels misgekyk word: enkellopendes.
Ek het dit nie regtig op daardie oomblik ernstig bedoel nie, maar later het ek gedink daar steek tog ’n halwe waarheid in dié stelling.
Net vir duidelikheid: Vir baie mense (myself ingesluit), is dit beter om in ’n sekere stadium alleen te wees. Daar is niks fout om vir eers op jouself, jou loopbaan, jou familie, jou vriende, of selfs jou hond of jou vetplante te fokus nie. Dit is ’n besluit waaroor niemand jou kan laat sleg voel nie. Maar tog is daar ’n onmiskenbare stigma wat met enkellopendheid (singleness) gepaard gaan.
Eerstens word jy alewig by familie-byeenkomste, by reünies, voor die kerkdiens, by begrafnisse, ensovoorts gevra: “En waar is die kêrel”, “Wanneer bring jy die kêrel huis toe” of selfs “Wanneer kan jou ouers ’n kleinkind verwag?” Ek verstaan ook nie eintlik hoekom mense altyd vir jou vra hoekom jy nog single is nie, asof jy ’n antwoord gereed moet hê.
Tweedens is almal en hulle tannies alewig besig om jou met ander mense te probeer afpaar of iemand aan jou te probeer afsmeer. Jou vriende se vriende, jou ouma se buurvrou en die tannie met die biltongstalletjie by die skou wil jou aan hierdie “lieflike outjie/meisie” voorstel, want “julle twee sal té oulik saam wees”.
Ek waardeer die idee dat mense wil help, maar moet asseblief nie vir my ’n blinde afspraak reël nie, veral nie op werksaande nie. Hiérdie 23-jarige met heup-en knieprobleme wil na werk net rustig by die huis ’n glas wyn drink en dalk Friends vir die 100ste keer van voor af begin kyk. Ek weet nie hoe voel my eweknieë in hierdie geval nie, maar ek is nie na ’n lang werksdag lus om ’n ongemaklike gesprek met ’n wildvreemdeling oorkant my te voer en later halfhartig aan te bied om die helfte van die rekening te betaal nie (want eerlikwaar, ek het nie geld nie, en die arme siel seker ook nie).
Toe-oogafsprake is beslis nie mý glas wyn nie.
Dan is daar die individue wie se vriendekringe basies nét uit paartjies bestaan. Om alewig die derde, vyfde, sewende of hoeveelste wiel te wees, is ongemaklik vir jou én al die duifies. Hulle voel sleg om jou onthalwe, en nooi later eerder nie die enkellopende drommel saam nie. Wat heeltemal verstaanbaar is.
Ek dink nie ouer mense besef hoe moeilik die dating game geraak het nie. Mens sou dink al die sosialemediaplatforms en die Tinder-verskynsel, sal die proses vergemaklik, maar in my persoonlike opinie het dit alles soveel meer ingewikkeld gemaak. Lojaliteit kan ook nie meer as vanselfsprekend aanvaar word nie, want daar is net soveel meer opsies vir almal. Hoekom sal jy ’n appel eet as jy vrugteslaai kan kry? Of iets in daardie lyn. Hulle sê altyd daar’s baie visse in die see, maar die dating pool is deesdae meer besoedel as die Gangesrivier.
Tog is ek nie ’n pessimis as dit by hartsake kom nie, glo dit of nie. Ek trek beslis nie my neus op vir die idee van liefde en verhoudings nie. Maar om so iets te dwing voor die tyd reg is, kan rampspoedige gevolge vir al die betrokke partye hê. Kyk maar hoe hoog is die egskeidingsyfer deesdae, of maak die Huisgenoot op basies enige plek oop. In my opinie, gebeur elke ding op sy tyd.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie