Entstof maak nie dood
Entstof maak nie dood

Entstof maak nie dood

'n Ouerpaar kon nie bewys dat nalatigheid deur verpleegpersoneel by die Okuryangava-kliniek 'n rol gespeel het in die dood van hul baba nie.
Yandi Du Plessis
Marc Springer – 'n Ouerpaar wie se kind meer as vyf jaar gelede dood is ná 'n inenting by die Okuryangava-kliniek in Katutura, het misluk in hul poging om die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste vir N$718 500 in skadevergoeding te dagvaar.

Regter Hannelie Prinsloo het verlede week beslis die eisers, me. Martha Shikongo en haar man, mnr. Denny Mwanyekange, kon nie bewys daar was 'n definitiewe verband tussen die dood van hul baba Paulus op 23 Januarie 2015, en die inenting wat hy enkele ure tevore ontvang het nie.

Die regter het verder bevind “die moeder het begrip gehad van die noodsaaklikheid, risiko's en voordele wat daaraan verbonde was om haar kind teen hepatitis B in te ent”.

Met verwysing na deskundige ­getuienis wat tydens die verhoor deur dr. Steffen Bau gelewer is, het Prinsloo beslis 'n moont­like reaksie op die inenting teen ­hepatitis B “is so ­kenmerkend dat geen gesondheid­sorgverskaffer dit sou kon voorsien of skuldig kon wees aan nala­tigheid as hy of sy versuim het om 'n ouer in kennis te stel van die uiters seldsame risiko's nie”.



'WEENS BLOEDING DOOD'

Volgens Bau was dit meer waarskynlik dat Paulus aan bloeding weens 'n vitamien K-tekort dood is.

Gevolglik het Prinsloo beslis die oorsaak van sy dood was 'n onderliggende mediese toestand, eerder as die inenting. Die eisers kon dus nie bewys dat nalatigheid, wat hul eis om vergoeding sou regverdig, 'n rol gespeel het nie.

Volgens die eisers het die minderjarige onbedaarlik gehuil en na asem gesnak kort na hulle by die huis aangekom het nadat hy omstreeks 12:15 ingeënt is.

Hulle het ook gesê wit skuim en bloed het uit die baba se oë, neus en ore gekom voordat hy kort daarna dood is.

Hulle het die respondente wettiglik aanspreeklik gehou, omdat die verpleegpersoneel by die hospitaal na bewering nie daarin geslaag het om te verseker die toegediende ­entstowwe is veilig en sal geen newe-­effekte inhou vir of die dood kan ­veroorsaak van persone aan wie dit toegedien is nie.

Gevolglik het hulle vergoeding geëis vir emosionele en sielkundige skok en trauma wat veroorsaak is deur die dood van hul kind, sowel as vermoënskade, waar onder begrafniskoste en sielkundige berading, van altesaam N$718 500.

Me. Sharen Zenda van die Regshulpsentrum (LAC) het die eisers verteenwoordig terwyl me. Wensie Uakuramenua van die kantoor van die staatsprokureur namens die ­respondente verskyn het.

Die saak is soortgelyk aan ander hangende sake waar ouers dagvaar vir skadevergoeding weens die ­vermeende onregmatige dood van hul kinders wat glo veroorsaak is deur die verkeerdelike toediening van ­entstowwe by een van die land se staatshospitale.
[email protected]

(Foto ter illustrasie, Pixabay)

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!