Entstof teen malaria kry die groen lig
Entstof teen malaria kry die groen lig

Entstof teen malaria kry die groen lig

RTS,S of Mosquirix, vereis vier dosisse en verskaf sowat 30% beskerming teen ernstige malaria in kinders.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Die Wêreldgesondheidsorga­nisasie (WHO) het die uitrol van 'n malaria-entstof in Afrika voorgestel om kinders op die vasteland te beskerm. Dit is die eerste entstof wat vir 'n parasitiese siekte as deel van malaria-beheerprogramme goedgekeur is.

Namibië het 'n 97%-afname in malariagevalle tussen 2001 en 2011 gehad en het gehoop om dit teen 2020 uit te wis. Tans woon 72% van die totale bevolking van 2,46 miljoen in gebiede waar daar aktiewe oordrag is.

Tussen 2001 en 2011 het Namibië 'n afname van 98% in aangemelde gevalle van 735 510 tot 14 409 aangeteken. Tydens dieselfde tydperk het malariasterftes ook met 98% afgeneem van 1 747 tot 36, ver verby die land se nasionale doelwitte.

Volgens die Global Fund is 66 141 gevalle in 2017, 36 451 in 2018 en 3 404 in 2019 aangeteken. Verlede jaar het dit egter volgens statistieke van die ministerie van gesondheid en maat­skaplike dienste opgeskiet tot 12 507.

Die WHO het sy finansiële steun beloof om produksie en verspreiding van die entstof 'n hupstoot te gee. Die entstof teiken net die malaria-parasiet Plasmodium falciparum wat in Afrika voorkom. Die groen lig volg ná 'n loodsprojek wat in 2019 in drie Afrikalande – Ghana, Kenia en Malawi – afgeskop het en wat meer as 800 000 kinders betrek het.

Die entstof, RTS,S of Mosquirix, vereis vier dosisse en verskaf sowat 30% beskerming teen ernstige malaria in kinders.

RTS,S wat vir die eerste keer in 1980 ontwikkel is, bevat 'n stuk van 'n P. falciparum-proteïen wat verbind is met 'n proteïen van die hepatitis B-virus wat bygevoeg word om 'n sterker immuunreaksie uit te lok. Die entstof is ontwerp om die parasiet se vermoë om die lewer te besmet en daar volwassenheid te bereik, te beperk.

Die WHO het die Malaria Entstof-implementeringsprogram gevestig om twee jaar gelede die entstof aan kinders in sekere lande toe te dien.



'KOMPLEKSE SIEKTE'

Tussen 62% en 67% van geskikte kinders in die lande het die eerste drie dosisse ontvang. Die vierde dosis word 12 tot 18 maande ná die derde dosis toegedien.

GlaxoSmithKline, die vervaardiger van RTS,S, het intussen gesê dit sal die dosisse teen kosprys met 'n klein wins verkoop wat vir verdere navorsing gebruik sal word. Hoewel die beraamde US$5 per dosis 'n winskopie in vergelyking met baie ander ent­stowwe is wat in ryk lande gebruik word, beteken dit steeds lande moet oorweeg hoe die entstof pas in ander, goedkoper maniere om malaria te bekamp, sê me. Catherine Pitt van die Londen-skool vir higiëne en tropiese medisyne.

Mnr. Dyann Wirth, 'n malaria-navorser by Harvard-universiteit en voorsitter van die WHO se raadgewende groep vir malaria, het gemaan malaria is 'n komplekse siekte wat maniere ontwikkel het om die immuunstelsel te ontwyk. Dit maak entstofontwikkeling volgens Wirth veral uitdagend.

Die siekte is 'n primêre oorsaak van kindersiektes en -sterftes in Afrika suid van die Sahara, met meer as 260 000 kinders op die vasteland onder die ouderdom van vyf jaar wat jaarliks hieraan sterf.

– [email protected].

Bronne: Nature, WHO

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!