Entstof-uitrol in Erongo vorder 'relatief stadig'
Entstof-uitrol in Erongo vorder 'relatief stadig'

Entstof-uitrol in Erongo vorder 'relatief stadig'

Die goewerneur van die Erongostreek beoog om die aantal inentings wat daagliks toegedien word, aansienlik te verhoog.
Iréne-Mari van der Walt
Irene-Mari van der Walt op Swakopmund – Die goewerneur van die Erongostreek, mnr. Neville Andre, het aangekondig hy gaan die daaglikse inentingsdoelwit van 400 na 1 000 mense verhoog deur die Erongo-inentingsveldtog vir Covid-19 (EVCC) van stapel te stuur.

Die goewerneur het hom daarop toegespits om 68% van die Erongostreek (ongeveer 121 000 individue) in te ent, maar teen verlede Dinsdag het hy aangekondig dat slegs 1 938 mense in die Erongostreek ten volle ingeënt was.

“Die trae inentingsproses kan aan 'n aantal faktore toegeskryf word, soos onvoldoende mens­like hulpbronne, 'n skaarste aan entstowwe en verkeerde inligting,” het die goewerneur gesê.

Hy sê in die lig hiervan sal sosialemediaplatforms gereeld gemonitor word om fopnuus te bekamp.

Andre het ook kommer uitgespreek oor spesifiek die jonger ouderdomsgroepe wat nie ingeënt word nie.

Die kantoor van die goewerneur hoop om, in samewerking met die ministerie van gesondheid, nog 16 inentingspunte op te rig, asook een mobiele inentingspan na elke distrik in die streek te ontplooi.

Die doel van die mobiele spanne is om uit te reik na bejaardes en gestremdes wat nie fisies 'n ­inentingspunt kan besoek nie, sowel as diegene in verafgeleë gebiede.



MINISTERIE SE INSETTE

Mense wat positief vir Covid-19 getoets het, moet minstens 14 dae ná hul isolasietyd verstryk het, wag om ingeënt te word, het die ministerie van gesondheid aanbeveel. Dit geld vir beide die eerste en tweede dosisse.

Dit word nie aanbeveel dat 'n pasiënt terselfdertyd die griep- en Covid-19-entstowwe ontvang nie, en eerder 14 dae moet wag.

Mense met swak immuunstelsels en diegene wat met MIV/vigs leef, word aanbeveel om teen Covid-19 ingeënt te word, maar die ministerie sê daar is min inligting beskikbaar oor die doeltreffendheid van hierdie ent­stowwe onder dié pasiënte.

Die ministerie beveel aan dat hulle persoonlik met gesondheidspraktisyns konsulteer om individuele risikobeoordeling moontlik te maak.

Mense met onderliggende gesondheidsprobleme word ook aangeraai om ingeënt te word, maar diegene wat met akute leukemie en limfoom gediagnoseer is en aggressiewe chemoterapie met neutropenie (lae neutrofiele, 'n soort witbloedselle) ondergaan, moet eerder nie ingeënt word totdat die probleem opgelos is nie.

Die ministerie beveel ook aan dat swanger vroue ingeënt word, maar dat mens daarop moet let dat daar tans beperkte inligting beskikbaar is oor die veiligheid van Covid-19-entstowwe vir swanger vroue. Weens die werking van entstowwe meen die ministerie egter dit is veilig vir vroue wat borsvoed om ingeënt te word.

Die ministerie beveel aan dat mense van 60 jaar en ouer ingeënt word, maar het daarop gewys dat individuele risikobeoordeling tot hul voordeel sal wees.

Volgens die ministerie is hoë bloeddruk nie 'n rede om nié teen Covid-19 ingeënt te word nie.

Die ministerie sê hy is bewus van die kommer wat uitgespreek is oor trombositopenie sindroom (SFTS) in verband met die Johnson & Johnson-entstof, maar voeg by die risiko's is min. Gesondheidsorgwerkers moet hierdie risiko's met diegene wat ingeënt word bespreek.

Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste is dit eens met die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) dat die beskikbare entstowwe 'n mate van immuniteit bied, selfs in die lig van die Beta- en Delta-variante van Covid-19.

 - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!