Epangelo u2018boelieu2019 Erongo-boere
Epangelo u2018boelieu2019 Erongo-boere

Epangelo ‘boelie’ Erongo-boere

Boere is gefrustreerd met die proses om die groen lig vir prospektering op hul grond te kry, sonder dat daar voldoende met hulle as rolspelers gekonsulteer word.
Henriette Lamprecht
Adam Hartman op Swakopmund

Boere in Erongo wie se grond deur die regering se mynmaatskappy, Epangelo Mining Company, vir prospektering geteiken word, voel “geboelie” om hul grond vir die prospektering van uraan beskikbaar te stel.

“Om teen sulke entiteite in die gepaste forum en tyd op te staan, is duur en baie tydrowend. Hoe beskerm boere en eienaars van eiendomme in gevalle soos hierdie hulself teen ’n staatsbeheerde entiteit met onbeperkte mag en finansiële hulpbronne,” het ’n boer gevra wat verkies om anoniem te bly.

Republikein het verskeie boere om kommentaar genader oor ’n aansoek deur Epangelo vroeër vanjaar vir ’n omgewingsimpakstudie (EIA) vir die voorgestelde eksplorasie vir ’n eksklusiewe prospekteerlisensie (EPL 7547) in Erongo wat ses plase in die Karibib-kiesafdeling dek.

Lewende hawe en wild word op die plase aangehou, terwyl dit ook toeriste deur middel van trofeejag en argeologiese roetes lok.

Prospektering op die plase gaan nie net die dierelewe negatief beïnvloed nie, maar ook die waarde van toerismebestemmings verlaag. Dit sal op sy beurt lei tot misdade soos vandalisme, diefstal van diere en argeologiese items sowel as stropery.

“Ons sal nie net enige persoon toelaat om op ons eiendom te kom nie,” sê Valereis Geldenhuys van Jakkalswater.

Volgens die geraakte boere het Epangelo vroeër vanjaar deur middel van ’n e-pos na hulle uitgereik en gesê die maatskappy beoog om op hul grond te prospekteer.

‘n Openbare konsultasie is gevolglik in Junie in Swakopmund gehou. Die boere het nie lank daarna daarop aangedring om te weet wie die eienaars van Epangelo was toe hulle besef dit word deur die staat besit.

GCS Water Environmental Engineering Namibia wat Epangelo aangestel het om die EIA uit te voer, het later ’n lys van Epangelo se eienaarskap gestuur, met ’n kort kennisgewing vir nog ’n openbare konsultasie wat vir die einde van November geskeduleer was.

Die name sluit in M. Amunjhete (hoofinspekteur van myne) en H. Itamba (adjunkdirekteur), beide verteenwoordigers van die ministerie van myne en energie.

Volgens die geraakte boere kon hulle nie die vergadering verlede maand bywoon nie, omdat dit maandeinde was. ’n Versoek is ook aan GCS gerig om die vergadering tot aanstaande jaar te verskuif. ’n Antwoord in die verband is van Stephanie Strauss, die bestuurder van GCS in Namibië, ontvang.

“Aangesien julle aangedui het geen van die boere beskikbaar is vir die vergadering nie, kan dit nie voortgaan nie en is dit dus gekanselleer. Ons EIA-proses moet egter weens tydlyne voortgaan en daarom moet ons die verslag finaliseer en ’n voorlegging aan die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme (MEFT) doen met die inligting en evaluering wat tot op hede gedoen is. Julle sal ’n verdere geleentheid kry om op die verslag kommentaar te lewer wanneer dit aan die MEFT voorgelê is,” het Strauss geskryf.

Deel van die proses van mynregte is die voorlegging van ’n EIA en omgewingbestuursplanne wat deur die omgewingsministerie goedgekeur word. Prospekterings- en ontginningslisensies word deur die ministerie van myne en energie goedgekeur.

Finansierders van die projekte is of semistaatsinstellings of die private sektor. Die eienaar van die ondergrondse minerale regte is die regering, terwyl die boer en grondeienaars die regte bo die grond besit.

Volgens ’n boer is die lys van Epangelo se eienaarskap ’n duidelike aanduiding die ministerie van myne is meer betrokke as wat gepubliseer is en dit dui op ’n konflik van belange aan die kant van die ministerie.

“Hoe kan dit regverdig wees as in ag geneem word die aansoeke vir EPL’s word aan die ministerie gemaak wat dit goedkeur en die hoë posisies van lede in Epangelo wat deur die staat besit word? Hoe kan daar nie ’n duidelike en tasbare konflik van belange wees nie,” het die geraakte boer gevra.

Volgens die boere is die ministerie nie net die regter nie, maar ook die jurie en laksman.

PRIVATE INDIVIDUE

“Private individue soos boere wat geraak word, word geboelie, oordonder en gedwing in situasies soos hierdie met geen reg tot optrede nie. In die geval wanneer hulle wel kan optree, is dit meer as dikwels ’n tydrowende en duur proses wat vir jare in die howe uitgerek word totdat die private individue dit nie meer langer kan betwis nie. Dit lei daartoe dat entiteite kry wat hulle van die begin af wou hê.”

Die geraakte boere voel aangesien hulle sonder ’n proses van openbare deelname gestoomroller word, hulle as belastingbetalers indirek ’n projek sal finansier waartoe hulle nooit ingestem het nie.

Buiten die ontwrigting in omstandighede op plase en die negatiewe impak op besighede en die waarde van eiendom, is boere ook bekommerd dié wat betrokke is in die voornemende mynaktiwiteite, die laaste druppel water uit ’n reeds droogtegeteisterde gebied sal tap.

“Ons sal direk moet betrokke wees. Enigeen wat toegang wil hê, sal moet betaal en sal nie toegelaat word om ons water te gebruik nie, dis te skaars,” het een boer gesê.

Die enigste beskikbare opsie vir die boere is om te wag vir die verslag om gepubliseer te word en te hoop genoeg tyd word vir kommentaar en besware gegee.

’n Konsultant wat namens die boere aangestel is om hul saak te besleg, is na bewering ook nie in die konsultante van Epangelo se korrespondensie aan boere ingesluit nie.

“Wanneer die verslag openbaar gemaak word, sal ons ons besware indien. Een belangrike kwessie is dat die proses gebrekkig is, omdat geen behoorlike konsultasieproses met ons as primêre rolspelers gehou is nie,” het ’n boer gesê.

“Ons is bereid om te luister, maar dan moet daar ’n behoorlike proses wees. Hulle kan dit nie net deurdruk sonder dié belangrike komponent nie.”

Epangelo se sekretaresse, Rebekka Shamaila, was by navraag verras om van die kwessie te hoor en gesê sy was nie bewus dat boere kommer oor die projek gehad het nie.

Volgens haar is die lys van name van die semistaatsinstelling se eienaarskap ten minste vyf jaar oud en beide Amunjhete en Itamba se termyne het reeds in 2017 geëindig. Volgens haar is daar niemand op die lys van eienaarskap wat verteenwoordigers van die ministerie van myne is nie.

“Ons sal dit moet ondersoek. Epangelo volg vasgestelde prosedures wanneer dit by die konsultasieproses kom. As ’n staatsonderneming wil ons nie in konflik met boere of ander rolspelers kom nie. Ons sal moet ondersoek instel hoe GCS ons verteenwoordig het vir boere om tot die gevolgtrekking te kom dat hulle geboelie word. Ons sal dit met hulle moet bespreek en uitvind wat die kwessies is,” het sy gesê.

Strauss het op haar beurt gesê sy wil nie kommentaar lewer totdat sy met haar werkgewers gepraat het nie. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!