Epic opnuut onvergeetlik

Bergfietsry
Andrew Poolman
Ná die teleurstelling van 2020 toe die Cape Epic bergfietstoer die aand voor sy wegspring vanweë die uitbreek van Covid-19 gekanselleer is, was die afgelope week se hervatting 'n goeie suksesstorie vir die Namibiese deelnemers.

Die 24-jarige Tristan de Lange, met sy Imbuko Giant-spanmaat Marco Joubert (RSA), het deurgaans aan hul plek in die algehele toptien vasgeklou en het uiteindelik in die negende posisie klaargemaak.

Die ikoniese resies van agt dae, 620 kilometer en 15 350 meter van vertikale klimdele deur rotsagtige terrein, sanderige plaaspaaie en enkelspoorpaadjies deur ongerepte fynbos word allerweë as een van die sport se taaiste fisieke toetse beskou. Modderige dele en warm dagtemperature het verder bygedra dat sake in geen stadium maklik was nie.

Die eerste dag se voorskof van 20 km wat by die Universiteit van Kaapstad weggespring het, het gedien om die wegspringposisie te bepaal vir die volgende dag se eerste skof van 98 kilometer wat by Ceres begin en geëindig het. Die daaropvolgende dae se afstande was 96 km, 91 km, 73 km, 84 km, 81 km en 68 km.

De Lange en Joubert was tweede van die elite manspanne wat net uit Afrika-ryers saamgestel was. Hul totale tyd vir die week was 26 ure 48 minute, in vergelyking met die algehele wenspan Joran Sarrou (Frankryk) en Matthew Beers (RSA) wat hul skofte in 24 ure 17 minute afgelê het. Sarrou en Beers het geskiedenis gemaak as die eerste span wat van begin tot einde die geel voorlopertrui behou het.

Op die lys vir Afrika-vrouespanne het die 27-jarige Vera Looser (Namibië) en haar Suid-Afrikaanse spanmaat Sarah Hill (Liv-Lapierre Racing) tweede klaargemaak.

Dié kombinasie wat mekaar enkele dae tevore die eerste keer ontmoet het, was algeheel sesde uit die elf elite vrouespanne (33 ure 36 minute; algeheel 68ste). Die sesde skof was hul beste, toe hulle die vierde vrouespan oor die eindstreep was.

Die onblusbare 51-jarige Mannie Heymans het saam met Carsten Bresser van Duitsland (Absa Grand Masters) derde in die mans se grootmeestersklas klaargemaak, in 31 ure 29 minute. In die algehele resies was dié paar 'n heel skaflike 32ste.

Heymans was in 2004 'n lid van die heel eerste Cape Epic se wenspan, saam met Karl Platt van Duitsland.

Van die manspanne was Martin Freyer (Namibië) en Brian Brummer (RSA) vir die Gutta Boyz II-span in die 37ste posisie (32 ure 47 minute).

Swakopmund se Sander-broers Jurgen en Stefan (Team Sander Struck) was 64ste van die manspanne in 36 ure 19 minute (algeheel 108ste).

Die twee meesters Leonard Martin en Tobie Gerber se eindtyd van 47 ure 33 minute het hulle 60ste in hul klas en algeheel 222ste geplaas.

Talle van Suid-Afrika se groot uitgetrede sportfigure soos Joel Stransky, Jeremy Thomson, Gary Kirsten en Kyle Brown het vanjaar aan die Cape Epic deelgeneem, wat soos altyd inskrywings van oor die wêreld heen gelok het.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!