Erasmus dalk binnekort by Bokke
Rugby
Hendrik Cronjé
Die slaggate wat Rassie Erasmus se terugkeer na Suid-Afrika kan verongeluk om op die hoogste vlak by die Springbokke se afrigting betrokke te wees, raak ál minder.
Erasmus se werkgewer in Ierland, die klub Munster, sal glo nie sy bedanking as direkteur van rugby veto nie, sou die voormalige Springbokkaptein 'n aanbod van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie aanvaar om in sy ou pos as direkteur van rugby terug te keer.
Met Saru wat binnekort moet sê oor sy ry-of-bly-besluit wat Allister Coetzee as hoofafrigter van die Springbokke betref, is daar ál meer aanduidings dat Erasmus die kandidaat is wat besluitnemers in Suid-Afrikaanse rugby as die geskikste beskou om Springbokrugby se aansien te herstel. Erasmus se kontrak met Munster laat toe dat hy van sy verpligtinge onthef word indien hy die pos van nasionale hoofafrigter aangebied word en dit sou aanvaar.
Ook word reeds bespiegel dat die voormalige Ierse losskakel Ronan O'Gara by Erasmus as afrigter van Munster sal oorneem, sou hy die klub verlaat. O'Gara is tans een van Racing 92 se agterlynafrigters, maar hy het as speler 'n lang verbintenis met dié Ierse klub, waar hy tussen 1997 en 2013 altesaam 240 wedstryde gespeel en 'n rekord 2 625 punte aangeteken het.
Diegene wat Erasmus terug in Suid-Afrika wil kry met die taak om die Bokke hul aura as 'n toonaangewende en gevreesde toetsspan terug te gee, sal gevolglik nie dié twee hindernis hoef te vrees nie. Nog 'n slaggat wat uit die pad is, is Erasmus se gewilligheid om terug te keer en by die Springbokke betrokke te raak. Die aanduidings is dat hy gretig is en “positief voel” oor 'n omkeerplan vir die sukkelende nasionale span.
Die een kinkel is egter dat Erasmus nie Munster sal verlaat voor die einde van die klub se seisoen in Junie nie. Saru se eerste oogmerk is glo om Erasmus terug in Suid-Afrika te kry – óf in sy ou pos as rugbyhoof óf as Bok-hoofafrigter.
As rugbyhoof sal hy alle seggenskap oor die Bokke hê, wat hom onregstreeks ook in beheer sal stel van die Springbokke se afrigters. Met Erasmus wat Ierland eers in Junie kan verlaat, is dit 'n opsie dat Coetzee eers as afrigter sal aanbly vir die Bokke se tuistoetse in Junie teen Frankryk.
Erasmus kan hom dan óf as hoofafrigter vervang óf as rugbyhoof die funksie van hoofafrigter oorneem, met Coetzee steeds in sy pos. 'n Kernaspek van Erasmus se verwagte terugkeer en betrokkenheid by die Springbokke is sy voorwaardes. Hy vereis 'n vyfjaarkontrak en enkele ander waarborge sal deur Erasmus aan Saru gestel word.
Dít sluit in dat 'n duidelike omkeerplan vir Bokrugby aan die hele land bekend gemaak word en dat hy ook nie sonder sy verdedigingsafrigter Jacques Nienaber sal terugkeer nie. Saru het sedert Erasmus se vertrek na Munster nog nie 'n voltydse aanstelling in sy pos as direkteur van rugby gemaak nie. Charles Wessels neem deeltyds in dié hoedanigheid waar.
Die moontlikheid bestaan ook dat Wessels behou sal word, met Erasmus wat dadelik ten koste van Coetzee as hoofafrigter aangestel word. Erasmus sal in só 'n geval waarskynlik net aan Saru se president, Mark Alexander, verslag doen.
Word Erasmus wel as die direkteur van rugby aangestel, sal Coetzee onder hom val. Nienaber se pos as die verdedigingsafrigter van Saru se hoëprestasie-eenheid – wat beteken dat hy weer by die Bokke, Junior Bokke en ander nasionale spanne betrokke sal wees – is ook nog vakant.
Buiten dat die pos van Springbokafrigter onder Saru se vergrootglas is, moet die nuwe breier van die Junior Springbokke ook aangestel word. Saru se uitvoerende komitee sal volgende week, kort voordat die Junior Bokke hul eerste oefenkampe hou, moet besluit wie van Chean Roux of Jonathan Mokuena die jonges gaan brei.
Coetzee se Boktoekoms kan dus 'n groot invloed hê oor wie dié pos kry. Intussen word op hoë vlak besin oor die moontlikheid om vir Johan Ackermann, die afrigter van die Leeus, in die Bokbestuurspan plek te maak.
Die moontlikheid word genoem dat hy selfs in Matt Proudfoot, wat deur Coetzee van die Kobelco Steelers in Japan weggelok is, se plek aangestel kan word. Ackermann se naam word ook as 'n sterk aanspraakmaker genoem om die Bokhoofafrigter te word, sou Coetzee ná die Franse toetse gepos word en Erasmus nie terugkeer nie.
- Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie