Erasmus haal agt CCD-kolwers uit
Erasmus haal agt CCD-kolwers uit

Erasmus haal agt CCD-kolwers uit

Ná afloop van naweek 2 hou WHS Old Boys die voortou in albei formate van die kompetisie.
Andrew Poolman
Andrew Poolman



Gerhard Erasmus, kaptein van die nasionale Eagles, het Saterdag munt geslaan uit gunstige toestande toe hy 'n uitmuntende agt paaltjies in 'n eendagwedstryd vir sy klubspan WHS Old Boys teen CCD Tigers geneem het.

“Ek dink die kolfblad het baie gedraai vanweë die hoeveelheid krieket wat die afgelope tyd daarop gespeel is, insluitend skolewedstryde.

“CCD (se kaptein, Pikky ya France) het 'n goeie loot gewen en toe hulle 40/0 was, was ons 'n bietjie agter die spel. Uiteindelik dink ek die druk wat ons draaiboulers toegepas het, het bietjie te veel geraak,” het Erasmus agterna oor sy merkwaardige 8/39 in 9.4 boulbeurte gesê.

WHS Old Boys se afrigter, Gareth Cloete, was ook vol lof vir die draaiboulers, met Erasmus aan die stuur en Mauritius Ngupita (2/37 in 10) ook goed op stryk.

“Gerhard het sy spoed en lengte slim afgewissel en sy goeie veldplasings het ook tot sy paaltjies bygedra,” het Cloete gesê.

Aan die einde van naweek 2 van Krieket Namibië se premierliga is WHS Old Boys onoorwonne in beide formate (eendagkrieket en T20), met seges teen Trustco United en nou ook CCD Tigers.

Saterdag het Old Boys met tien paaltjies gewen, deur CCD Tigers vir 108 uit te boul. Die gasheerspan se aanvangspaar Stephen Baard (b.v.p. vir 26) en Ramon Wilmot (14), kaptein Pikky ya France (11) en Nicol Loftie-Eaton (22) is almal deur Erasmus se draaiballe uitoorlê.

WHS Old Boys se aanvangskolwers Zane Green (52 nie uit nie van 55 balle, 7x4 1x6) en Wimpie Viljoen (54 nie uit nie van 37 balle, 6x4 1x6) het verseker dat die blou span met tien paaltjies wen.

• Op die Sparta-veld in Walvisbaai het die MR24/7 Welwitschias wenloos gebly toe hulle met 57 lopies teen Trustco United verloor het.

Die Windhoekers onder kaptein­skap van Lo-han Louwrens het eerste gekolf en het 141 almal uit opgestel, met die hoofrolspeler Tino Chiwara met 44 lopies van 55 balle. Die aanvangspaar Hendrik van der Walt en Chris Freeman het elkeen 23 behaal.

Renier Bosman was die beste van die Welwitschias-boulers vir die dag, met 'n hoogs ekonomiese 3/13 in 10 boulbeurte.

Die kusspan het in hul lopiejaagtog die spoor byster geraak en is vir net 84 uitgeboul. Bosman se 20 lopies was die meeste, terwyl sy kaptein Michael van Lingen 17 bygedra het.

United se suksesvolle boulers was Shaun Fouché (4/11 in 8 boulbeurte), Lo-han Louwrens (2/11 in 5.3) en Petrus Burger (2/26 in 10).



T20-PREMIERLIGA

Die T20-liga word samelopend gespeel, met dieselfde spanne wat Son­dagoggende hiervoor 'n herontmoeting het.

By die CCD-veld het WHS Old Boys gister danksy Zane Green (24), Malan Kruger (25), Gerhard Erasmus (23) en Divan la Cock (31) 'n totaal van 139/8 bereik.

Dit was uiteindelik genoeg vir 'n sege met 19 lopies, nadat hulle CCD vir 120 uitgeboul het. Stephen Baard (22 van 16 balle, 2x4 1x6) en Nicol Loftie-Eaton (20 van 17, 2x6) het aggressief ingeklim nadat Joshuan Julius vir 'n nulletjie uit is.

Pikky ya France (13 van 16 balle), Ramon Wilmot (27 van 20 balle, 2x4, 1x6) en Ben Burger (14) het die oranje span ook binne bereik probeer bring, maar die wenteiken het hulle ontwyk.

Elkeen van Old Boys se ses boulers het met minstens een paaltjie bygedra, met die room Craig Williams 2/26 in 3.4 boulbeurte) en veral Divan la Cock (2/16 in 4 bb).

• Op Walvisbaai het United sy twintig boulbeurte op 162/6 afgesluit – genoeg om die Welwitschias (90 almal uit) opnuut te klop.

Tino Chiwara was weer United se uitblinker met 67 lopies (55 balle) waarin hy vier grenshoue en twee sesse geslaan het. Sy sleutelvennootskap was met Lo-han Louwrens (50 van 27 balle, 7x4 2x6). Later het JW Visagie ook 'n bruikbare 21 (14 balle, 3x4) aangeteken.

Die kusspan het van die begin af gesukkel en hoewel Shalako Groenewald (27 van 22 balle) en William Lottering (25 van 36 balle) met 'n paar grenshoue aan die gang gekom het, is die ganse span vir net 90 uitgeboul.

Groenewald het vroeër ook met sy draaiballe goed gevaar (2/10 in twee boulbeurte). Van Lingen was ekonomies (1/18 in 4).

• Komende naweek se bepalings (eendagwedstryde Saterdag, T20 Sondag): Welwitschias tuis teen CCD Tigers; Samsung FNB Wanderers tuis teen Trustco United.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!