Erdewerk beeld seisoene van verandering uit

Plaaslike pottebakkers stal uit
Yandi Du Plessis
Die Project Room-galery se laaste uitstalling van die jaar open eerskomende Saterdag.

Seasons in Clay is 'n projek deur die Pottebakkersvereniging van Namibië (PAN), 'n niewinsgewende organisasie wat ten doel het om 'n liefde vir die kuns van erdewerk en keramiek aan te wakker en dit verder as 'n kunsvorm te bevorder.

PAN benader dié doelwitte deur gereelde uitstallings te hou, nuusbriewe uit te stuur en werkwinkels aan te bied.

Die naam van die uitstalling, Seasons in Clay, is uit verskeie voorstelle deur PAN-lede gekies.

Seisoene verwys in die opsig nie noodwendig net na herfs, winter, lente en somer nie. Dit kan ook verwys na stadiums van ontwikkeling, groei en verandering.

Die woord is redelik gepas vir die pottebakkersproses aangesien klei deur verskeie stadiums moet gaan voordat dit uitgestal kan word. Om nie eens te praat van 'n ongeluk tydens die proses nie, al is dit net 'n krakie of 'n glansfout.

PAN het 'n tradisie om elke tweede jaar uitstallings, met spesifieke temas, aan te bied, afwisselend met hulle biënnale-uitstalling.

Sommige titels van vorige uitstallings sluit in Passages of Time, Forces of Nature en Desert Vibrations. PAN het hul eerste uitstalling in Oktober 1989, getiteld Cats & Candlesticks, by die Weavers Nest in Windhoek aangebied.

Die doel om temas aan hierdie uitstallings toe te ken, is nie om die kreatiwiteit van pottebakkers te beperk nie, maar eerder om hulle te lei en uit te daag.

“Aangesien ons tema-uitstallings meer intiem as die biënnale is, is die uitstalruimtes dikwels ook kleiner, en die tema bied dus 'n soort riglyn vir die beplanning van die uitstalling,” lui 'n verklaring wat gesamentlik deur The Project Room en PAN uitgereik is.

“Tydens die samestelling van 'n groepuitstalling is dit belangrik die werke moet met mekaar 'praat'. Aangesien die werke uniek en verskillend is, net soos die skeppers daarvan, moet die uitstalling in sy geheel 'n soort verhaal vertel, die kyker op 'n reis lei en nie net soos 'n deurmekaarspul van erdewerke lyk nie.

“Aangesien hierdie jaar ongewone seisoene vir almal ingehou het, hoop ons jy geniet die uitstalling wat wys hoe PAN-lede húlle ongewone seisoene deur klei uitgebeeld het.”

Seasons in Clay open komende Saterdag om 10:00. Die uitstalling kan tot 19 Desember besoek word.

Die Project Room-galery is in 32 Jennerstraat in Windhoek-Wes geleë en is oop vanaf Dinsdae tot Saterdae tussen 10:00 en 13:00.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!