'Ergste uur van Trump se presidentskap'
'Ergste uur van Trump se presidentskap'

'Ergste uur van Trump se presidentskap'

Robert Mueller se ondersoek oor die Russe se inmenging in die verkiesing sit druk op Trump en kan katastrofies vir hom wees, maar die skulderkenning deur Cohen is wat hom die seerste maak.
"Die ergste uur van Trump se presidentskap het pas gebeur."

Dit is hoe CNN dit beskryf het nadat Paul Manafort, wat in 2016 aan die hoof gestaan het van Trump se presidensiële veldtog, Woensdag skuldig bevind is op agt aanklagte van onder meer belasting- en bank-bedrog as deel van ’n ondersoek na Rusland se inmenging in die Amerikaanse presidentsverkiesing.

Min of meer op dieselfde tyd het Michael Cohen, Trump se voormalige regsverteenwoordiger, in ’n federale hof in New York skuld beken op aanklag dat hy regulasies oor die finansiering van politieke veldtogte oortree het.

Hy het erken dat hy twee vroue, wat aangevoer het dat hulle verhoudings met Trump gehad het, omgekoop het om die inligting stil te hou.

Hoewel Cohen nie die federale kandidaat wat hy beskerm het by die naam genoem het nie, wys alle vingers duidelik na Trump.

Trump het Woensdag op Twitter die Manafort-saak as ’n “heksejag beskryf” en gesê die owerhede het ’n 12 jaar oue belastingsaak opgegrawe om druk op hom te plaas.

Anders as Cohen, het Manafort egter nie “gebreek” nie.

Volgens die BBC het die Amerikaanse president vroeër getwiet dat Cohen allerhande stories versin. “As enigiemand op soek is na goeie regshulp sal ek hul aanraai om nie van Michael Cohen se dienste gebruik te maak nie,” het hy getwiet.

Trump het ook Woensdag op sosiale media gesê sy voormalige regsverteenwoordiger het skuld beken op aanklagte wat nie as misdade beskou kan word nie.

Robert Mueller se ondersoek oor die Russe se inmenging in die verkiesing sit druk op Trump en kan katastrofies vir hom wees, maar die skulderkenning deur Cohen is wat hom die seerste maak.

Cohen het erken dat hy die pornster Stormy Daniels en die voormalige Playboy-model Karen McDougal omgekoop het om stil te bly oor hul beweerde verhoudings jare gelede met Trump.

GEEN KENNIS VAN TRANSAKSIE

Cohen het aanvanklik gesê hy het Daniels uit sy eie sak betaal en dat Trump geen kennis van die transaksie gehad het nie. Die regsman het egter Dinsdag, volgens CNN ’n ander deuntjie gesing toe hy in die hof verskyn.

Cohen erken dat hy die betalings en die bron uit die openbare oog wou hou “in opdrag van ’n kandidaat van die federale kantoor”.

Dié sinnetjie wat Cohen in die hof geuiter het, kan enorme probleme beteken vir Trump wat in April oop en bloot in die media ontken het dat hy weet van enige betaling aan Daniels.

Cohen se skulderkenning beteken dat Trump prontuit gelieg het. Die president word ook gekritiseer omdat hy Manafort, wat ’n belangrike rol in sy verkiesingsveldtog gespeel, aangestel het.

Cohen het twee maande voor die verkiesing ’n gesprek met Trump opgeneem waarin die regte vir ’n storie oor McDougal en sy verhouding bespreek is.

Trump het doelbewus bewerings oor sy private lewe uit die openbare oog gehou tydens sy veldtog om die president van VSA te word, ’n amp wat hy aanvaar het 11 dae nadat Daniels omgekoop is.

Al dié dinge het Trump en sy binnekring volgens CNN die laaste paar dae slapelose nagte besorg. Daar word voorspel dat wat in die volgende paar ure en dae gebeur, die politieke terrein in Amerika onherroeplik kan verander. Trump en sy regspan sal sonder twyfel behoorlik moet wal gooi en verduidelik hoekom die president daarop aangedring het dat hy niks weet van enige betaling van Cohen aan Daniels nie.

Nog ’n brandende kwessie is waar die Republikeine staan? Gaan die party hul president verdedig?

* Dit is onbekend wanneer die Mueller-verslag bekend gemaak gaan word, maar Trump het nou genoeg probleme om hom besig te hou. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer