'Ergste verby' vir SA ekonomie, glo SARB
'Ergste verby' vir SA ekonomie, glo SARB

'Ergste verby' vir SA ekonomie, glo SARB

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank glo die buurland se dae van negatiewe groei is vir eers verby en dat die tweede kwartaal se syfers positief sal wees.
Elvira Wood - Die Reserwebank (SARB) glo die ergste is verby vir die Suid-Afrikaanse ekonomie nadat dit in 2016 die swakste vertoning sedert die resessie tydens die wêreldwye finansiële krisis gehad het.

Die ekonomie het in 2016 met net 0,3% gegroei en in die laaste kwartaal van 2016 en die eerste kwartaal van 2017 op 'n kwartaalgrondslag gekrimp, wat die land in 'n tegniese resessie plaas.

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het Vrydag op die bank se jaarvergadering gesê die bank het verwag die vierde kwartaal van 2016 sou die laagtepunt van die siklus wees, maar die kwartaal-tot-kwartaal-inkrimping van 0,7% in die eerste kwartaal het hom verras.

“Ten spyte hiervan glo ons dat die ergste agter ons is en dat groei in die tweede helfte positief sal wees.

“Ons het egter, soos ons reeds ná die onlangse vergadering van die monetêrebeleidskomitee (MBK) gesê het, die groeiverwagtinge vir die jaar afwaarts aangepas na net 0,5% vir vanjaar, met groei van 1,3% in 2018 en 1,5% in 2019.”

Hy waarsku dat dié groeivlakke te laag is om werk te skep.

Oor inflasie sê Kganyago hoewel die Reserwebank tot onlangs verwag het dat inflasie nader aan die boonste perk van die inflasieteikenband van 3% tot 6% sou wees, is dié verwagting ook nou afwaarts aangepas.

“Ons verwag 'n gemiddelde inflasiesyfer van 5,3% vir vanjaar en dan onderskeidelik 4,9% en 5,2% vir die volgende twee jaar.”

Die gemiddelde verwagte koers vir die volgende drie jaar is onder 5%.



Rentekoers

Kganyago wou Vrydag nie die aap uit die mou laat oor of die rentekoers in September weer gaan daal nie.

“Wag en kyk,” was sy antwoord op die vraag of Suid-Afrikaners nóg goeie nuus in September, wanneer die bank se MBK weer vergader, kan verwag.

Die bank het in Julie verras toe hy die repokoers met 25 basispunte tot 6,75% verlaag het.

“Die bank is altyd die draer van goeie nuus,” het Kganyago egter geskerts.

“Suid-Afrikaners kry al van die begin van die jaar af goeie nuus, veral dié maand.”

Kganyago het weer eens bevestig dat die bank voortgaan met sy hofsaak teen die openbare beskermer (OB) om haar bevindings oor die hulp wat hy destyds aan 'n voorganger van Absa gegee het, te laat hersien.

Die saak word op 2 Augustus in die hooggeregshof in Pretoria aangehoor.

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die OB, het onlangs aanbeveel dat die parlement die Reserwebank se mandaat wysig.

Sy het aanbeveel dat die Reserwebank eerder op ekonomiese groei en transformasie fokus as op die beskerming van die rand (wat neerkom op inflasiebeheer).

Kganyago sê hy sal volgende week as deel van sy voorlegging aan die parlement die rol en die mandaat van die Reserwebank uiteensit en verduidelik hoe hy op die OB se aanbeveling reageer. Hy sal verder die nuutste ekonomiese vooruitsig uiteensit, asook die bank se jaarverslag voorlê. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!