Erindi: Chinese het niu00e9 aanbod gemaak
Erindi: Chinese het niu00e9 aanbod gemaak

Erindi: Chinese het nié aanbod gemaak

Die wildreservaat se eienaars sal oorweeg om geld vir sekere gemeenskapsprogramme beskikbaar te stel, mits so ‘n versoek van die regering af kom en die saak teen Donderdag afgehandel kan word.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Die eienaars van die Erindi Private Wildreservaat het nie ‘n koopaanbod van enige Chinese burgers ontvang nie.

Mnr. Sisa Namandje, Erindi se regsverteenwoordiger, het gister gerugte ontken dat Erindi aan Chinese verkoop gaan word, maar nie gesê of ‘n voornemende koper bestaan, en of enige kooptransaksie onderweg is nie.

Dae voor die regering en Erindi se eienaars ‘n skikkingsooreenkoms in die hofstryd oor die hangende kooptransaksie van dié reusewildplaas van 65 000 ha kan aangaan, het Namandje gesê die Regstellende Herposisioneringsbeweging (AR) se eise vir die ooreenkoms sal in ag geneem word – mits ‘n versoek van die regering af kom.

Namandje het gesê hulle onderhandel slegs met die regering as ‘n party in die voortslepende saak.

“Soos jy weet, is AR se eise aan die regering gestel.

“My kliënt kan, as dit deur die regering versoek word, oorweeg om geld beskikbaar te stel wat in gemeenskaps- en regstellende aksie-programme belê kan word. Dit is mits dit alles op of vóór 28 Maart 2019 afgehandel kan word.

“Dit is in ooreenstemming met die president se versoek aan die private sektor om die regering te help in die stryd teen armoede en ongelykheid,” het Namandje gesê.

Hoërhofregter Thomas Masuku het die saak in November verlede jaar op versoek van die betrokke partye na 28 Maart vanjaar vir skikkingsonderhandelinge uitgestel.

Namandje het gister aan Republikein gesê omdat hierdie onderhandelinge in die konteks van ‘n voortslepende hofgeding plaasvind, is dit onvanpas om nou openbare aankondigings te maak.

“Daar is niks nuuts aan ons onderhandelinge met die regering nie. Dit gaan voort binne die tydsraamwerk soos op 15 November 2018 in die hof uiteengesit.

“As die partye, aan die ander kant, die dispuut tussen hulle wil uitklaar, sal dit met ‘n skikkingsooreenkoms in die hof gedoen word – net soos in ander sake,” het hy gesê.

AR-EISE

Dié reaksie volg nadat die AR se leier, mnr. Job Amupanda, op Onafhanklikheidsdag in ‘n brief aan die minister van grondhervorming, mnr. Utoni Nujoma en Erindi se eienaar, mnr. Paul Joubert, verskillende eise gemaak het wat hulle wil hê deel van die skikkingsooreenkoms tussen die partye moet vorm.

Indien Erindi verkoop word, eis die AR onder onder meer dat die kopers of verkopers in die transaksie ‘n plaas binne ‘n radius van 50 km van Windhoek moet koop om ‘n “jeugvoorstad” te skep, wat 2 500 huise kan huisves.

Verder word geëis dat N$10 miljoen beskikbaar gestel word om 300 erwe by Goreangab te diens, asook om die leë wooneenhede in Otjomuise toegang tot munisipale dienste te gee.

Nog eise sluit in dat miljoene vir behuising in bestaande informele nedersettings in Windhoek en Walvisbaai gegee moet word en dat vyf plase vir ‘n groep genaamd Youth in Agriculture for Economic Freedom (YIAEF) gekoop word en van N$2 miljoen se aanvangskapitaal voorsien moet word.

Amupanda sê dit is duidelik die regering staan weer eens terug en laat Namibiërs op dié manier aan die kortste ent trek.

Hy sê die AR lei af uit hofdokumente dat die regering nagelaat het om sekere regsprosesse na te kom, wat insluit dat ‘n sertifikaat vir die vrystelling reeds in 1999 toegeken is om die eiendom in die ope mark te verkoop.

“Die regering kan dié saak in die hof verloor as gevolg van die vrystellingsertifikaat of die laksheid in die administratiewe prosesse van die regering, spesifiek in dié ministerie,” het Amupanda geskryf.

Hy sê dit is die ministerie se plig om vir Namibiërs te veg en meen die ministerie, die minister se voorgangers, asook die regering het dié saak, asook verskeie ander sake swak hanteer, wat daartoe lei dat grond in buitelanders se hande bly of aan hulle “vir ‘n bord slaai” verkoop word.

AGTERGROND

Erindi het in Oktober 2016 reeds regstappe teen die ministerie van grondhervorming gedoen en die hof gevra om die minister van grondhervorming te beveel om alle waardasieverslae te oorhandig waarop die minister staatmaak om ’n aanbod te maak om Erindi teen N$265 miljoen te koop.

Die maatskappy het ook die hof gevra om te verklaar dat die minister sy grondwetlike plig versuim het om billik, redelik en in ooreenstemming met die wet te handel toe hy die aanbod gemaak het om Erindi teen N$265 miljoen te koop.

Erindi wou ook hê die hof moet die minister beveel om die maatskappy van 'n goedkeuringsbrief te voorsien om Erindi aan 'n nie-Namibiese koper te kan verkoop.

In 'n aangepaste aansoek wat in Junie 2017 by die hoërhof ingedien is, wou Erindi hê die hof moet die minister se aanbod ter syde stel om die maatskappy teen N$265 miljoen te koop.

Erindi het ook aansoek gedoen om 'n hofbevel wat verklaar 'n geskrewe ooreenkoms bestaan waarvolgens die regering die maatskappy teen N$1,92 miljard gekoop het.

Alternatiewelik versoek die maatskappy 'n hofbevel wat verklaar die minister het die maatskappy se aanbod om hom aan die regering te verkoop, van die hand gewys en dat Erindi nou 'n vrystellingsertifikaat het om die landbougrond in sy besit aan 'n private koper te verkoop.

Erindi wil ook hê die hof moet verklaar die reservaat is geregtig daarop om homself as 'n lopende saak te bemark en te verkoop - ook aan moontlike nie-Namibiese kopers.

Kommentaar

Republikein 2025-01-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 31° Rundu: 19° | 36° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 16° | 34° Tsumeb: 20° | 33° Otjiwarongo: 14° | 30° Omaruru: 15° | 30° Windhoek: 16° | 29° Gobabis: 20° | 35° Henties Bay: 17° | 20° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 20° Rehoboth: 18° | 33° Mariental: 20° | 35° Keetmanshoop: 17° | 34° Aranos: 20° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 16° | 34° Oranjemund: 13° | 23° Luanda: 26° | 28° Gaborone: 21° | 28° Lubumbashi: 17° | 23° Mbabane: 15° | 18° Maseru: 12° | 29° Antananarivo: 18° | 26° Lilongwe: 20° | 24° Maputo: 19° | 27° Windhoek: 16° | 29° Cape Town: 16° | 22° Durban: 17° | 23° Johannesburg: 15° | 25° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 18° | 29° Harare: 18° | 24° #REF! #REF!