Ernstige kommer oor geweld teen bejaardes

Toenemende veroudering van Namibië se bevolking gaan geweldige druk op die land plaas.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Tussen tussen vier en ses persent van bejaardes in Namibië het al ’n vorm van mishandeling tuis ervaar.

Bydraende faktore sluit armoede, ongelykheid, dwelmmisbruik en diepgewortelde gesindhede oor onder meer lyfstraf in.

Me. Rosa Kornfeld-Matte is ’n onafhanklike kenner verbonde aan die Verenigde Nasies (VN) wat fokus op bejaardes se menseregte.

Volgens haar bestaan ernstige kommer oor geweld teen en mishandeling van bejaardes, en veral bejaarde vroue, in Namibië. Boonop word dié tendens weinig bespreek, sê sy.

Kornfeld-Matte sê die bestaan van ’n stelsel vir maatskaplike toelaes is ’n voordeel, maar weens die MIV/vigs-pandemie is dié toelaag vir bejaardes dikwels die enigste vorm van inkomste in baie huishoudings.

“Veroudering in Namibië begin nou eers vorm aanneem. Die persentasie bejaardes het konstant op sewe persent gebly sedert onafhanklikwording," sê sy.

Volgens haar sal die bejaarde bevolking in sub-Sahara Afrika na verwagting vinniger begin groei as wat sedert 1950 in enige ander streek ervaar is.

“Die uitdagings van ’n verouderde samelewing is nie so ver in die toekoms nie,” het Kornfeld-Matte gewaarsku.

“Dit gaan lei na geweldige druk op die land se versorgingstelsel omdat ’n groeiende aantal bejaardes met chroniese siektes en gebreke gaan bly leef.”

Volgens haar het ’n lae bevolkingsdigtheid en toenemende verstedeliking die potensiaal om families se tradisionele versorgingstelsel weg te kalwe.

Daarom, sê Kornfeld-Matte, moet die regering nog meer in gesondheid en die infrastruktuur van sorgstelsels belê om ander opsies aan bejaardes in landelike gebiede te bied.

“Versorging is nie meer net ’n familie-aangeleentheid nie. Ek doen ’n beroep op die regering om sy pogings te verskerp om die wet op bejaardes te hersien sodat ten volle voorsiening gemaak kan word vir die regte, beskerming, versorging en welstand van bejaardes.”

Kornfeld-Matte het gesê Namibië het groot vordering gemaak sedert onafhanklikwording 27 jaar gelede.

Die land het sedertdien politieke stabiliteit en bestendige ekonomiese groei getoon, maar tog is Namibië steeds een van die mees ongelyke lande in die wêreld, sê sy.

“Armoedevlakke is sedert onafhanklikwording beduidend laer, maar bly steeds hoog vir sekere dele van die bevolking en in sekere streke. Bestaande ongelykhede wat inkomste en grondverdeling betref is nie aanvaarbaar nie. Meer moet en kan gedoen word om armoede onder bejaardes te beveg.”

Kornfeld-Matte sê die Harambee-welvaartsplan het groot potensiaal om bejaardes se regte te bevorder omdat dit spesifiek verwys na maatskaplike beskerming en sleutelareas soos honger, armoede en behuising takel.

"Terwyl toelae ’n groot positiewe invloed het op die verlaging van armoedevlakke, is dit steeds belangrik om te verseker dat dié hulp die beoogde begunstigdes bereik,” sê sy.

“Die Namibiese regering is verplig om dit as ’n prioriteit te takel.”

Kornfeld-Matte het Namibië geloof vir sy “politieke wil en visie” om die lewens van alle Namibiërs teen 2030 te verbeter en om hul menseregte te beskerm.

“Ek doen ’n beroep op die regering om elke moontlike poging aan te wend om die volledige beleid vir die regte, versorging en beskerming van bejaardes te finaliseer en te implementeer,” het Kornfeld-Matte gesê.

Sy het tydens haar besoek van 10 dae Windhoek, Katutura, Okahandja, Rundu, Silikunga en Mpungu in die Kavangostreek besoek.

Haar bevindinge sal in ’n verslag in September aan die VN se Menseregteraad voorgelê word.

Kommentaar

Republikein 2025-02-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer