Erongo dreig met regstappe
Erongo dreig met regstappe

Erongo dreig met regstappe

’n Dringende hofaansoek oor die jongste inperking staar die regering in die gesig.
Denver Kisting
Leandrea Louw en Denver Kisting – Talle inwoners meen die inperking wat sedert Maandagaand in die Erongostreek geld en op 22 Junie om middernag ten einde loop, sal dié streek se ekonomie in duie laat stort.

’n Groep inwoners van Erongo vra die regering om onmiddellik die fase 1-inperking op te hef en die streek terug te plaas in fase 3 soos die res van die land.

Sou die regering nie aan die versoek voldoen nie, sal hulle hul tot die hoërhof wend, sê die Erongo-inwoners.

Volgens ’n skrywe wat wyd in die sosiale media die ronde doen “het die regering duidelik geen rasionele plan”, naas inperkingsmaatreëls, wat die bestryding van die Covid-19-pandemie betref nie.

Die besorgde inwoners is van mening die noodtoestand het die Grondwet opgeskort, “maar die regering se optrede kan steeds in ’n hof getoets word”.

Die skrywers doen ’n beroep op kusinwoners om finansieel tot die veldtog by te dra wat na verwagting minstens N$175 000 kan beloop sou dit in die hof draai, lui die skrywe.

Nóg die minister van justisie, me. Yvonne Dausab, nóg die prokureur-generaal, mnr. Festus Mbandeka, het gisteroggend kennis gedra van die voorgenome stappe om die inperking in Erongo omgekeer te kry.

Teen die middaguur gister het ’n aanlyn versoekskrif wat hom ook op die opskorting van die inperking beroep, reeds 1 726 handtekeninge gehad.

Me. Sharmine Livingstone, ’n ander besigheidseienaar, sê hulle steun vir 90% van hul besigheid op toerisme.

Omdat die landsgrense tans gesluit is, is hulle dié besigheid kwyt, sê sy.

ALMAL VOEL NIE SO NIE

Intussen sê ’n kusinwoner gister: “Die mense het hulle tande geslyp vir totale vryheid, Walvisbaai ingesluit.”

Sy is egter van mening die regering se maatreëls word verkeerd verstaan. “Sommige inwoners dink die regering is daarop uit om ons te straf en dat dit net dom mense is wat dié besluite neem.”

’n Ander inwoner meen die maatreëls het ten doel “om almal veilig te hou. Ek verstaan besighede kry swaar, maar ek verstaan ook hoekom die inperkings gedoen word.”

Albei dié inwoners lewer kritieke dienste in Erongo.

Pres. Hage Geingob het Maandagmiddag by Staatshuis aangekondig die Erongostreek word vir twee weke – een inkubasietydperk – terug na fase 1 van die grendeltydperk geplaas.

Dít kom ná ’n toename in die aantal Covid-19-gevalle veral op Walvisbaai.

- [email protected]

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!