Erongo-goewerneur: Ekonomie moet voorkeur geniet
Erongo-goewerneur: Ekonomie moet voorkeur geniet

Erongo-goewerneur: Ekonomie moet voorkeur geniet

Adolf Kaure
Adolf Kaure – Die Erongostreek se goewerneur, mnr. Cleophas Mutjavikua, het sy streekrede onlangs op Swakopmund gelewer.

“Ekonomiese vooruitgang as een van die Harambee-welvaartsplan se steunpilare is die belangrikste een van ons streek. As ons na die agendas van ons dorpe kyk, oorheers onekonomiese bevordering en ons wil beklemtoon die meeste van ons energie moet op ekonomiese vooruitgang gemik wees,” het hy gesê.

Volgens hom is dié streek die ergste deur die droogte geraak.

“Erongo is meer dor – vandaar die erns van die saak. Derhalwe is tegnologiese hulp met waterontsouting en die besproeiing van die woestyn nie meer ’n luukse nie, maar ’n geval van ‘doen dit of sterf’.

“As ’n streek het ons baie landbou-aktiwiteite van stapel gestuur. Ons het byvoorbeeld Swakara-boerdery bekend gestel en talle tuinprojekte ondersteun, maar nou is dit tyd vir groot landbouprojekte.

“Ons moet op die see en woestyn staatmaak om agri-besighede en landelike ondernemings te ontwikkel en volhoubare ontwikkeling van landbou, vee, voer, druiwe, olywe, dadels, vrugte, groente en ander produkte te ondersteun,” het hy gesê.

“Die verkryging van die huidige ontsoutingsaanleg en die aanlê van ’n nuwe ontsoutingsaanleg sowel as die vestiging van landbouontwikkelingskorridors van die kus tot Omaruru is langtermyndoelwitte en moeilike take. Ons moet onsself geestelik op ’n langdurige stryd voorberei.”

Hy het bygevoeg elke streekinwoner moet hard werk om ekonomiese vooruitgang te verseker.

Mutjavikua het beklemtoon sy kantoor is besig om te werk om die derde en vierde pilare van die HPP te bereik, wat behuising en infrastruktuur behels.

’n Behuisingsplan is goedgekeur onder die Humanitêre Ekonomiese Toelaagooreenkoms om 61 000 huise op dorpe en nedersettings te bou.

Dit sluit 30 000 huise op Walvisbaai, 15 000 op Swakopmund, 3 500 op Arandis, 3 000 op Omaruru, 3 000 op Karibib, 3 000 op Hentiesbaai, 1 500 op Usakos, 700 op Uis, 500 op Okombahe, 500 op Omatjete en 300 op Otjimbingwe in.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer