Erongo paraat vir Covid-stryd

'n Toename in die aantal Covid-sterftes het 'n nadelige invloed op die beskikbare kapasiteit van begraafplase en lykshuise in die Erongostreek.
Sanet de Waal
Iréne-Mari van der Walt

en Adolf Kaure



Politieke leiers het weens die toename in Covid-19-gevalle en sterftes in die Erongostreek hul moue opgerol om dié streek se inwo­ners te bedien om die pandemie die hoof te bied.

Erongo het die eerste sterfte in die land aangeteken en was verlede jaar die episentrum, maar stel nou 'n voorbeeld aan die res van die land oor hoe om die pandemie te benader.



WALVISBAAI

Die burgemeester van Walvisbaai, mnr. Trevino Forbes, het gesê leiers moet 'n voorbeeld stel om die publiek aan te moedig om teen Covid-19 ingeënt te word.

“In al my toesprake noem ek die belangrikheid daarvan om ingeënt te word,” sê Forbes, wat in Mei Covid-19-positief was en herstel het.

Forbes het onlangs sy eerste Sino­pharm-spuit ontvang.

Hy sê die Walvisbaaise munisipaliteit stel ondersoek in om 'n gebeurlikheidsplan te implementeer wat oplossings vir die pandemie sal bied.

“Ek is optimisties die dorp het nog voldoende ruimte in hul begraafplase om die groeiende aantal Covid-sterftes te akkommodeer. Ons maak staat op inligting vanaf die onderskeie departemente en hulle het gesê ons hoef nie bekommerd te wees nie,” sê Forbes.

Tans is daar vyf goedgekeurde begraafplase op dié hawedorp waarvan een gesluit is omdat dit sy volle kapasiteit bereik het. Die ander drie is aktief en een is nie ontwikkel nie.

Die begraafplase sluit in Mulderene (oudste begraafplaas) in die nywerheidsgebied, Kuisebmond-begraafplaas, Walvisbaai-begraafplaas (in die dorp), Narraville-begraafplaas en die Nuwe Narraville-begraafplaas (onontwikkel).

Na raming het die Narraville-begraafplaas sowat twee tot drie jaar voordat dit vol sal wees, terwyl die tydperk vir Kuisebmond-begraafplaas vyf tot ses jaar is en vir die ­Walvisbaai-begraafplaas nog ses tot agt jaar.

“Dit is beramings gebaseer op begrafnisstatistiek en besprekings. Die pandemie het wel die projeksies verander omdat ons nou soms meer as vyf begrafnisse per naweek per begraafplaas sien,” het die skakelbeampte van die Walvisbaai-munisipaliteit, me. Caty Sheya, gesê.

Volgens haar volg die munisipaliteit 'n strategie om die groeiende aantal Covid-sterftes te hanteer.

“Die beplanning vir die Nuwe Narraville-begraafplaas is in 'n gevorderde stadium. Die omgewingsimpakstudie (EIA) vir dié beoogde begraafplaas is voltooi en die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme het 'n omgewingsklaringsertifikaat uitgereik.”

Volgens Sheya is die volgende stap die opmeting van Narraville Uitbreiding 8 waar die nuwe begraafplaas geleë is en om 'n kontrakteur aan te stel vir die aanlê van dienste.

“Slegs dan sal die ontwikkeling van onder meer 'n grensmuur en ablusiegeriewe begin. Wat die Kuisebmond-begraafplaas betref, sal 'n konsultant aangestel word om 'n EIA op te stel,” het Sheya gesê.

Op 'n vraag of die munisipaliteit 'n oplossing vir inwoners het wat aan Covid-19 gesterf het en veras wou word voordat hulle na ander streke vervoer word vir begrafnisse, het Forbes gesê dit is 'n aangeleentheid vir die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste.

“Dit is nie in ons hande nie.”



ARANDIS

Die burgemeester van Arandis, mnr. Erastus Kandetu, het gesê hy is nog nie ingeënt nie en wag vir die Johnson & Johnson-entstof om in die land aan te kom. Sy doelwit is glo om te sien dat almal in die stad ingeënt is.

“Ons deel pamflette aan inwoners uit om bewusmaking te doen, maar ons besef dit is hul eie keuse om die entstof te kry.”

Volgens hom is daar nie 'n begraafplaas op Arandis nie, omdat die dorp te klein is vir begrafnisse om daar plaas te vind.

“Mense kom hoofsaaklik na Arandis om te werk. As mense doodgaan, word hulle begrawe in hul onderskeie dorpe waar hulle vandaan kom.”



OMARURU

Omaruru se burgemeester, mnr. Roger Nautoro, sê die dorpsraad is met ver­skeie inisiatiewe besig om inwoners aan te moedig om ingeënt te word.

“Ons versprei strooibiljette in die sosiale media waardeur ons inwoners aanmoedig om ingeënt te word. Ons gebruik ook die saal in die informele nedersetting Ozondje as 'n inentingspunt,” het Nautoro gesê, wat onlangs sy eerste Sinopharm-spuit ontvang het.

Volgens hom is daar drie begraafplase in die dorp, naamlik die S.I. !Gobs-, Omaruru- en Ozondje-begraafplaas.

“Slegs die S.I. !Gobs-begraafplaas is vol. Meer ruimte word tans geskep. Die Omaruru-begraafplaas is ongeveer 75% vol, terwyl die Ozondje-begraafplaas na raming 50% bereik het.”

Volgens hom is 'n meer dringerde kwessie die beperkte kapasiteit van die lykshuis by die Omaruru-distrikshospitaal, wat slegs ses lyke op 'n slag kan hanteer.

“As meer mense sterf, gaan ons nie weet wat om te doen nie,” sê Nautoro.



SWAKOPMUND

Die streekraadslid vir die Swakopmund-kiesafdeling en voorsitter van die Erongostreekraad, me. Ciske Howard, het gesê haar kantoor beveg die Covid-19-pandemie deur die bewusmaking van inentings te verhoog.

“Ek het met 'n immuniseringsveldtog begin wat op maatskappye gemik is om seker te maak mense laat hulself inent,” het Howard gesê.

Howard is tans swanger en is daarom nog nie ingeënt nie, maar sy sal gaan sodra sy kan.

Sy het 'n groot hoeveelheid vitamiene en immuunversterkers bestel vir lede van die publiek wat nie bereid is om ingeënt te word nie.

Volgens die uitvoerende hoof van Swakopmund, mnr. Archie Benjamin, het die dorp vier begraafplase en die Swakopmund-begraafplaas in Kramersdorf is die enigste een wat amper vol is.

“Dit het ongeveer 90% bereik en kan nog ongeveer 400 grafte akkommodeer. Ons wil die grense uitbrei om die styging in Covid-19-sterftes te hanteer,” het hy gesê.

Die ander twee begraafplase, Mon­desa en Tamariskia, is albei 45% vol.



HENTIESBAAI

Mnr. Lewies Vermaak, die burgemeester van Hentiesbaai, moedig inwoners aan om die entstof te neem en is van mening die afname in Covid-sterftes in ander lande is genoegsame bewys dat die entstof betroubaar is.

“Daar is sommige mense wat as gevolg van bloedklonte en so oorlede is ná hul die entstof geneem het, maar dit is baie min. Miljoene mense is reeds ingeënt en baie min is dood en dit is baie minder as die aantal mense wat ons weens Covid-19 verloor het.

“Ek moedig almal aan om ingeënt te word, want dit is die enigste manier hoe ons kan keer dat Covid-19 ons mense neem,” het Vermaak gesê.

Hy het benadruk hoewel elkeen die reg het om te kies of hulle die entstof wil neem of nie, is dit die regte ding om te doen.

“Dit is steeds elkeen se keuse, maar dit gee jou 'n kans om Covid-19 te oorleef. In lande waar die meerderheid mense ingeënt is, is daar steeds Covid-19-gevalle, maar die aantal sterftes het drasties gedaal.”

Vermaak het onlangs begin saamwerk met Walvisbaai se burgemeester (Forbes) en ander burgemeesters in die streek – wat almal die AstraZeneca-entstof ontvang het.

Volgens Vermaak is die kapasiteit by die Hentiesbaai-begraafplaas nog nie 'n probleem nie.

“Ek sal sê dit is nog nie eens halfpad vol nie. Dit is die enigste begraafplaas wat ons het en dit is onlangs uitgebrei. Dit sal genoeg spasie hê vir die volgende drie tot vier jaar.”

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!