Erongo toe tot 22 Junie

Skokgolwe het gistermiddag deur die Erongostreek getrek oor die fase 1-grendelreëls wat weer geld.
Denver Kisting
Denver Kisting



Behalwe dié wat noodsaaklike of kritieke dienste lewer, is alle besighede in die Erongostreek se deure vandag toe.

Sedert middernag gisteraand tot om middernag op 22 Junie is die ganse Erongostreek opnuut ingeperk. Dit bring mee niemand mag in en uit dié streek reis nie.

Nuus oor die streekwye inperking kom ook nadat vier leerlinge verbonde aan die Swakopmund Sekondêre Skool gister vir Covid-19 getoets is. Dié seuns het hulle met griepsimptome by die Swakopmund-staats­hospitaal aangemeld. Hul uitslae word vandag verwag.

Sekere kategorieë is uitgesluit.

Dit sluit in:

• Gesondheidswerkers

• Noodpersoneel

• Veiligheidsdienste, insluitend private ondernemings

• Alle mense wat kos vervaardig, ­versprei en verskaf (­supermarkte en tuiswinkels), noodsaaklike regs-, bank- en finansiële dienste, die instandhouding van water, krag en telekommunikasiedienste, laboratorium- en ­veaartsenydienste, ­vullisverwydering, die verskaffing van mediese en higiëniese ­produkte, skoonmaakdienste, vliegtuig- en vrag­hantering en ingenieursdienste, ­parkopsigters, maatskaplike ­welstandsdienste, humanitêre werknemers en die media.

Mense sal net hul huise mag verlaat indien hulle onder bogenoemde ­uitsonderings tel.

Een persoon per huishouding sal ook die huis mag verlaat om 'n apteek, koswinkel, hof, bank of mediese instelling te besoek of drie mense wat op 'n slag saam oefen.

Mense word opnuut aangemoedig om van die huis af te werk.

Wat passasiers in voertuie betref, word 'n maksimum van drie mense in 'n voertuig met vier sitplekke toegelaat, en vier in 'n voertuig waarin sewe mense mag reis.

Voertuie met 'n groter drakapasiteit mag slegs die helfte van daardie aantal in 'n gegewe stadium in die voertuig hê.



Geen alkohol

Die verkoop van alkohol in die inperkingstydperk is weer eens in die Erongo­streek verbode.

Restaurante, koffiewinkels en kafees mag net vir wegneemetes oop wees.



Net tien mense

Geen saamtrek in die streek – troues en begrafnisse ingesluit – mag uit meer as tien mense per geleentheid bestaan nie.

Enigiemand wat nie by die inhok­reëls hou nie, word deur 'n boete van N$2 000 en/of inhegtenisneming in die gesig gestaar.

Mnr. Festus Mbandeka, die ­prokureur-generaal, het gesê leweransiers van noodsaaklike en ­kritieke dienste wat vantevore om permitte aansoek gedoen het, mag steeds dié dokumente gebruik omdat dit geldig is vir die duur van die ses maande lange noodtoestand. Sou 'n leweransier nie in besit wees van sodanige permit nie, mag hulle hul tot die ministerie van nywerheidsontwikkeling en handel wend, sê Mbandeka.

Die visepresident, mnr. Nangolo Mbumba, het gesê die ministerie van onderwys, kuns en kultuur sal lig werp op die lot van gr.11's en gr.12's in die streek wat weens die jongste inperking nie kan terugkeer skool toe nie.

Iréne-Mari van der Walt berig uit Swakopmund dat mnr. Heiko Dörgeloh, die voorsitter van Destination Swakopmund en 'n direkteur by About Africa-toere, vertel die jongste inperking “is 'n globale katastrofe” vir veral die toerismebedryf.

Hy vertel About Africa het in die afgelope week ongeveer N$2 miljoen se onkostes uiteengesit. “Dit is nou wel net twee weke se uitstel, maar waar ons nou al in Julie opbrengste op daardie onkostes sou sien, sal ons koffers nog vir 'n paar weke verlate lê.”

Dörgeloh glo dat die rippeleffek van twee weke se inperkings die bedryf vir ongeveer ses weke sal terugsit.

Sy kommer gaan uit aan kleiner besighede. “Hierdie implikasies is dodelik vir die mense en vir die ekonomie. Dink aan die rippeleffek, die kleinhandelaars waarby hotelle hul daaglikse benodigdhede sou kry moet nou sonder daardie inkomste, die straathandelaars wat aandenkings verkoop se inkomste staan stil – dit is 'n riller.

Leandrea Louw op Walvisbaai berig mnr. Andreas Maischatz, eienaar van die Casa Mia-hotel op Walvisbaai, het oomblikke voor die hele Erongostreek weer terug in fase 1 geplaas is, aan haar gesê as die inperking nie opgehef word nie, sal hy sy 32 werknemers moet afdank en die hotel moet sluit.

“Tans verdien ons N$2 000 per dag. Ons kan skaars daarvan leef. Ons reserwes is uitgeput; die bank kan ons nie help met 'n lening nie, so ons moet maar die houe vat. Al sou Walvisbaai na fase 3 opgehef word, sal dit maande duur voordat ons herstel. Ek is bekommerd oor my personeel wat sonder enige bron van inkomste gelaat sal word. Daar is niks meer oor nie.”

Die Dunes Mall-inkopiesentrum op Walvisbaai se bestuur sê net die winkels wat klassifiseer as nood­saaklike dienste mag oop wees, en dié wat wel permitte het. Die winkels se ure is ook gedurende fase 1 aangepas. “Almal moet maskers dra en moet hul name en telefoonnommers in 'n register by elke winkel aanteken, waar hul hande ook ontsmet word,” sê me. Lorette Koen.

Henriette Lamprecht berig twee vroue het positief vir Covid-19 getoets en bring Namibië se aantal bevestigde gevalle op 31 te staan. Volgens Shangula het die twee vroue, onderskeidelik 27 en 50 jaar, uit Indië tot in Suid-Afrika gereis. Van hier is hulle per bus via onderskeidelik die Nakop- en Ariamsvlei-grensposte na Namibië gereis. Met hul aankoms is die vroue in kwarantyn op Grünau geplaas waar hulle positief vir Covid-19 getoets het.

Met verwysing na geval 22, het Shangula gesê hy is by sy bewussyn en in 'n stabiele toestand. Tot op hede is 4 943 weefselmonsters getoets, waarvan 179 Sondag getoets is. Volgens hom is 470 kontakte geïdentifiseer en is 737 mense tans in kwarantyn in geriewe oraloor in die land.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer