Esau kry sy sin in hof
'n Ongeldige lasbrief het die strafregtelike vervolging van die gewese visseryeminister laat sneuwel.
Ronelle Rademeyer
In 'n naweek van hoë drama waarin die sleutelfigure in die internasionale viskwota-skandaal veronderstel was om agter tralies te beland, is die Teenkorrupsiekommisie (ACC) 'n bloedneus toegedien oor die wyse waarop die lasbriewe hiervoor bekom is.
Die gewese minister van visserye en mariene hulpbronne het vroeg gister met 'n stewige regspan bestaande uit advokate Tinashe Chibwana, Eliaser Nekwaya en mnr. Apollos Shimakeleni, die geldigheid van die lasbrief wat hom Saterdag agter tralies laat beland het, in die hoërhof betwis.
Mnr. Bernhard Esau, wat Saterdag omstreeks 13:00 by sy huis in Papegaaienweg in Hochlandpark deur die ACC in hegtenis geneem is, het nie gras onder sy voete laat groei om uit aanhouding vrygelaat te word nie.
Om 10:00 gister het sy regsverteenwoordigers voor regter Hannelie Prinsloo in 'n dringende aansoek gevra dat hy vrygelaat word aangesien die lasbrief wat deur die landdros van Windhoek uitgereik is, ongeldig is.
Daar is Saterdagmiddag by sy huis toegeslaan, asook by dié van mnr. Ricardo Gustavo, geskorste senior bestuurder by Investec Asset Management Namibia. Hy is na bewering ook deur verskeie viskwota-transaksies bevoordeel.
Die ACC het ook lasbriewe bekom vir die inhegtenisneming van Gustavo se voormalige besturende direkteur by Investec, mnr. James Hatuikulipi, die gewese minister van justisie, mnr. Sacky Shanghala, en Hatuikulipi se neef, mnr. Tamson “Fitty” Hatuikulipi. Laasgenoemde is getroud met Esau se dogter, Ndapandula.
Aangesien hulle nie in die land is nie, was net Esau en Gustavo teen gister agter tralies.
Regter Hannelie Prinsloo het aanvanklik die dringende aansoek tot Dinsdag uitgestel om die ses respondente, wat die landdros van Windhoek, die ACC, die hoof van die polisie en die aanklaer-generaal insluit, kans te gee om beantwoordende eedsverklarings in te dien.
Halfvier gistermiddag was die partye egter terug in hofsaal A in die hoërhof nadat die ACC in skikkingsonderhandelinge toegegee het die lasbrief moet ongeldig verklaar word. Prinsloo het dit 'n bevel van die hof gemaak en die saak van die hofrol verwyder.
NDEITUNGA VAAR UIT
Intussen het die hoof van die polisie, lt.genl. Sebastian Ndeitunga, minute ná die gebeure in die hof belowe die polisie sal “geen moeite ontsien” om die skuldiges in hierdie omvangryke korrupsieskandaal aan die pen te laat ry nie.
Hy het 'n beroep op Namibiërs gedoen om na vore te kom met inligting oor waar die partye wat na bewering omkoopgeld ontvang het, hul bates wegsteek. “Of dit in Namibië of in die buiteland is . . . Ons wil weet waar het hulle eiendomme en bankrekeninge,” het hy gesê.
Ndeitunga sê hoewel die ACC 'n sleutelrol in die ondersoek speel, help die polisie daarmee.
“Ek het 'n span toegeken om met die saak te help.”
Verder het die polisiebaas gesê “hoewel 'n mens soms deur die tegniese kwessies gefrustreer word, moet die voorskrifte van die wet gevolg word”.
Hy het benadruk “diegene wat openbare bronne plunder”, móét aan die pen ry en Namibië sal vir die wêreld wys dit word nie geduld nie.
#FISHROT-SKANDAAL
'n Internasionale ondersoek deur joernaliste by die Namibiese dagblad The Namibian, Al Jazeera, die dagblad Stundin in Ysland en Wikileaks het op 13 November onthul Esau en Shanghala was glo die sleutelfigure in 'n omvangryke omkoopskandaal in die plaaslike visbedryf.
Dit blyk uit die ondersoek die Yslandse vismaatskappy Samherji het na bewering omkoopgeld van sowat N$150 miljoen betaal waarby dié ministers, die Hatuikulipi's en Gustavo glo gebaat het.
Esau se regspan het aan die hof gesê die ACC ondersoek “bewerings van korrupsie, geldwassery en bedrog wat verband hou met die toekenning van viskwotas aan Namgomar Pesca (Namibia) Pty Ltd, asook verskeie ander mense en entiteite in Namibië, Ciprus, Ysland, Angola, Noorweë, Mauritius en die Verenigde Arabiese Emirate” teen hul kliënt.
Republikein was Saterdagmiddag by die leefstyllandgoed Finkenstein toe die ACC en polisie toegeslaan het.
Gustavo en (James) Hatuikulipi woon daar. Eersgenoemde was tuis, maar Hatuikulipi bevind hom volgens betroubare inligting tans in die Kaap.
Sy neef, Fitty, was ook nie by sy luukse huis in Gamsastraat in Kleine Kuppe toe die span daar opgedaag het om hom in hegtenis te neem nie.
Net so was daar ook geen teken van Shanghala by sy reuse- dubbelverdiepinghuis in Bergstraat in Klein Windhoek nie. Hy is glo óók in Kaapstad.
Die ACC het 'n paar keer voor die groot staalhekke by (James) Hatuikulipi se huis in Elandstraat 12 by Finkenstein die toeter geblaas, maar die hekke het toe gebly.
Die ACC en polisie was lank besig by Gustavo se huis in Wildebeesstraat 229. Beide Gustavo en Esau se bates is opgeskryf.
Die verwagting is 'n aansoek kragtens die wet op die voorkoming van georganiseerde misdaad (Poca) gaan later by die hoërhof ingedien word vir beslaglegging op hul bates.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie