Esau se kinders direkteure in Hatuikulipi-entiteit
Die gewese minister van visserye se kinders dien as direkteure van ’n maatskappy wat bande met nog ’n Fishrot-beskuldigde het.
Jemima Beukes
Twee van die voormalige minister van visserye, mnr. Bernard Esau, se kinders is as direkteure aangestel by ’n maatskappy waarin mnr. James Hatuikulipi belange het. Dít net enkele maande nadat die berugte oudminister laasgenoemde as raadsvoorsitter van die National Fishing Corporation of Namibia (Fishcor) aangestel het.
Esau se dogter, me. Ndapandula Hatuikulipi, en seun, mnr. Phillipus Esau, is op 14 April 2015 as direkteure van Gwaniilonga Investments CC aangestel, ’n maand nadat Esau Hatuikulipi op 19 Maart 2015 as Fishcor-raadsvoorsitter aangestel is. James Hatuikulipi word op die registrasiedokumente as die kontakpersoon genoem.
Die maatskappy, voorheen bekend as Karee 147, vorm deel van die Omholo Group.
Dokumente dui daarop dat die onderneming in bedrywe soos vervaardiging, verspreiding, konstruksie, invoer en uitvoer, eiendomsbelegging en boerdery werksaam is.
Republikein se susterkoerant, Namibian Sun, kon egter nie die vermoede bevestig dat daar ’n quid pro quo-verhouding (teenprestasie) was sover die aanstelling van die raad en direkteure betref nie.
Ndapandula is getroud met haar pa se Fishrot-medebeskuldigde, mnr. Tamson Hatuikulipi, wat James se neef is.
WARM PATAT
Namibian Sun verneem Gwaniilonga Investment se boekhouers, SGA Geoktrooieerde Rekenmeesters en Ouditeure, het die maatskappy gelos enkele dae voordat die Fishrot-skandaal wêreldwyd opslae gemaak het.
’n Amptenaar by dié ouditeursfirma, me. Karen Dauth, het telefonies bevestig hoewel sy nie die rede daarvoor kon deel nie, dit waarskynlik weens die direkteure se stilswye was.
SGA se bedanking as Gwaaniilonga Investments se ouditeursfirma het plaasgevind presies twee dae voor die eerste verslag oor die Fishrot-omkoopskandaal op 23 November 2019 deur Al Jazeera gepubliseer is.
“Ons was Gwaaniilonga Investments se amptelike ouditeursfirma, maar het op 21 November 2019 ons bedanking by die direkteure ingedien. Ons het dus nie die dokumente in ons besit vir verdere ondersoek nie,” het sy gesê.
‘BEKWAME’ MAN
James Hatuikulipi hou vol dat Esau se besluit om hom in September 2014 as raadsvoorsitter aan te stel, niks te make het met die feit dat hy Tamson se neef is nie.
“Ek is ’n baie professionele man. Ek is ook baie bekwaam. Ek ken baie mense met wie ek sakebande het. Hulle hoef nie my familie te wees nie. Selfs jý kan my familie wees, so oordeel my asseblief volgens my bekwaamheid en nie volgens my kennisse nie,” het hy kort ná sy aanstelling aan The Namibian gesê.
Beide Phillipus en Ndapandula het vrae na hul prokureur, mnr. Richard Metcalfe, verwys. Metcalfe is ook die regsverteenwoordiger vir hul pa en Tamson Hatuikulipi.
Ouditeursfirmas wat lêers hanteer het van maatskappye wat met die voortslepende Fishrot-verhoor verband hou, word onder groot druk geplaas te midde van eise dat teen hulle opgetree moet word omdat hulle nie verdagte transaksies aangemeld het nie.
In Januarie is berig dat Stier Vente Associates, eksterne ouditeurs van die staat se vismaatskappy Fishcor, die verdagte Fishrot-verwante transaksies eers op 21 Februarie 2020 by die Raad vir Openbare Rekenmeesters en Ouditeurs (PAAB) aangemeld het, nadat die skandaal reeds wyd in die plaaslike en internasionale media onthul is.
‘GEFORSEERDE’ AANTYGINGS
Metcalfe het verlede Woensdag aan Namibian Sun gesê die bewerings oor Phillipus en Ndapandula lyk “geforseerd”, maar wou nie kommentaar lewer nie omdat die saak tans voor die hof dien.
Hy het ook kritiek uitgespreek oor wat hy beskryf as die “voortdurende uitlek” van vertroulike dokumente uit die Teenkorrupsiekommissie (ACC) se dossier na mediahuise en op sosiale media, wat hy as dwarsboming van die gereg beskou.
“Hierdie uitlekkings stel ongelukkig die strafregtelike vervolging in gedrang en bring mee dat ons kliënte verhoor, skuldig bevind en veroordeel word nog voordat die verhoor behoorlik kan begin. Dit is in werklikheid ’n weerhouding van ons kliënte se grondwetlike reg om as onskuldig beskou te word totdat hulle deur ’n bekwame geregshof skuldig bevind is,” het hy gesê.
Hy het bygevoeg sy kliënte behou gevolglik hul reg voor om strafregtelike klagte in te dien teen die instansies wat die hele ACC-dossier uitgelek het.
Sodanig sal vandeesweek ’n strafregtelike klag oor die belemmering en/of verdraaiing van die gang van die gereg by die Namibiese polisie aanhangig gemaak word, het hy gesê.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie