Eskom kan SA tot rommelstatus laat tuimel
Eskom kan SA tot rommelstatus laat tuimel

Eskom kan SA tot rommelstatus laat tuimel

Die buurland se regering is traag om Eskom se skuld op hom te neem, want dit kan sy enigste oorblywende beleggingsgradering in die gedrang bring, meen ’n kenner.
Francois Williams – Al sou die regering ingee tot Eskom se versoek om R100 miljard van sy skuld oor te neem, sal Eskom binne 18 maande tot twee jaar terug in dieselfde posisie wees.

Die regering is traag om Eskom se skuld op hom te neem, want dit kan sy enigste oorblywende beleggingsgradering, wat hy by die kredietgraderingsagentskap Moody’s het, in gedrang bring, sê Chris Haffenden, besturende redakteur van Debtwire CEEMEA.

Debtwire CEEMEA is ’n gespesialiseerde nuusdiens wat inligting voorsien oor die skuldmarkte in Sentraal-Europa, die Midde-Ooste en Afrika.

Die Suid-Afrikaanse regering klou vas aan sy beleggingsgradering by Moody’s, maar dit is onafwendbaar dat hy dit een of ander tyd gaan verloor. As dit gebeur, sal die regering sukkel om nuwe lenings te kry en sal die lenings duurder wees. Hy wil nie hê dit moet gebeur nie en kou daarom langtand aan die idee om Eskom se skuld af te skryf of net so oor te neem.

Haffenden meen die regering kan ’n kombinasie van verskillende opsies volg. Dit kan die volgende insluit:

· Neem ’n deel van Eskom se skuld op sy eie balansstaat en ruil dit vir staatseffekte;

· Skryf van Eskom se skuld af;

· Betaal Eskom se rente op skuld uit die staatskas;

· Verhoog die staatswaarborg aan Eskom;

· Die regering kan ook besluit om Eskom te help deur aan te dring op ’n hoër kragtarief;

· Om ’n oplossing te vind vir die geld wat munisipaliteite en die inwoners van Soweto aan Eskom skuld;

· of om meer ekwiteit in Eskom te pomp.

Haffenden wys egter dat dit nie regtig Eskom se bedryfsprobleme oplos nie.

Hy waarsku dat Eskom se skuld onvolhoubaar groei, want hy moet geld leen om die rente te betaal op geld wat hy reeds geleen het. Dit gaan later probleme skep by die ouditeurs wat betref sy status as lopende saak.

Eskom bevind homself in ’n skuldspiraal, en dit raak sy kredietwaardigheid, wat dit vir hom nog duurder maak om lenings op die internasionale geldmark te vind.

Maniere hoe Eskom sy kontantvloei kan verbeter, is om kapitaalbesteding te sny, maar hy het reeds verlede jaar genoem dat hy R20 miljard aan instandhouding sal moet bestee, het Haffenden gesê. Die regering kan help deur die kapitaalbesteding regstreeks te finansier, en ’n meer drakoniese stap kan wees om bloot Eskom se skuld te laat afskryf, maar dit sal polities moeilik wees, want die meeste van Eskom se skuld is by Suid-Afrikaanse banke.

Eskom-skuld in syfers:

· Eskom skuld banke nou al sowat R420 miljard;

· Eskom het ’n staatswaarborg van R350 miljard waarvan sowat R240 miljard al gebruik is;

· Munisipaliteite skuld Eskom sowat R18 miljard en dit groei teen R450 miljoen per maand;

· Soweto skuld Eskom sowat R17 miljard en dit groei teen R50 miljoen per maand;

· Eskom verwag ’n verlies van R20,2 miljard vir die boekjaar tot einde Maart vanjaar.

· Eskom bestee R55 miljard per jaar aan steenkool.

Bron: Chris Yelland, EE Publishers

Oor die opbreek van Eskom in drie dele meen Haffenden ook soos Moody’s en ander waarnemers dat dit opsigself nie sy geldkrisis gaan oplos nie, maar dit maak die weg oop na nuwe maniere om Eskom om te keer.

Dit blyk volgens Haffenden dat Eskom se skuld nog by die beheergroep sal bly, maar die opsies met die verdeling is dat die skuld ook verdeel word onder die drie nuwe sake-eenhede. By transmissie kan ontvangbare rekeninge gesekuritiseer word. (Dit is waar ’n klomp rekeninge wat kliënte nog moet betaal, saamgegooi word as een geldinstrument wat dan as ’n beleggingsinstrument verkoop word aan iemand anders wat die skuld invorder, en Eskom-transmissie kry dan dadelik die kontant daarvoor.)

Minderheidsbelange in van die drie entiteite kan verkoop word. Eskom sal moet oorweeg of hy bereid is om sy monopolie te verloor, en sy kragopwekking-eenheid kan dan in verskillende entiteite verdeel word. Eskom sal nie kan oorleef as hy dit nié doen nie, meen Haffenden.

Die ander opsie is om sy energiemengsel te verander deur na beter en goedkoper maniere van kragopwekking te skuif. Die buurland Mosambiek se aardgasbronne sal teen 2025 tot 2030 op die mark kom, en elders in die wêreld is dit reeds bewys dat gaskragsentrales relatief goedkoop is. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!