Eskom kritiseer weer groenkrag
Die Suid-Afrikaanse kragvoorsiener sê hy is steeds verbind tot hernieubare energie 'teen 'n tempo en koste wat die land kan bekostig'.
Francois Williams - Hernieubare energie het in 2016 'n netto verlies van R9 miljard vir die Suid-Afrikaanse ekonomie beteken, volgens berekeninge van Eskom.
Eskom het dieselfde metodologie gebruik as waarmee die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) vroeër bereken het dat hernieubare energie in die eerste ses maande van 2015 'n netto ekonomiese voordeel van net onder R4 miljard bygedra het.
Eskom het Dinsdagaand 'n verklaring uitgereik waarin hy sê hy is steeds verbind tot hernieubare energie “teen 'n tempo en koste wat die land kan bekostig” – dieselfde woorde wat die regering gebruik wanneer hy oor kernkrag praat.
Die WNNR het in 'n ondersoek bereken Eskom het in die eerste helfte van 2015 sowat 2 terawatt-uur (TWh) se elektrisiteit van wind- en sonkragaanlegte gekoop. Die totale finansiële voordeel hiervan was R8,2 miljard, teengewerk deur die R4,3 miljard wat Eskom aan tariewe aan die onafhanklike kragprodusente moes betaal.
Eskom het dieselfde berekening gebruik vir sy aankope van hernieubare energie van Januarie tot Desember verlede jaar. Oor dié tydperk is 6 TWh se groenkrag aangekoop, maar volgens Eskom se berekeninge was die totale finansiële voordeel daarvan net R3,2 miljard, teenoor R12,2 miljard wat aan tariewe betaal moes word.
Die metodologie bereken die voordele van verminderde ongediensde energie (oftewel beurtkrag), asook kostebesparings aan Eskom as die verbranding van steenkool en diesel vermy is.
Beurtkrag
Terwyl in die eerste helfte van 2015 heelwat beurtkrag voorgekom het en Eskom sy duur dieselkragsentrales by Atlantis en Mosselbaai vir veel langer moes bedryf as wat beplan was, het noemenswaardige beurtkrag nie verlede jaar voorgekom nie en was dit nie nodig om die dieselkragsentrales baie te gebruik nie.
Eskom sê solank as wat 'n oorskot-kragopwekkingsvermoë bestaan, sal die netto verlies vir die ekonomie van groenkrag voortduur. Eskom sê hy het tot 2021 'n oorskot aan kragopwekkingsvermoë en kan enige vraagtoename hanteer. Oor die afgelope twee jaar het hy sy kragnetwerk met 15% of 5 568 MW uitgebrei, danksy beter prestasie en nuwe opwekkingseenhede by Medupi asook die Ingula-pompopgaarskema wat in bedryf gestel is. Oor die volgende vyf jaar wil Eskom nog 8 304 MW byvoeg.
Eskom wys op die kredietgraderingsagentskap Moody's se waarskuwings in sy verslae in September en Desember oor Eskom se geldsake dat sy finansiële verhoudings “weens stygende bedryfskoste baie swak bly. Dit word deur hoër primêre energiekoste en voortgesette groei in kragkoopooreenkomste met onafhanklike kragprodusente, asook die voltooiing van sy groot kapitaalbestedingsprogram aangedryf.”
Die eerste groenkragprojekte wat die departement van energie goedgekeur het, was teen betreklik hoë tariewe en Eskom het kontrakte van 20 jaar gesluit. Dié tariewe styg jaarliks teen inflasieverwante koerse.
Hoewel veel meer groenkragaanlegte teen verlede jaar in bedryf gekom het, is hulle en daaropvolgende projekte teen veel laer tariewe gekontrakteer.
In teenstelling met wat Eskom beweer, sê die WNNR in sy verslag enige nuwe groenkrag sal sowat 65% minder kos as die eerste projekte wat in 2014 in bedryf gekom het. Dit sal ook die netto finansiële voordeel van hernieubare energie positief hou, selfs wanneer die kragnetwerk onder minder druk is.
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie