E.T. Meyer op 95 oorlede
Dogter bring hulde aan geliefde oudskoolhoof, skrywer, boer en politikus.
Alfreda Meyer
Die geliefde Oom E.T. (Roosevelt) Meyer is Dinsdag 21 Februarie op 95 in die Paramount-gesondheidsorgoord in Windhoek oorlede.
Ernst Theodore Meyer is op 3 Julie 1921 op Cuma, 'n afgeleë sendingstasie noord van die destydse Mombolo, in Angola, gebore.
Sy pa, Alfred, was 'n Switser wat 'n besondere rol gespeel het in die Dorslandtrek-boeregemeenskap en sy ma, Caty, was die dogter van die bekende ontdekkingsreisiger William Chapman. Haar ma was 'n nooi Opperman uit die Dorslandtrek.
Meyer se eerste sewe jaar het hy in Angola op 'n skilderagtige plaas teen die hange van die Nambaberg deurgebring.
In 1928 het die gesin na die destydse Suidwes-Afrika verhuis, waar hy in Mei 1929 onder 'n doringboom op 'n ongerepte plaas (daar was net 'n windpomp op) in die Gobabisdistrik begin skoolgaan het.
Daarna was hy jare lank in die verplaasbare tentskool nr. 6 in die Summerdowndistrik. Tot in standerd 6 (graad 8) was hy 'n leerling van 'n “regte” skool wat op die plaas Manina deur die ouergemeenskap gebou is.
In 1935 het Meyer 'n leerling van Windhoek Hoërskool (WHS) geword waar hy in 1938 gematrikuleer het.
Ná matriek het hy vir drie jaar gewerk om geld te spaar vir verdere studie en in 1942 is hy vir twee jaar na die Normaalkollege in Bloemfontein vir opleiding as laerskoolonderwyser.
Aan die begin van 1944 is hy by Nina, 'n klein driemanplaasskooltjie naby Dordabis, as onderwyser aangestel. Toe volg talle verplasings as aflosonderwyser waartydens hy onder nege skoolhoofde gewerk het.
In Desember 1947 is Meyer op Ventersburg met sy studenteliefde, Lettie Nortjé, 'n Vrystaatse nooi, getroud.
Uit dié huwelik is twee dogters, Alfreda en Elize, gebore.
Aan die begin van 1948 aanvaar die jong egpaar onderwysposte op Swakopmund, waar Meyer matriekleerlinge onderrig en ook as koshuishoof diens doen.
In dié tyd verbeter hy sy kwalifikasies deur privaatstudie en verwerf hy 'n B.A.-graad, 'n hoëronderwysdiploma (H.O.D.) en 'n B.Ed.-graad.
JONGSTE SKOOLHOOF
In 1953, op 32-jarige ouderdom, word Meyer by die Sekondêre Skool Tsumeb as die jongste hoof van 'n hoërskool in die land aangestel.
In 1960 is die hele Meyer-gesin vir 'n jaar Duitsland toe waar Meyer deur middel van 'n uitruilskema die geleentheid gekry het om Engels te onderrig.
Met hul terugkoms is hy bevorder tot skoolhoof van WHS waar hy tot aan die einde van 1964 aan die stuur van sake was.
In 1965 keer die Meyers terug na sy jeugwêreld in die Summerdowndistrik, waar hy gaan boer.
Hulle was dadelik hart en siel by die aktiwiteite van die boerderygemeenskap betrokke en het 'n leidende rol daar gespeel.
In 1966 het Meyer die politiek betree, aanvanklik as lid van die Wetgewende Vergadering en later as voorsitter van die Wetgewende Vergadering en ook as lid van die Uitvoerende Komitee.
Ná 16 jaar in die politiek is hy ook aangestel as voorsitter van 'n onderwyskomitee wat ondersoek moes instel en aanbevelings moes doen ten opsigte van sekere onderwysaangeleenthede in Suidwes-Afrika.
UIT SY PEN
As storieverteller was Meyer legendaries.
Vanaf 1981 tot 1987 het vier boeke uit sy pen verskyn: Die vlieënde Ovambo, Waar's my tande?, Tussen krokodille en Kavangovroue, en Plek van die waterbuffel - ons 16 jaar in Angola. Eersgenoemde drie bundels bevat humoristiese sketse uit sy lewe in die ou Suidwes en laasgenoemde beskryf die Meyers se 16 jaar lange verblyf in Angola.
Vir Meyer was die Angola-Afrikaner hom veral na aan die hart en hy het 'n bepalende kulturele rol in dié gemeenskap gespeel.
Hy was onder meer voorsitter van die reëlingskomitee van die eerste Dorslandtrekfees by Swartbooisdrif in 1969.
By talle feesgeleenthede het hy as spreker opgetree, onder meer by die onthulling van die monument by Rietfontein in Etosha.
Meyer sal onthou word as 'n mens van integriteit wat 'n verskil gemaak het aan lewens oor die lengte en breedte van die woestynland.
Hy was 'n “gentleman” by uitstek - te alle tye, in alle omstandighede. Sy mensliewendheid, besondere humorsin en passie vir die lewe was alombekend. Hy was geliefd en is deur oud en jonk gerespekteer.
Sy positiewe gesindheid was tot aan die einde merkbaar. Selfs in sy laaste dae het hy daarin volhard om altyd die spreekwoordelike silwer randjie in elke situasie te sien.
'n Oudskoolhoof van WHS, mnr. Bertus Gous, sê dié skool eer 'n baie besondere, geliefde oudskolier en skoolhoof wat in duisende se lewe en in Namibië 'n groot verskil gemaak het: “Oom E.T. was een van die skool se groot ikone.”
Meyer word oorleef deur sy vrou, Lettie (93), sy dogters, mee. Alfreda Meyer en Elize Ligthelm, skoonseun, mnr. Gys Ligthelm, twee kleindogters, me. Lize Ligthelm in Nieu-Seeland, en dr. Huibré Malan en haar man, Francois, in Ierland, en een agterkleinseun, Ernst Malan.
Meyer se roudiens vind Dinsdag om 09:30 in die NG Kerk Eros plaas.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie