Etniese geweld vlam in Kenia op

Spanning is aan die oplaai in Kenia nadat 'n tweede rondte verkiesings gehou is om 'n president aan te wys.
Kenia se herhaalde presidentsverkiesing, wat vandeesweek deur miljoene geboikot is, het opnuut spanning laat opvlam wat al lank tussen etniese groepe voorkom.

Dit het daartoe aanleiding gegee dat inwoners van een klein plattelandse dorpie in die weste van die land Saterdag tradisionele wapens opgeneem het.

In die heldergroen suikerriet­plantasies waar die westelike Nyanzastreek tot by die Nandi-gebergtes loop, het twee stamme – die Luo en die Kalenjin – vir jare in relatiewe vrede gebly.

Op die plattelandse dorpie Koguta, af met die pad van Mugoroni in die graafskapsgebied Kisumu, het Donderdag se polariserende verkiesing ou griewe laat opvlam.

Die goewerneurs moes 'n noodingryping doen en het opstande ongedaan probeer maak. Dit het egter sterk herinner aan hoe maklik Kenia se maandlange politieke krisis etniese geweld kon aanwakker soos wat voorheen al gebeur het toe 1 200 inwoners ná 'n mislukte verkiesing in 2007 vermoor is.

Aan die een kant van Koguta bly Kalenjin wat nie vir pres. Uhuru Kenyatta en sy Kalenjaanse adjunk, William Ruto, ondersteun nie.

Die Luo oorkant die pad ondersteun egter die opposisieleier, Raila Odinga, wat gevra het dat die verkiesing geboikot moes word omdat dit volgens hom nie regverdig was nie.

Sommige van die Luo het met die polisie baklei om te keer dat hulle nie die stembusse kon aflewer nie. Die Luo het die Kalenjin daarvan beskuldig dat hulle hul vee gesteel het en hul suikerplantasies uit vergelding afgebrand het. Dit het veroorsaak dat beide kante na kapmesse, spiese, pyle en boë en houtknuppels en -kieries gegryp het.

“Dit is 'n gebied waar hulle probeer het om met stembusse in te kom. Daar was sterk teenstand, so dit was die begin van al die vyandskap tussen die Kalenjin en die Luo,” het Julius Genga, 'n graafskapswetmaker, gesê.

'n Kollega het bo-op 'n sport-afleweringsvoertuig gestaan en 'n groot groep mans wat met spiese gewapen was, probeer kalm hou.

Die opposisie het die verkiesing as 'n “bedrogspul” verwerp, terwyl Kenyatta se ondersteuners sê dit is wettig.

Betogers het egter verhoed dat stemlokale in vier streke enigsins oopmaak.

Slegs 'n derde van die stemgeregtigdes het opgedaag, en die opposisie gaan waarskynlik die verkiesing in die hof betwis.

“Dit het te doen met politiek,” het Collins Owuor (21), gesê – kapmes in die hand.

“Voordat daar politiek was, het ons nie probleme met die mense gehad nie.”

Op 'n afstand, waar die rook van suikerplantasies afgekom het, het Reuters gesien hoe die polisie met gewapende Kalenjin gepraat het. Maar die plaaslike polisiehoof het joernaliste gewaarsku om weg te bly.

Teen die einde van die middag se vergaderings is die gesteelde vee terug­gegee.

Amptenare het die hoop uitgespreek dat die risiko vir geweld wat kan uitbreek, vir nou in die kiem gesmoor is.

Thomas Mukoya van Reuters berig egter dat teen-onluspolisie in die Kawangware-krotbuurte in Nairobi ontplooi is.

Volgens hom is Koguta nie die enigste plek waar sluimerende etniese spanning in die openbaar losgebars het nie.

Vrydagnag is 'n man in Kawangware doodgeslaan en is huise en winkels afgebrand te midde van gerugte dat 'n militêre stam die woonbuurt van 'n verskillende stam geïnfiltreer het.

In Donderdag se verkiesing het Kenyatta slegs teen ses mindere kandidate te staan gekom, waarvan nie een van hulle meer as 1% van die stemme in Augustus op homself kon verenig nie.

Dit, en die lae kiesiersopkoms, het sy hoop om 'n beslissende mandaat te bekom om Oos-Afrika se rykste ekonomie te lei van die tafel gevee.

Adj.pres. Ruto, wat ook Kenyatta se drafmaat is, het aan die TV-diens CNN Saterdag gesê hy verwag dat die finale stemuitslag teen Sondag bekend gemaak sou word.

“Ons sal binnekort 'n verklaring hê en 'n inhuldiging volgens die grondwet.”

Die verkiesingsraad het Saterdag gesê hy sal binnekort 'n nuwe plan aankondig vir die sowat 30 van die 290 kiesafdelings wat nog nie gestem het nie.

Die grondwet bepaal dat 'n verkiesing in elke kiesafdeling gehou moet word.

Meer hofsake teen die verkiesing word in volgende week verwag.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!