Etosha-paaie word herbou
Etosha-paaie word herbou

Etosha-paaie word herbou

Groot dele van die padnetwerk in die Etosha Nasionale Park word opgegradeer om toeriste en toeroperateurs te lok.
Erwin Leuschner
Erwin Leuschner – Die Etosha Nasionale Park is een van Namibië se toptoeriste-aantreklikhede, maar weens die toestand van die paaie vermy toeriste en toeroperateurs die park.

“Die paaie is in 'n swak toestand en ek ontvang gereeld klagtes. Ons moes dringend iets doen,” het minister Pohamba Shifeta van die omgewing, bosbou en toerisme gesê.

Shifeta was verlede week in die park om eerstehandse kennis van die situasie in te vorder. Hy was tevrede met die paaie wat reeds opgegradeer is. Hy het sy dank uitgespreek teenoor die private sektor wat verlede jaar op eie koste van die paaie geskraap het.

“Ons moet meer doen. Om die paaie net met padskrapers te skraap, is nie meer voldoende nie,” het hy gesê.

Sedert 2018 is al ontelbare klagtes ontvang en talle toeroperateurs het hul besprekings gekanselleer. Dit het tot 'n verlies aan inkomste gelei en die park se beeld as toptoeristebestemming in die gedrang gebring. Dit is hoekom die ministerie in Februarie 2019 vir Otesa Civil Engineering opdrag gegee het om nood­saaklike opgradering te doen. In totaal het hulle 190 kilometer teen 'n koste van N$132 miljoen herbou.

Tot dusver is die 18 km tussen Sonderkop en Duiwelsvuur (N$12,6 miljoen) en 28,8 km tussen Tabiroen en Bitterwater (N$19,4 miljoen) opgegradeer. Die volgende 140 km vanaf die Galton-hek tot Olifantsrus sal teen 'n koste van N$100 miljoen teen Augustus 2022 voltooi wees.

“Die instandhouding van die paaie in die nasionale park is die verantwoordelikheid van die ministerie, maar die padnetwerk is altesaam meer as 2 000 km lank. Die ministerie kan nie die opgradering en instandhouding alleen behartig nie,” het hy gesê.

Die Padfondsadministrasie (RFA) het N$100 miljoen aan die ministerie bewillig om die paaie op te gradeer.

Volgens hom is die ministerie tans besig om die park se ingangsfooie aan te pas wat reeds volgende jaar in werking sal tree.

“Ons ingangsfooie sal in die meeste gevalle goedkoper wees as Botswana en Suid-Afrika s'n.”

Die nuwe natuurbewaringsfooi sal in die toegang ingesluit wees. Dié fooi word gebruik om instandhoudingswerk te finansier en bykomende toerusting vir dié doel aan te koop.

“Die instandhouding van die padnetwerk is eindeloos, omdat paaie net 'n sekere lewensduur het,” het hy gesê.

Deel van die opgradering is die oprigting van omheinde openbare ablusiegeriewe langs die langer roetes, soos tussen Okaukuejo en Olifantsrus.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!