Europese avontuur wag vir Chiappini

Tweekamp
Tielman van Lill
Tielman van Lill

Gino Chiappini van Windhoek sal komende Sondag in Avilés, Spanje, aan die Wêreldtweekampkampioenskap in die 25 tot 29 jaar ouderdomsgroep deelneem.

Chiappini sal saam met sewe Spanjaarde, twee Mexikane en twee Britte vir die uitdaging aantree. Die kompetisie bestaande uit twee dissiplines waar die atlete eers 10 kilometer hardloop, 40 km fietsry en dan weer 5 km hardloop, bied die ideale geleentheid vir die Namibiër om sy merk te maak.

Hy het vroeg vandeesmaand aan die Afrika-tweekampkampioenskap in Windhoek se middestad deelgeneem en in 2 ure 22 minute 46 sekondes klaargemaak. Chiappini mik om in Spanje op seevlak veel beter te vaar.

“Ek is nou maar ’n jaar in die sport, nadat ek my skouer weer in April beseer het voordat ek my professionele boksdebuut sou maak. Ek het besluit genoeg is genoeg en ek gaan eerder voltyds voltyds my gewig by uithousport soos twee- en driekamp ingooi.

“Veel eerder ’n uithousport as om weer vir ’n operasie te gaan wat my ses maande sou neem om van te herstel. Ek het my regterskouer in 2017 met rugby beseer en drie skroewe hou die spulletjie bymekaar. Ek sien nie kans om weer onder die mes deur te loop nie.

“Ek het met die Namibiese tweekampkampioenkap vir hierdie deelname in Spanje gekwalifiseer. Ek het die Afrika-kampioenskap gebruik as voorbereiding en ook om ondervinding op te doen.

“Ek het ’n goeie les geleer, want die Afrika-kampioenskap was nie ’n goeie dag vir my nie. Ek was ontwater en het in die aanloop tot die kompetisie my totaal en al ooreis.

“Om aan te hou om gemiddeld 18 ure per week te oefen, was gek. Dis dubbeld wat die ander ouens gedoen het en ek kon nie genoegsaam herstel voor die Afrika-kampioenskap nie. Geen mens kan vir 12 weke aaneen so aangaan nie.

“Maar ek het uit my foute geleer. Ek voel nou veel sterker, want ek weet wat ek verkeerd gedoen het en dis reggestel. Die kompetisie in Spanje is op seevlak, ’n luukse vir ons atlete wat so hoog bo seespiëel bly en oefen.

“Sedert die Afrika-kampioenskap het ek dit baie rustiger gevat. Ek het Maandag my laaste afstand gehardloop en sal eers weer die dag voor die kompetisie in Avilés die nodige doen om my liggaam in rat te kry.

“Ek hoop om binne 2:10 klaar te maak, want ek weet ek kan naby dit kom. Ek gaan probeer om my persoonlike beste tye te verbeter, maar hoe nader ek aan 2:10 kan eindig, hoe beter sal dit wees.

“Ek wil graag my borge, Mincon, NamPharm, Wecke & Voigts Wholesale en Rocky Crest Supermark bedank wat die kompetisie vir my moontlik maak.”

Chiappini het gisternamiddag na Spanje vertrek. Hy sal Sondagoggend nege-uur (Spaanse tyd) aantree.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!