EVM-sage verdiep
EVM-sage verdiep

EVM-sage verdiep

Denver Kisting
Denver Kisting - Al die elektroniese stemtoerusting wat aan die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) behoort en meer as twee jaar gelede in Swapo se besit verdwyn het, is nog nie teruggevind nie.

Die hoofkiesbeampte van die ECN, mnr. Theo Mujoro, het gister by navraag berigte weerlê waarin aangevoer word al die verdwene toestelle is opgespoor.

Hy sê net twee beheereenhede is verlede week teruggevind.

Volgens Mujoro is hy eers Maandag deur die polisie oor die vonds ingelig.

Hy het sedertdien die twee beheereenhede aan hul reeksnommers uitgeken as dié wat in Mei 2017 volgens mnr. Sacky Shanghala glo van ’n sleepwa afgetuimel het.

Die toerusting is in die polisie se besit, sê Mujoro. “Dit is verkeerd om te sê alles is teruggevind. Ek weet nie waar hulle gevind is en wie betrokke is nie.”

’n Polisiebron het gister gesê die een beheereenheid is aan die buitewyke van die hoofstad gevind, terwyl die ander een in een van die hoofstad se informele nedersettings opgespoor is.

Mujoro het ook gister onthul hy het onlangs wel ’n strafregtelike klag oor die verdwene toestelle by die polisie aanhangig gemaak. “Die ondersoek duur voort en die toestelle (in polisiebesit) is bewysstukke.”

AGTERGROND

In ’n volbladadvertensie het die voorsitter van die ECN, adv. Notemba Tjipueja, kort voor die nasionale verkiesings op 27 November gesê: “Die (Swapo)-span wat die verkiesingstoerusting vervoer het, het agtergekom twee stemeenhede het van die wa af geval het en die voertuig tot stilstand gebring om die stemeenhede op te tel”.

Sy sê nie of “die span” toe die twee eenhede wat hulle sien aftuimel het, opgetel het nie.

’n Brief van Swapo op 11 Julie 2017 lui glo dit het aan die lig gekom – met behulp van “kommunikasie van die Namibiese polisie in Otjiwarongo” – ’n stemeenheid is deur ’n lid van die publiek op 6 Julie 2017 op die pad tussen Otjiwarongo en Okahandja opgetel.

Tjipueja sê in die advertensie die ECN het bevestig dié is van die toestelle wat Swapo vir hul Outapi-verkiesing van hul raad van oudstes geleen het nadat die reeksnommers nagegaan is.

Shanghala, ’n lid van Swapo se sentrale komitee, was dié verkiesing se stembeampte.

Hy is tans in polisieaanhouding weens sy beweerde aandeel in multimiljoendollar se korrupsie in die visbedryf.

Tjipueja het toe voorts gesê ’n ander lid van die publiek het intussen ook ’n stemeenheid en ’n beheereenheid naby die Mix-nedersetting aan die buitewyke van Windhoek opgetel. Wanneer dié vonds gemaak is, word nie verklap nie.

Prof. Paul Isaak, die voormalige hoofkiesbeampte, het glo 156 stemeenhede, 53 beheereenhede, vier opsomtoestelle en twee drukkers aan Swapo geleen.

Niemand is nog weens dié verdwyning van staatseiendom gearresteer nie.

TEGNIESE ADVISEUR ONDERSOEK

Mujoro het intussen ook gister bevestig die ECN het ’n klag van diefstal teen sy tegniese adviseur, mnr. Milton Shaanika-Louw, aanhangig gemaak.

Dit kom nadat Shaanika-Louw glo vyf skootrekenaars van die ECN aan 'n pandjieswinkel gesmous het.

Mujoro sê die ECN oorweeg tans hul opsies wat Shaanika-Louw se menslikehulpbronne-situasie betref. “Hy is nie by die werk nie.”

Shaanika-Louw het gister by navraag ontken hy het enige rekenaars gesteel.

Volgens hom het hy die skootrekenaars aan die pandjieswinkel toevertrou omdat dié toestelle vertroulike en inkriminerende inligting bevat en nie by die polisie veilig sou gewees het nie.

Die pandjieswinkel, sê hy, is ’n veiliger hawe vir die toestelle vanweë die teenwoordigheid van kringtelevisiekameras 24 uur per dag.

Hoofinsp. Kauna Shikwambi, ’n polisiewoordvoerder, het bevestig die polisie ondersoek ’n klag van diefstal teen Shaanika-Louw.

Sy het gesê Shaanika-Louw is nog nie in hegtenis geneem nie.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer