Fabupharm wil Afrika-mark betree

Ekwiteitsbelegging betaal vir nuwe toerusting en masjinerie om produktereeks te vergroot.
Fabupharm op Otjiwarongo is die enigste farmaseutiese vervaardiger in die land.

Die maatskappy het sedert sy ontstaan in 1989 vinnig gegroei en brei steeds uit.

Tans is dit besig om ’n nuwe dubbelverdiepinggebou van sowat N$3 miljoen by sy perseel in Van Eckstraat op te rig. Dit het ook onlangs tussen N$30 miljoen en N$40 miljoen in die opgradering van toerusting, fasiliteite en masjinerie belê, sê die hoof- bedryfsbeampte, mnr. Fanie Badenhorst.

“Ons is versigtig optimisties oor die maatskappy se toekoms,” sê mnr. Carl Brinkmann, die meerderheidsaandeelhouer van Fabupharm. Die maatskappy het die afgelope jaar saam met EOS Capital, ’n ekwiteitsfirma, begin saamwerk.

“Fabupharm het die potensiaal om die profiel van die Namibiese vervaardigingsektor te verbeter, wat al lank deur internasionale spelers oorheers word,” sê mnr. Johannes

!Gawaxab, uitvoerende hoof van Eos Capital. Die kapitaalinspuiting het Fabupharm in staat gestel om sy huidige bedrywighede uit te brei en ’n wyer produkreeks te vervaardig.

Produkte wat deur Fabupharm vervaardig word, sluit in Fabu-Azitromycin 500 mg, Suplimax-studiehulp, Suplimax- hartversorging, Suplimax urinêre sorg en bloedreiniger, en Suplimax Cholesterol Care. Fabupharm het ook die Desert Sun Spray-reeks met SPF 30 en SPF 50 bekend gestel asook die Ideal Baby-produkreeks en antibiotika-tablette.

Oor dié eerste antibiotika-tablette ooit wat in Namibië vervaardig en geregistreer is, sê Brinkmann Fabupharm het ’n ooreenkoms met ’n internasionale mediese maatskappy aangegaan om die produk aan alle dokters en apteke in die land te versprei.

Hy sê Fabupharm het aanvanklik ingestem om dit te versprei, en ná vyf jaar die tablette te begin vervaardig met die hoop om in die toekoms die produk na ander Afrika-lande uit te voer.

“Met die druk op Namibië se ekonomie en die regering, registreer ons Fabupharm se produkte in buurlande soos Swaziland, Lesotho, Botswana, Mosambiek en Mauritius. Die land benodig meer vervaardigers soos Fabupharm wat plaaslike produkte uitvoer en sodoende bydra tot 'n beter en sterker ekonomie,” het Brinkmann gesê.

Volgens Badenhorst het die vervaardiger reeds ’n verskaffingskontrak met Swaziland gesluit en tender nou vir besigheid in Mauritius en Lesotho waar ’n agent aangestel is. Die rou bestanddele van die reeks produkte word deur Suid-Afrika direk van China en Indië ingevoer, het Badenhorst gesê.

Baie van Fabupharm se stelsels is reeds vinnig genoeg om aan plaaslike aanvraag te voldoen. Dit kan onder meer 40 000 kapsules Suplimax per uur vervaardig en “in ’n week maak ons twee maande se voorraad vir die hele land”, het Badenhorst gesê.

Baie geld is begroot om bestee aan die gemak en werksomstandighede van die maatskappy se meer as 70 werknemers en sluit kleedkamers, ’n kombuis en eetsaal in.

Die plan is om voor die einde van die jaar by die nuwe gebou in te trek en sodoende die kleedkamers van die werkers te opgradeer, het Badenhorst gesê. Die laboratorium en fabriek is in geheel omskep en die hele gebou se temperatuur word teen 25 °C gereguleer.

Deure is met lugslotte ingerig om lugvloei te beheer terwyl filters skoon lug in spesifieke areas verseker.

Een van die nuwe masjiene word tans op die proef gestel om tablette perfek te vervaardig. Die masjien is in Julie geïnstalleer en die eerste tablette is op 1 Augustus daarmee gemaak. Die tabletmasjien kan tot 150 000 tablette per uur vervaardig

Die masjien word deeglik onderhou. Net die skoonmaak daarvan verg twee dae se uitmekaarhaal en weer twee dae se aanmekaarsit nadat dit skoongemaak is.

Intussen is Fabupharm besig om van sy nuwe produkte by die Namibiese Mediese Regulerende Kommissie (NMRC) te registreer. Die NMRC het in 2014 ’n lisensie vir goeie vervaardigingspraktyke aan Fabupharm uitgereik.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!