Facebook betrap nu00f3g u2018Russiese agenteu2019
Facebook betrap nu00f3g u2018Russiese agenteu2019

Facebook betrap nóg ‘Russiese agente’

Petrus Malherbe

Facebook het bekend gemaak dat hy minstens 32 blaaie en sosiale rekeninge op die platform sowel as Instagram gesluit het weens verdagte gedrag.

Volgens die sosiale netwerk het dié rekeninge saamgesweer om doelbewus “oneerlik” te wees, in teenstelling met sy bepalings en voorwaardes rakende die verspreiding van misleidende inligting.

In ’n verklaring sê Facebook dit wil voorkom asof die rekeninge opgestel is deur “Russiese agente” om openbare opinie voor die Amerikaanse tussenverkiesing in November te beïnvloed.

Hoewel die skeppers van die rekeninge nog nie geïdentifiseer kon word nie, toon dit ooreenkomste met rekeninge wat vermoedelik deur Rusland geskep is in aantog tot die omstrede presidensiële verkiesing van 2016 waar Donald Trump uiteindelik gewen het.

Ondanks die harde lesse wat Facebook uit dié beweerde Russiese inmenging by die verkiesing geleer het, wil dit nou voorkom asof soortgelyke profiele weer geskep is, berig Mashable.

Hierdie profiele kon selfs daarin slaag om byeenkomste op Facebook te reël en het in sommige gevalle reeds duisende volgelinge.

Die sosiale netwerk sê dié onderduimse profiele het meer as 9 500 inskrywings op Facebook gemaak en een op Instagram. Al die verwante rekeninge, wat tussen Maart 2017 en Mei 2018 geskep is, is intussen gevries.

Die blaaie met die meeste volgelinge was “Aztlan Warriors”, “Black Elevation”, “Mindful Being”, en “Resisters”.

ANTI-TRUMP-PROPAGANDA

Facebook het voorbeelde van die blaaie se plasings gedeel. Die meeste daarvan kan as anti-Trump-propaganda beskou word wat die president vra om te bedank. In een plasing word Trump as ’n fascis uitgekryt wat “gestop moet word”.

Die kwaadstokers het ook meer as US$11 000 spandeer om meer as 150 advertensies tussen April verlede jaar en Junie vanjaar op Facebook te plaas. Amerikaanse en Kanadese dollars is gebruik om vir die advertensies deur middel van derdepartye te betaal, sê Facebook.

Hulle het ook van spesiale netwerktegnologie gebruik gemaak om hul rekenaars se IP-adresse te verdoesel.

Facebook sê hoewel dié gedrag ooreenkomste toon met die dade van die sogenaamde Internet Research Agency (IRA), is dit baie meer gesofistikeerd. Die IRA is ’n Russiese “agentskap” van St. Petersburg wat vals rekeninge op sosiale netwerke en blogs skep om ware gebruikers te beïnvloed of te manipuleer.

In een geval was ’n bekende lid van die IRA sewe minute lank ’n administrateur van een van die blaaie wat Facebook onlangs verwyder het.

Alex Stamos, Facebook se veiligheidshoof, sê dit is nog onduidelik of die jongste rekeninge geskep is deur ’n “verbeterde” IRA of ’n heeltemal ander organisasie.

Trump het verlede week getwiet dat hy “baie bekommerd” daaroor is dat Rusland gaan probeer om die komende tussenverkiesing te beïnvloed.

“Gegewe dat geen ander president nog ooit so streng met Rusland was soos ek nie, sal hulle die Demokrate hard steun. Hulle soek beslis nie vir Trump nie!” – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer