• Tuisblad
  • Sake
  • Facebook: Dís wat moet verander, vra kongres
Facebook: Du00eds wat moet verander, vra kongres
Facebook: Du00eds wat moet verander, vra kongres

Facebook: Dís wat moet verander, vra kongres

Ná meer as tien uur waarin hy met moeilike vrae gepeper is oor die platform wat hy help stig het, het Facebook se hoof, Mark Zuckerberg, betreklik ongeskonde daarvan afgekom.
Die 33-jarige Mark Zuckerberg, stigter en uitvoerende hoof van Facebook, het deurgaans senuagtig oorgekom toe hy voor die Amerikaanse Kongres getuig het, maar sy antwoorde was ferm en beleef, maar dikwels ook ontwykend.

“Ek sal my span kry om terug te kom na jou toe,” was een van sy gunsteling-antwoorde op van die ­moeiliker vrae wat hy verkies het om nie te ­beantwoord nie.

Zuckerberg het twee dae voor die Amerikaanse kongres verskyn om te verduidelik hoe Facebook data van sy gebruikers versamel en dit met derde partye deel, dikwels sonder hul medewete. Hy het vir meer as tien ure getuig.

Woensdag se verhoor het op geen tasbare plan uitgeloop vir die toekomstige regulering van Facebook nie, hoewel verskeie senators bepaalde take voor Zuckerberg se deur gelê het waarop hulle wil hê hy moet fokus.



Skimprofiele

Ben Luján, 'n Demokratiese kongreslid van Nieu-Mexiko, was veral ontsteld dat Facebook die data van mense versamel wat nie eens 'n profiel op die platform het nie.

Hierdie sogenaamde skimprofiele versamel data van internetgebruikers wat geensins 'n rekening op die platform het nie. Zuckerberg kon by navraag nie uitwei oor die bestaan daarvan nie, hoewel hy erken het dat inligting wel van niegebruikers ver­samel word, kwansuis “vir sekuriteitsdoeleindes”.

Hy het ingestem dat sy span ondersoek sal instel na watter data op dié manier ingesamel word. Facebook sal ook 'n verduideliking verskaf van hoe die maatskappy sy gebruikers se internetgebruik dophou, selfs al het hulle uitgeteken uit die platform.

Daar is ook kapsie gemaak teen die feit dat Facebook se standaardverstellings nie die beskerming van gebruikers se data bevoordeel nie, maar eerder die deel daarvan. Frank Pallone, 'n Demokraat van New Jersey, het voorgestel dat Facebook dié verstellings verander sodat nuwe gebruikers se data van die begin af met niemand gedeel word nie en dat dié gebruikers aktief sal moet instem om 'n aspek van hul data te begin deel. Dis in teenstelling met die huidige stelsel, waar Facebook jou data deel totdat jy aandui jy wil sekere aspekte daarvan nie meer deel nie.

Hierop het Zuckerberg gesê hy sal by sy span moet uitvind of so iets haalbaar is.



Zuckerberg se eie

data ook gelek

Sommige kongreslede was veral omgekrap omdat Zuckerberg, as uitvoerende hoof van die maatskappy, skynbaar nie baie weet oor hoe dinge daar presies werk nie.

“As uitvoerende hoof ken jy 'n paar belangrike feite nie,” het Debbie Dingell, 'n Demokraat van Michigan, aan Zuckerberg gesê.

Later het Zuckerberg erken dat sy persoonlike data ook in die Cambridge Analytica-skandaal as deel van die 87 miljoen ander Facebook-gebruikers uitgelek is. Hy wou egter nie uitwei oor watter inligting van hom die omstrede konsultasiemaat­skappy bekom het nie.

Kenners meen dis kommerwekkend dat Zuckerberg, 'n kundige op die gebied van tegnologie, nie eens sy eie data teen datadiewe kon beskerm nie. Hoe sal die maatskappy daarin slaag om die stroewe kongreslede te oortuig dat regulering nie nodig is om die gewone mense se data te ­beveilig nie?

“Hoe sal gebruikers hul data kan beheer as Facebook nie eens beheer oor hul data het nie?” het Pallone trouens gevra.

Volgens Zuckerberg gaan dit nog maande duur voordat die ondersoek om te bepaal watter ander apps dalk onregmatig toegang tot gebruikers se data verkry het, afgehandel is.

Die maatskappy het onlangs 'n beloning van tot US$40 000 uitgeloof aan enigeen wat hulle kan help om sulke kwaadwillige karakters te identifiseer.

Hoewel die onderwerp van regulering nie regstreeks in die verhoor bespreek is nie, het die voorsitter van die komitee vir energie en handel, Greg Walden, ná afloop van die verrigtinge gesê nog onderhoude gaan met ander hoofde van tegnologiemaatskappye gevoer word. Hy wou egter nie name noem nie.

“Hierdie is 'n beroep op Silicon Valley en die tegnologiegemeen­skap. Julle het gewoond geraak aan 'n omgewing met min regulering. As julle toelaat dat dinge handuit ruk, gaan julle gou heelwat meer regulering hê as wat julle wil hê.”

Ontleders meen daar is ook 'n duidelike onderskeid tussen Demokratiese en Republikeinse kongreslede rakende die kwessie van regulering, met laasgenoemde wat meer ten gunste daarvoor is. Die Demokrate meen egter hul teenstanders is nie bereid om 'n betekenisvolle debat daaroor te voer nie.

“As jy gedink het dit is moeilik om 'n nuwe wet deurgevoer te kry wat 'n steunwerwer se kliënt regstreeks raak, stel jou voor om een deurgevoer te kry wat almal raak,” het Alvaro Bedoya, 'n voormalige assistent van 'n kongreslid, gesê.

Facebook se aandeelprys het die afgelope paar dae met byna 5% gestyg en die waarde van Zuckerberg se belang daarin met nog US$3 miljard toegeneem.

– Netwerk24/Bykomende bronne: Reuters, BBC

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer