Facebook-plasing oor Geingob sterk veroordeel
Facebook-plasing oor Geingob sterk veroordeel

Facebook-plasing oor Geingob sterk veroordeel

Swapo, ’n kabinetsminister en ’n menseregteprokureur het uitgevaar teen ’n entrepreneur wat die staatshoof oënskynlik ’n hond genoem het.
Denver Kisting
Denver Kisting – Swapo se visepresident, me. Netumbo Nandi-Ndaitwah, het gister gesê dit is onaanvaarbaar dat pres. Hage Geingob ’n hond genoem word.

Sy sê demokrasie kan net gedy as Namibiërs se morele waardes behoue bly.

Mnr. Michael Amushelele, ’n buitelandse valuta-entrepreneur, se aanlyn vergelyking van Geingob met ’n dier die afgelope naweek gaan te ver, sê Nandi-Ndaitwah.

“In alle menslike interaksie, insluitend die politiek, is daar ’n perk op hoe ver ’n mens kan gaan wat ander politieke rolspelers betref. Wat ons tans ervaar, veral onder jongmense, is buite perke. Dit is onaanvaarbaar vir enigeen om na ander, veral die staatshoof, as ’n hond te verwys.”

Sy sê beledigings en opsweping behoort geen plek te hê nie.

“In alle lande is respek ’n kernwaarde en die hoeksteen van nasionale morele waardes. Dit is hartverskeurend en pynlik om te sien hoe ons morele waardes in Namibië in duie stort – met spesifieke verwysing na van ons jongmense.”

Nandi-Ndaitwah sê Amushelelo se boodskap is vulgêr en in slegte smaak.

Boonop is dit ’n misdaad en het ten doel om geweld, stamgebondenheid, haat en vyandigheid aan te hits, sê sy.

Die minister van mynbou en energie, mnr. Tom Alweendo, het in ’n aanlyn plasing gesê: “Om die president ’n hond te noem, is geensins aanvaarbaar nie.”

Hy sê dié uitlating behoort deur almal wat in die beskawing glo as afskuwelik beskou te word.

“Dit sal ’n hartseer dag wees wanneer die slinger van beledigings en kru taal teen diegene van wie ons polities verskil as normaal aanvaar word.”

Mnr. Norman Tjombe, ’n Windhoekse menseregteprokureur, sê: “Om die president te beledig deur hom ’n hond te noem, is onaanvaarbaar.

“En dit deur iemand wat mense uit hul hardverdiende geld verneuk het, en die dood van ’n jongmens veroorsaak het en ’n ander in ’n rolstoel geplaas het.”

Amushelelo het by navraag oor die storm gesê: “Indien die staatshoof beledig voel deur my stelling, moet hy my persoonlik kontak sodat hy my kan vertel hoekom hy beledig voel deur my verwysing na hom as ’n ongeliefde hond. My stelling was nogal eenvoudig: As ’n hond ongewens is, sê ons ‘voetsek’. So, as Hage daaroor aanstoot neem, het ek geen woorde om hom te vertroos nie.”

Oor die noodlottige ongeluk waarin hy sonder ’n geldige rybewys in 2010 betrokke was waarin een persoon dood en ’n ander verlam gelaat is, sê hy: “Dit is my verlede. Ek kan niks wat in die verlede gebeur het, verander nie. Ek kan net die toekoms wysig. Mense aanvaar ek moet gevange gehou word omdat ek ’n verlede het en nie toegelaat word om my mening te lug nie.”

Amushelelo word ook tans deur strafregtelike klagte in die gesig gestaar vanweë sy bedrywighede wat met handel in buitelandse valuta verband hou.

’n Leier van die Landless People’s Movement (LPM) en verkose LP, mnr. Henny Seibeb, wat op die argieffoto in Amushelelo se plasing verskyn, sê hy kan nie daarvoor pa staan nie.

“Dis ’n foto van sosialemedia-argiewe. So, ek het nie beheer daaroor nie. Dis nie ’n amptelike LPM-foto nie en ook nie deur die LPM geneem of in ’n LPM-argief gestoor nie.”

Staatshuis het gistermiddag by monde van dr. Alfredo Hengari, presidensiële woordvoerder, gesê hulle sal nie kommentaar lewer nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!