Facebook wen verder veld

Dis belangriker om Facebook as gemeenskap te beskerm as om die “maksimum wins” te maak, sê Mark Zuckerberg, uitvoerende hoof van dié sosialemediareus.
Facebook se uitvoerende hoof, Mark Zuckerberg, sê die maatskappy se wins gaan oor die volgende ruk laer wees soos wat hy belê in veiligheidsmaatreëls in ’n poging om te voorkom dat die netwerk gekaap word vir politieke agendas.

Hy gaan onder meer oor die volgende jaar die aantal mense wat wêreldwyd die netwerk se inhoud dophou en beveilig, verdubbel tot 20 000. Hulle verbeter ook deurentyd kunsmatige intelligensie om probleeminhoud te identifiseer.

“Ek het al gesê hoe ontsteld ek is dat die Russe ons hulpmiddels gebruik het om wantroue te saai,” skryf Zuckerberg op sy Facebook-blad, met verwysing na Facebook se studie dat Rusland meer as US$100 000 van 2015-’17 aan nagenoeg 3 000 Facebook-advertensies bestee het wat met “fopnuus” verband hou.

“Hulle het dit gedoen om ons waardes te ondermyn. Wat hulle gedoen het, is verkeerd en ons gaan dit nie duld nie,” sê Zuckerberg.

Facebook werk onder meer met ander tegnologiefirmas en die Amerikaanse kongres saam om wetgewing te skep wat advertensies deursigtiger sal maak.

“Ons werk ook met ander tegnologiefirmas saam om nuwe bedreigings te help identifiseer en daarop te reageer, want, soos ons nou gesien het, as daar ’n nasionale sekerheidsbedreiging op die internet is, raak dit baie van die groot tegnologiefirmas.”

Facebook probeer fopnuus, haatspraak, boelie en ander “problematiese inhoud” verwyder.

In syfers

Ondanks die enorme belegging in sekerheid skort daar niks met Facebook se wins nie.

Die maatskappy se kwartaalsyfers wys die maatskappy se winsgrens het tot 50% gestyg – die hoogste nóg vanjaar.

Facebook se wins het die afgelope jaar met ’n enorme 79% tot US$4,707 miljard gestyg.

Die maatskappy het ook die eerste kwartaal nóg meer as US$10 miljard se inkomste verdien. Verreweg die grootste persentasie (meer as 98%) van Facebook se US$10,328 miljard-inkomste kom uit advertensies, en hiervan is 88% nou advertensies op slimfone of tablette. Dis vergeleke met 84% ’n kwartaal gelede.

Facebook as maatskappy (wat Instagram, WhatsApp en Messenger insluit) verdien nou wêreldwyd gemiddeld $5,07 per gebruiker per kwartaal. Dis egter vier keer hoër (op US$21,20 per gebruiker) in Noord-Amerika; en net US$1,59 in hoofsaaklik Afrika en Latyns-Amerika.

Nagenoeg 1,368 miljard mense wêreldwyd meld nou elke dag op Facebook aan. Dis 16% meer as ’n jaar gelede. Elke maand meld 2,072 miljard mense aan, ook byna 16% meer as ’n jaar gelede. Dit beteken nagenoeg 66% van Facebook-gebruikers meld elke liewe dag op Facebook aan.

Die grootste styging in gebruikers is in Asië en die Pasifiese streek.

Neigings

Zuckerberg sê video gaan oor die volgende drie jaar die grootste neiging op Facebook, Instagram en WhatsApp wees.

Hy is egter bekommerd dat video op die oomblik meestal net ’n “passiewe gebruikservaring” is – dus mense wat bloot video op Facebook kyk, pleks van dit self skep. Hy glo regstreekse video’s (Facebook se Live-funksie) skep tien keer die aantal interaksies en opmerkings as ander video’s en moedig só “betekenisvolle sosiale interaksie” aan.

Nog ’n nuwe fokusgebied gaan wees om meer ondernemings te oorreed om kitsboodskapdienste te gebruik om met hul klante te kommunikeer. Meer as 20 miljoen ondernemings gebruik reeds Messenger, maar Facebook toets nou maniere waarop ondernemings WhatsApp makliker kan inspan. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!