Facebook werk saam met Frankryk teen haatspraak
Facebook werk saam met Frankryk teen haatspraak

Facebook werk saam met Frankryk teen haatspraak

Reuters – Facebook het ingestem om identifikasiedata aan Franse regters beskikbaar te stel om gebruikers te identifiseer wat van haatspraak op dié sosialemediaplatform verdink word, sê Cédric O, Franse minister vir digitale sake.

Dit is die eerste keer dat Facebook aan so ’n versoek voldoen.

O, wie se pa Suid-Koreaans is, het pres. Emmanuel Macron van Frankryk in die eerste twee jaar van sy presidentskap oor die groot tegnologiese maatskappye geadviseer.

Facebook se besluit volg op verskeie ontmoetings tussen Mark Zuckerberg, Facebook-baas, en Macron, wat aan die voorpunt daarvan wil staan om haatspraak en die verspreiding van vals nuus te reguleer.

Facebook het al met die Franse justisie saamgewerk in voorvalle van geweld en terroristeaanvalle deur IP-adresse en ander data, wat gebruikers kan identifiseer, aan Franse regters beskikbaar te stel wat dit amptelik versoek het.

Facebook het ingestem om voortaan ook saam te werk in gevalle waar haatspraak ter sprake is nadat Nick Clegg, Facebook se hoof van internasionale sake, en O verlede week vergader het.

“Dit is groot nuus. Dit beteken dat die regsproses gewoon kan verloop. Dit is regtig belangrik. Hulle doen dit net vir Frankryk,” sê O.

Facebook wou nie oor die kwessie kommentaar lewer nie.

Haatspraak word nie meer as vryheid van spraak beskou nie. Dit is nou op dieselfde vlak as terrorisme.

“Dit stuur ’n sterk boodskap ten opsigte van regulering,” het Sonia Cissé van die regsfirma Linklaters gesê.

“Haatspraak word nie meer as vryheid van spraak beskou nie. Dit is nou op dieselfde vlak as terrorisme.”

Dié verwikkeling maak Frankryk nou die voorloper om groot sosialemedia-instellings te reguleer en ander platforms kan volg, sê Cissé.

Die gesprek oor die beste manier om tegnologiereuse te reguleer het verlede jaar begin met ’n ontmoeting tussen Zuckerberg en Macron. ’n Verslag oor regulasie is verlede maand uitgereik wat deur Zuckerberg as die bloudruk vir meer omvattende regulering in die Europese Unie bestempel is.

Die Franse parlement voer tans ’n debat oor wetgewing wat ’n nuwe reguleerder die mag kan gee om tegnologiemaatskappye boetes van tot 4% van hul wêreldwye inkomste op te lê indien hulle nie genoeg doen om haatspraak van hul netwerke te verwyder nie.

Chris Hughes, Facebook se medestigter, het die platform al as ’n sosiale monopolie beskryf en wil hê dat die groep ontbondel word.

“Ons kan nie streng reëls aan Westerse maatskappye opdwing en hulle ontbondel omdat hulle baie groot is en nie dieselfde met Chinese maatskappye doen wat die Westerse mark betree nie,” sê O egter met verwysing na groepe soos Alibaba en Tencent. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer