Familie dagvaar ná vrou sterf
'n Inwoner van Windhoek se man en dogters dagvaar 'n private hospitaal en dokter vir skadevergoeding.
Henriette Lamprecht – Die man en dogters van ’n vrou wat in ’n private hospitaal enkele ure ná haar aankoms weens ernstige hartversaking gesterf het, dagvaar die hospitaal en die dokter aan diens vir N$1,3 miljoen.
Mnr. Jacob Francois van Straaten en sy dogters, Susara en Marie-Louis, dagvaar Mediclinic Swakopmund en dr. Christoff Coetzee ná die dood van me. Wilhelmina van Straaten.
Volgens die besonderhede van die eis is Wilhelmina op 12 Julie 2018 omstreeks 14:30 in die noodeenheid van die hospitaal opgeneem. Sy het twee weke tevore ’n knie-artroskopie ondergaan en het gekla van ernstige braking, duiseligheid, kortasem, borspyn, ongemak en hewige sweet. Die verpleegpersoneel by die hospitaal het Coetzee glo herhaaldelik gebel om hom oor Wilhelmina se toestand in te lig en om “sy dringende hulp” te vra.
Twee ure ná haar opname is sy weens ernstige hartversaking en/of ’n bloedklont deur haar longe dood.
Haar man en dogters beweer in die hofstukke die hospitaal en personeel was nalatig omdat hulle nie verseker het ’n dokter is op die perseel of onmiddellik beskikbaar om mediese noodgevalle te hanteer nie.
Die hulp van ’n ander dokter is nie ingeroep toe Coetzee nie daarin kon slaag om betyds by die hospitaal te wees nie, terwyl Wilhelmina ook nie na die saal vir kritieke pasiënte oorgeplaas nie. Hospitaalpersoneel het ook nie besef haar steeds verslegtende toestand kan tot haar dood lei, sou sy nie onmiddellik behandel word nie.
Met verwysing na Coetzee, sê Wilhelmina se gesin ten spyte daarvan dat hy aan diens by die noodeenheid was, was hy nie in die omgewing van Swakopmund nie. Hy het ten spyte van die feit dat hy bewus was van Wilhelmina se verslegtende toestand, nie betyds aan verpleegpersoneel gesê hy was eintlik in Arandis en kon daarom nie betyds reageer nie.
Coetzee het volgens die hofstukke glo misluk om, totdat dit te laat was, reëlings vir ’n ander dokter te tref om Wilhelmina te ondersoek en te behandel. Hy het ook telefonies behandeling voorgestel sonder om haar te ondersoek en te weet of dit voldoende sou wees om die noodsituasie te verlig.
Susara was vanaf haar opname tot en met haar dood aan haar ma se sy en het volgens die eis haar ma se “voortgesette agteruitgang, stres, angs en uiteindelik haar dood” ervaar.
As gevolg van Wilhelmina se dood het haar man en twee dogters sielkundige skok, trauma, angs, stres en verlies van ’n eggenoot en ma ervaar en hiervoor eis elkeen N$450 000.
Coetzee sê in sy verweer die noodsentrum van die hospitaal het ’n roeplys wat voorsiening maak vir drie verskillende groepe dokters wat gelyktydig op bystand is, met elke groep wat daagliks roteer. Sou ’n dokter op die lys nie beskikbaar wees om na die noodsentrum te gaan nie, is daar volgens Coetzee ten minste twee ander dokters op bystand wat ingeroep kan word. Volgens hom het verpleegpersoneel hom twee keer gebel.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie