Familie en banke: Kabinet het 'ongekend' opgetree
Familie en banke: Kabinet het 'ongekend' opgetree

Familie en banke: Kabinet het 'ongekend' opgetree

Estelle de Bruyn
Buitengewoon en ongekend.

Só beskryf adv. Thuli Madonsela, voormalige openbare beskermer, die kabinet se besluit vroeër vanjaar om ministers opdrag te gee om te vergader met die banke wat hul sake gestaak het met die Gupta-familie en Duduzane Zuma, pres. Jacob Zuma se seun, se maat­skappy Oakbay.

“Die kabinet blyk ''n buitengewone en ongekende stap te gedoen het om in te tree in wat lyk na ''n dispuut tussen ''n private maatskappy wat deur die president se vriende en sy seun besit word.” Hierdie mening is vervat in Madonsela se verslag “State of Capture” wat Woensdag­ uitgereik is nadat pres. Zuma sy hofaansoek om dit te fnuik, laat vaar het.

Madonsela het gesê hierna moet gekyk word aan die hand van ''n moontlike botsing van belange tussen die president as staatshoof en sy private belange as vriend en pa.

Nadat die bewerings dat die Guptas by staatskaping betrokke is vroeër vanjaar begin ophoop het, het FNB, Standard Bank, Nedbank en Absa hul sake met Oakbay gestaak. Die Guptas het toe aan Pravin Gordhan, minister van finansies, Mildred Oli­phant, minister van arbeid, en Mosebenzi Zwane, minister van minerale hulpbronne, geskryf om hulle te vra om in te gryp.

Kort daarna in April het Jeff Radebe, minister in die presidensie en kabinetswoordvoerder, dieselfde drie ministers opdrag gegee om met die banke te vergader. Hy het toe gesê daar is niks onbehoorliks aan dié opdrag nie.

In September het die intrige verdiep toe Zwane ''n verklaring uitgereik het waarin hy beweer dié “ministeriële taakspan” het besluit dat ''n kommissie van ondersoek aangestel word om die banke wat hul bande met die Gupta-familie verbreek het, te ondersoek.

Die kabinet en presidensie het hulle van dié verklaring gedistansieer en gesê Zwane het dit in sy persoonlike hoedanigheid­ uitgereik. Opposisiepartye het Zwane se kop geëis en die ANC het gesê Zuma moet tugstappe teen hom instel, maar Zwane het volgehou dat hy die verklaring nie op sy eie verantwoordelikheid uitgereik het nie.

In Oktober, voordat die klag van bedrog teen hom teruggetrek is, het Gordhan die Noord-Gautengse hooggeregshof genader om ''n verklarende bevel uit te reik oor die magte van die regering om in te gryp by ''n dispuut tussen die Gupta-­maatskappye en die banke wat hul rekeninge gesluit het.

In ''n beëdigde verklaring in dié hofaansoek onthul Gordhan dat die Gupta-­familie by 72 beweerde verdagte transaksies van sowat R6,8 miljard betrek word.

In Madonsela se verslag word Zwane, wat al deur die DA die “minister van Gupta-­sake” genoem is, met ''n uiters verdagte transaksie van die Guptas verbind.

Madonsela voer aan vlugrekords dui aan dat Zwane vanaf 29 November tot 7 Desember 2015 in Switserland was en daar met die maatskappy Glencore,­ by wie die Gupta-Duduzane Zuma-maat­skappy­­ Tegeta die Optimum-myn gekoop het, se grootbase vergader het.

Madonsela het inligting van ''n “onafhanklike­ bron” ontvang dat Zwane met Ivan Glassenberg, Glencore se uitvoerende­ hoof, vanaf 30 November tot 5 Desember 2015 vergader het.

“Die ander individue teenwoordig by die vergadering was Rajesh Gupta en (Salim) Essa (''n Gupta-sakevennoot),” lui die verslag.

Luidens die verslag het sy vlugte sowat R96 630 gekos, maar daar kon geen bewyse gevind word hoe hy van Switserland­ na Doebai gevlieg het nie.

Zwane het voorheen ontken dat hy sy posisie misbruik het om die Guptas te help om die myn van Glencore te bekom.

-Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer