Familie waarsku polisie voor moord

'n Polisiebeampte het sy voormalige vriendin na bewering geskiet nadat sy 'n klag teen hom gelê het.
Tanja Bause
Tanja Bause - In nóg 'n vermeende geval van geslagsgeweld is me. Alina Kakehongo (24) gisteroggend glo deur haar voormalige kêrel, sers. Samuel Shali Nghihepa (28), doodgeskiet.

Kort ná die voorval is die lyk van nóg 'n weggooibaba in 'n oop veld in Katutura ontdek.

Volgens me. Daisy Simon, Kakehongo se tannie, wou Nghihepa die verhouding kort tevore beëindig ná hulle vir drie jaar saam was.

“Sy het na my toe gekom en gesê hy het dit beëindig, en ek het vir Alina gesê sy moet aanbeweeg en haarself nie aan hom steur nie – wat sy gedoen het,” het Simon gesê.

Volgens haar het sy en Kakehongo Dinsdag 'n klag teen Nghihepa by die Otjomuise-polisiekantoor gelê.

“Hy het haar met 'n pistool gedreig en ons wou 'n klag by die polisie se se eenheid vir die beskerming van vroue en kinders gaan lê, maar hulle kon ons nie help nie en het ons na die ernstige misdaadafdeling gestuur.

“Daar het hulle ons ook weggewys en na die Otjomuise-polisiekantoor toe gestuur omdat sy in Rockey Crest gewoon het,” het Simon gesê.

“Terwyl ons besig was om die klag te lê, het Nghihepa se broer ons gebel en gesê hy gaan homself doodmaak as ons die klag sou lê. Maar ek het daarop aangedring dat ons die klag lê,” het sy gesê.

Volgens Simon wou hulle al twee weke gelede 'n klag teen Nghihepa by die polisie lê.

“Hulle het egter gesê hulle gaan nie 'n saak teen hom oopmaak nie, maar hulle sal hom wel 'n waarskuwing gee,” het sy gesê.

Nadat hy die waarskuwing gekry het, het Nghihepa volgens Simon gesê hy het net “'n grap gemaak” en dat hy nie regtig die verhouding wou beëindig nie.

Kakehongo het egter vir hom gesê sy het aanbeweeg.

“Maandag het hy begin om seksvideo's van haar op sosiale media te versprei en om haar te dreig,” het Simon gesê.

“Ons was by die polisie en hulle het niks gedoen nie. Hulle het vir Alina gefaal. Ons het hulp gesoek, maar hy was 'n polisiebeampte en ons is nie gehelp nie. Nou is sy dood,” het Simon gesê.

Hoofinsp. Kauna Shikwambi, woordvoerder van die Namibiese polisie, het bevestig 'n klag van aanranding deur dreigemente is Dinsdagmiddag by die Otjomuise-polisiekantoor teen Nghihepa gelê.

“Nghihepa het die Louis Botha-supermark in Puccinistraat in Windhoek omstreeks 08:00 gister binnegestap en vir Kakehongo in die kop geskiet.

“Daarna het hy homself in die kop geskiet. Hy is glo op die toneel dood, terwyl Kakehongo op pad hospitaal toe gesterf het. Nghihepa was 'n sersant in die Namibiese polisie se spesiale reserwemag-afdeling wat sy dienspis­tool gebruik het om moord en selfmoord mee te pleeg,” het Shikwambi gesê.

“Hy was aan diens en moes om 08:00 vir diens aanmeld, en hy kwalifiseer om 'n dienspistool 24 uur in sy besit te hê,” het sy gesê.

Kakehongo was die bestuurder van die Louis Botha-supermark.

Werkers het geskok buite die winkel rondgestaan en gesê hulle het nie gesien wat gebeur het nie, omdat hulle agter in die winkel besig was.

“Toe ons die skote hoor, het ons gedink dit is 'n rooftog,” het een van die werkers gesê.

Dié voorval volg nadat die 20-jarige Jesaya Gabriel Chuhunda van Rundu op 3 Julie glo vyf familielede, waaronder drie kinders, doodgemaak het ná sy suster twee keer by die polisie om hulp aangeklop het.

Chuhunda het glo met sy suster skoor gesoek en haar aangerand voor hy die familielede ne bewering in 'n woedebui met 'n stok doodgeslaan het.



Weggooibaba

Die lyk van 'n sewe maande oue babameisie is gister om 09:00 in 'n oop veld langs 'n klein rivier in Psalmstraat in Katutura aan mnr. Pieter Burtze uitgewys.

“'n Man het in die veld geloop op soek na ou ysters, en die lykie gevind en my geroep. Ons het die polisie onmiddellik gebel,” het hy gesê.

“Hier loop elke dag baie mense en die lyk was nie gister hier nie. Dit moes gedurende die nag gebeur het,” het Burtze gesê.

Die lykie was nie toegedraai nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!