Faraway George stel nuwe album bekend

Lloyd Zandberg
Faraway George bou voort op die sukses van sy nuutste enkelsnit, “Sugar Cane”, met die vrystelling van sy langverwagte nuwe album, Burnt & Found, én ’n splinternuwe liedjie, waaroor almal gaande gaan wees.

“Armour”, sy tweede enkelsnitvrystelling van sy nuwe album, is deur die kunstenaar self geskryf. Die liedjie gaan daaroor dat jy jou drome só styf kan vashou en bewaar, dat jy dit kan uitstel en nooit uitvoer nie, wat beteken eendag word dan nooit nie.

“Terwyl ek besig was om klavier te speel en te dagdroom oor plekke waar ek nog nooit was nie, het die lirieke van hierdie liedjie by my vorm aangeneem,” sê hy oor hierdie kontemporêre snit.

“Dit is dikwels mense se drome wat hulle inspireer om groot dinge te doen, maar baie min kan terugkyk en sê dat hulle dit wel gedoen het. Die liedjie daag jou uit om ja te sê vir jou drome!”

Burnt & Found, wat die musikant en liedjieskrywer as “’n mengsel van Folk-akoesties en Indie, met elemente van Country wat plek-plek deurskemer” beskryf, is ’n album wat daarop gemik is om aanhangers te inspireer om weer die mense in hulle lewens te waardeer en te fokus op wat belangrik is, eerder as op die geraas van aardse dinge. Dit bestaan uit tien indrukwekkende oorspronklike snitte, waarvan nege uit sy eie pen kom. “Hold Up” het hy saam met sy broer, Fritz Günter, geskryf.

Die album se titel is ’n woordspeling op die Engelse term ‘lost and found’ – wat daarop sinspeel dat iets wat verlore is, weer gevind kan word.

Burnt & Found dui egter daarop dat dít wat verbrand het, vir altyd verlore sal wees. Oor die algehele gevoel van die album en wat hy hoop om daarmee te bereik, deel hy: “Ek geniet die idee dat mense my liedjies deel van hulle storie maak. Musiek behoort vir luisteraars die vryheid te gee om hulle eie wêreld en gevoel daaroor te vorm.”

Toe “Sugar Cane” laas November uitgereik is, het dit luisteraars juis beïndruk as gevolg van die liedjie se unieke aanslag – dit was een van vier snitte wat tydens ’n optrede opgeneem is. Nie net kry dit speeltyd op die meeste groot radiostasies nie, maar verskyn dit ook steeds op Lekker FM se Top 20-treffersparade en is dit al deur duisende mense gestroom.

Die grootste gedeelte van Burnt & Found se inhoud volg dieselfde benadering; dit is regstreeks opgeneem, op een dag, by die Centurion-teater. Oor dié besluit, wat nogal ongewoon in die bedryf is, verklap hy hy wil graag teruggaan na die basiese elemente van musiek maak toe.

Alhoewel hy natuurlik sy persoonlike gunstelinge het, wat “Hold Up”, “Armour” en “Sugar Cane” insluit, erken hy dit was nogal ’n uitdaging om die perfekte kombinasie liedjies vir die album te kies. “Ek het besef ek moet die eenvoud van die produksie waardeer en dus tevrede wees dat alles nie perfek gaan wees nie. Die kuns van ‘foute maak’ word gereeld misgekyk,” verduidelik hy.

Faraway George is in Pietersburg (Polokwane) gebore en het met jazz grootgeword. Hy het as tiener begin kitaar speel. Alhoewel hy aanvanklik argitektuur sou studeer, het hy dit vir sy musiekloopbaan opgegee. Sy debuut-kortspeelplaat, Vir ’n Vreemdeling, is in 2016 vrygestel.

Deesdae luister hy na ’n wye verskeidenheid genres, insluitend moderne folk, Afrikaans, alternatiewe musiek, Blues en Americana. Hy put groot inspirasie uit stories uit.

“Soms is dit my eie storie en ander kere is dit iemand anders se verhaal. Partykeer tower my verbeelding ook iets op en dan verewig ek dit in musiek,” gesels hy.

Die kunstenaar se planne vir die toekoms sluit ’n nuwe Afrikaanse album in, waaraan hy reeds begin werk het.

“Ek glo dat die proses moet vloei, so wanneer die inspirasie volop is, moet jy juis die krane oopdraai”.

Hy beplan ook meer optredes en fokus tans op feeste, soos Splashy Fen waar hy Augustus te sien sal wees.

Faraway George glo sy nuwe album en enkelsnit is die naaste aan wat hy nog ooit gekom het aan die klank wat hy graag met die wêreld wil deel.

“Musiek kan jou in baie verskillende rigtings stuur, maar ek voel asof ek nou doen waarvoor ek gemaak is,” sluit hy af.

LYS VAN SNITTE:

· Wilderness

· Sugar cane

· Armour

· Hey sister

· Thorn in my side

· When the sun comes through

· Hold up

· Blue and grey

· Willow

· Almal sien in kleur

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!