Fats, Olive en die spoke van Matjiesfontein
Fats, Olive en die spoke van Matjiesfontein

Fats, Olive en die spoke van Matjiesfontein

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Toe ons op 'n koue oggend in Julie die motor se neus in Kaapstad noord druk, rigting Paarl, lyk dit of Moeder Natuur lepels vol room op die berge se pieke geskep het.

Asof sy wil sê: Vatso, girls! Geniet elke oomblik van julle road trip.

Die voorruit wasem toe van die binnekant af. Ons harte klop warm.

In die Du Toitskloof-tonnel druk ek die toeter van pure lekkerkry.

Soos 'n wafferse Thelma en Louise is ek en Sonnette op pad Karoo toe.

Anderkant die Hexriviervallei trek ons by Die Veldskoen-padstal af. Binne knetter die kaggel. Ons hande vou salig om die koppies warm tee.

Sonnette reis reeds die laaste 26 van my 50 lewensjare metafisies met my saam. Die Karoo-reis is 'n viering van dié vriendskapspad.

Matjiesfontein is ons volgende stop. Dié gehuggie was aanvanklik net 'n stilhouplek langs die spoorlyn waar stoomlokomotiewe van vars water voorsien is. Die dorpie kry in 1884 gestalte toe die Britse immigrant James (Jimmy) Logan hom daar vestig.

In 1890 bou hy die bekende Lord Milner-hotel.

Weldrae het Matjiesfontein 'n toevlugsoord vir bekende persoonlikhede soos Cecil Rhodes, Olive Schreiner van The Story of an African Farm-faam, lord Randolph Churchill, broer van Sir Winston en skrywer Rudyard Kipling geword.

Links van die enigste stofstraat hurk die Victoriaanse huisies en ander geboue onder peperbome en bloekoms. Broekieskant kartel om die stoepe.

By Olive se huis tussen die Standard Bank en die poskantoor poseer ek vir 'n foto. “Experience teaches us in a millennium what passion ­teaches us in an hour” bly een van my gunstelingaanhalings uit The Story of an Arican Farm.

In die groot tuin agter die Lord Milner hark John Theunesseun ons nader.

“Hei, julle twee met julle perdeby­lyfies . . . wil julle 'n spook sien?”

Sy basstem reis oor die Karoovlaktes.

John is die plaaslike toergids en storieverteller. Vir jare al. Én hy is Matjiesfontein se eie Fats Domino.

In die lounge is die Royal Albert-teekoppies en silwerware al uitgepak vir wanneer die gaste van die Bloutrein binnekort op Matjiesfontein toesak en kom aansit vir komkommertoebroodjies en ander pinkie-in-die-lug teehappies.

John bulder voor ons uit. Ons en die spoke trippel agterna. In die swierige sitkamer lig hy 'n groot, silwer trofee omhoog.

“Dit is die beker wat Suid-Afrika verower het tydens die eerste vriendskaplike krieketwedstryd in 1896 teen Engeland.”

Voor die venster staan 'n 300 jaar oue harp. Uit 'n laaikas teen die muur haal hy 'n geraamde foto waarop hy saam met twee jong kinders in dié einste vertrek pryk. En jou wragtig, agter hulle is die wasige beeld van 'n vrou sigbaar. “Ons sien die spook!” laat ons opgewonde hoor.

Sy stem dra weer by die deur uit en soek die vlaktes op: “Kom Perdebylyfies, nou gaan ons sing . . !”

In die kroeg skuif hy agter die klavier in en trek weg met Fats se “On Blueberry Hill”. Sy groot lyf wieg die lirieke ritmies uit: “Though we're apart/You're part of me still/For you were my thrill/On Blueberry Hill."

Kilometers weg neurie ons steeds aan Blueberry Hill.

In die Verlatenkloofspas lê die sneeu in wit plasse teen die swart rante. Vanaand slaap ons op ­Sutherland: plek van stilte, sterre en skape.

Môre is nog 'n dag. En 'n padkaart vol moontlikhede.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer