FBI gevra om na Trump-oproep te kyk
FBI gevra om na Trump-oproep te kyk

FBI gevra om na Trump-oproep te kyk

Francoise Steynberg
Die staatsekretaris van die Amerikaanse deelstaat Georgia het sy stilte verbreek nadat pres. Donald Trump hom glo in 'n telefoongesprek aangemoedig het om die deelstaat se stemme te herbereken.

Groot omstredenheid heers nadat 'n opname van die uur lange telefoongesprek Saterdag tussen Trump en die Republikein Brad Raffensperger, Georgia se staatsekretaris, Sondag uitgelek het.

Ná 'n aanvanklike stilte het Raffensperger later Maandag in reaksie gesê hy het van die begin af geglo 'n gesprek met Trump sal onvanpas wees, maar hy beweer Trump het daarop aangedring.

Trump het die afgelope twee maande verskeie pogings aangewend om die presidentsverkiesing se uitslae van 3 November te betwis met aantygings van verkiesingsbedrog nadat die Demokrate se presidentskandidaat, Joe Biden, as die aangewese president verkies is.

Verskeie howe, asook staats- en federale verkiesingsbeamptes, het reeds Trump se aantygings as ongegrond bestempel.

In die gesprek met Raffensperger plaas Trump oënskynlik druk op hom om die deelstaat se verkiesingsuitslag te ondersoek aangesien Trump “net 11 780 stemme” nodig het.

Georgia se uitslag is reeds twee keer hertel en Biden se oorwinning met 11 779 is bekragtig.

Raffensperger, wat Trump se aantygings van verkiesingsbedrog in die oproep verwerp, het intussen op ABC se gewilde ontbytprogram, Good Morning America, gesê tydens die gesprek het Trump die meeste van die praatwerk gedoen, terwyl hy geluister het.

Raffensperger sê hy het aan Trump probeer verduidelik dat die data in sy besit verkeerd is.

“Hy het die name van honderde en honderde mense wat hy sê dood is, maar gestem het. Ons het twee opgespoor. Dit is 'n voorbeeld van die swak data wat hy het.”

Intussen is die federale speurdiens (FBI) genader vir 'n ondersoek na die oproep. Die versoek vir 'n onmiddellike strafregtelike ondersoek is deur twee Demokrate van die kongres gerig omdat hulle glo Trump het daardeur 'n aantal verkiesingsmisdade gepleeg.

Biden, wat die verkiesing met 306 teenoor 232 stemme in die Amerikaanse kieskollege gewen het, se oorwinning sal Woensdag amptelik bekragtig word.

Planne van Trump se bondgenote om teen die oorwinning beswaar te maak, is wyd bekend.

Mike Pence, visepresident van Amerika wat vandag oor die verrigtinge sal toesig hou, het reeds bevestig dit is die Republikeine se reg om beswaar aan te teken. Al sou die Republikeine in die senaat egter suksesvol wees met hul besware, sal die veldtog in die Amerikaanse huis, wat deur Demokrate beheer word, steeds misluk. – Reuters/Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!