Fed se hoër rentekoers knou rand
Die verhoging is die eerste een sedert Desember 2016 en slegs die tweede een sedert die finansiële krisis in 2008.
Die rand het gisteroggend tot R14 teen die Amerikaanse dollar verswak en die hele voormiddag in dié omgewing geboer nadat dr. Janet Yellen, voorsitter van die Amerikaanse Federale Reserweraad (Fed), Woensdag aangekondig het dat die rentekoers gaan styg. Die Fed het die rentekoers met 0,25 persentasiepunt opgestoot tot tussen 0,5% en 0,75%. Dit word gesien as 'n aanduiding dat rentekoerse meer in 2017 verhoog kan word. Dit voorspel niks goeds vir die rand nie en Suid-Afrikaners en Namibiërs moet hulle klaarmaak dat die rand verder kan verswak, wat alle invoer-pryse insluitend brandstofpryse onder druk sal plaas om skerp te styg. Oorsese beleggingsmaatskappye kan besluit om hul beleggings aan ontluikende lande te onttrek en eerder in veiliger rentedraende beleggings in dollar te belê. Suid-Afrika is een van die ontluikende lande wat swaar getref kan word deur dié soort beweging omdat die plaaslike finansiële mark baie likied is. Met die verkiesing van Donald Trump as president en sy beplande belastingverminderings en groter besteding aan infrastruktuur, meen die Fed dat vooruitsigte vir ekonomiese groei beter is, dat werkloosheid laer gaan wees en inflasie net binne sy teikenband van 2% sal wees. Die verhoging is die eerste een sedert Desember 2016 en slegs die tweede een sedert die finansiële krisis in 2008, toe die Fed rentekoerse verlaag het tot naby aan nul om saam met onder meer grootskaalse aankope van effekte die ekonomie te probeer stabiliseer. Aandele Die goudprys het tot sy laagste vlak in 10 maande geval omdat beleggers glo goud se status as toevlugsoord sal verswak te midde van beter opbrengste wat hulle in Amerikaanse kapitaalmarkte kan verdien danksy die hoër rentekoers. Ook die Chinese geldeenheid, die yuan, het tot sy swakste vlak in agt maande geval in reaksie op die sterker dollar. Die goudprys het tot so laag as US$1 134 per fynons gedaal, veral oor die vooruitsigte vir verdere rentekoersverhogings in 2017 wat die vooruitsigte vir goud verdof. Daniel Hynes, ontleder van ANZ, sê die goudverkope is net die begin, en die omgewing raak moeilik vir goud gegewe die sterker dollar. In die Asiatiese markte het Chinese aandele minder skerp geval as die res van die mark. Weens streng valutabeheer in China het Chinese aandele 'n kleiner blootstelling aan internasionale markwisselvalligheid. Energie-aandele het met meer as 2% geval saam met oliepryse wat oornag teruggesak het. Maar oliepryse het gister weer begin stabiliseer. Japanse aandeelpryse het wel gestyg, met die Nikkei in Tokio wat met 0,36% gestyg het. Die JSE se indeks van alle aandele was Woensdagaand 0,24% laer op 50 716. – Netwerk24/Reuters
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie