Fees van woorde, geskiedenis en stories
Filosofiegesprek
Prof. André du Pisani gesels in dié gesprek oop en krities met dr. Niël Barnard oor sy boek, Geheime Revolusie: Memoires van ’n spioenbaas.
In die duistere wêreld van spioene geld die gewone reëls nie en is alles geoorloof in die naam van landsveiligheid – selfs om met die staat se Vyand No. 1 te praat.
Dit is presies wat dr. Niël Barnard in die laat 1980’s as hoof van die Nasionale Intelligensiediens (NI) gedoen het. In opdrag van P.W. Botha het hy in die geheim gesprekke met Nelson Mandela begin voer oor die moontlikheid van ’n demokratiese verkiesing en ’n meerderheidsregering. Nie eens die kabinet was bewus van hierdie gesprekke nie.
Barnard, ‘n gebore Namibiër wat op Otjiwarongo grootgeword en skoolgegaan het, se boek Geheime Revolusie onthul besonderhede oor hierdie ontmoetings – die eerste stap in die rigting van ’n demokratiese Suid-Afrika – asook oor die spesiale persoonlike band wat tussen die twee mans ontwikkel het. Sowel Mandela as Barnard was sterk persoonlikhede wat by tye hardkoppig en selfs kwasterig kon wees, maar al twee het die gewig besef van dit waarmee hulle besig was.
Die boek bied ook ’n fassinerende blik op die alledaagse lewe van spioene en die suksesse van NI in die 1980’s. As spioenbaas het Barnard daarin geslaag om bande te vestig met vriende en vyande van die Suid-Afrikaanse staat. Hy het nie net talle Afrika-leiers besoek in ’n tyd toe Suid-Afrika die muishond van die wêreld was nie, maar selfs intelligensiebande met kommunistiese Rusland gebou.
Skrywerspraatjies
Deon Lamprecht, skrywer van Tannie Pompie se Oorlog: In die Driehoek van die Dood.
Sy was ’n rots, ’n legende in die Bosoorlog van die 1980’s. ’n Fors boervrou wat kon toor met ’n militêre radio, daar waar sy met oorfone op tussen die potte en panne in haar plaaskombuis gesit het met ’n wêreld van brullende dieselenjins, stof, geweerskote en landmyne in haar ore.
So was dit ook dié wintersoggend van 15 April 1982, toe ’n dringende “Kontak! kontak!” oor die sender kom. Tannie Pompie van der Westhuizen was soos gewoonlik op haar pos by haar kombuistafel, sigaret tussen die vingers, skoondogter aan’t wasgoed ophang buite. Hul plaas, Koedoesvlei, was so 80 km buite Tsumeb. Haar man, Daantjie, en skoonseun, Hendrik, is die oggend vroeg al met die Boesman-spoorsnyers weg nadat die nuus deurgegee is van ’n Swapo-infiltrasie.
Maar dié dag sou Pompie saam met die lys gesneuweldes ook twee bekende name hoor . . . sorgvuldig ook hul naam, rang en eenheid deurgee. Sy het egter op haar pos gebly en eers die oorfone afgehaal toe die helikopter met die kapelaan aan boord buite die opstal land, en haar dogter ineenstort toe sy die nuus hoor.
Die vonk vir die Huisgenoot-joernalis Deon Lamprecht se boek oor tannie Pompie het gekom in 2010 toe hy nog by Rapport was.
“Ek is deur ’n veteraanbeweging van die weermag genooi om verslag te doen oor ’n helingsreis na al die ou slagvelde: Tsumeb, Cuito Cuanavale, Cassinga . . .Dis eers toe ek die details sien dat ek besef het dis my ou eenheid, 61 Gemeganiseerde Bataljon (ofte wel 61 Meg).
“Die reis het my oë oopgemaak vir baie dinge waarvan ek as bloedjong geïsoleerde troepie uit die States nie bewus was nie. Een daarvan was die ervarings van die gewone burgerlikes en boere wat vasgevang was in ’n oorlog wat nie hul keuse was nie, en wat daar agtergebly het nadat Suid-Afrika hom aan die land onttrek het.
“Ons Suid-Afrikaners het huis toe gekom. Die plek waar hulle geveg het, wás hul huis. Een naam het al hoe meer opgeklink, dié van tannie Pompie, die radioseiner van Koedoesvlei.
“My storie wil ’n kykie gee na een aspek van ’n oorlog wat baie kante en uiteenlopende rolspelers gehad het, elkeen met hul eie ervarings en belewenisse en opofferings en uitkomste,” sê hy oor ’n tydperk in die Namibiese geskiedenis wat diep wonde gelaat het, maar ook die weg gebaan het vir die vrede en voorspoed wat die land nou beleef.
Dirk Mudge, skrywer van Enduit vir ’n onafhanklike Namibië.
Die oudpolitikus Dirk Mudge publiseer op 87-jarige ouderdom sy langverwagte outobiografie.
Soos elke Namibiër weet, was hierdie legendariese man vir 33 jaar voltyds betrokke by die politiek van Suidwes-Afrika en later Namibië. Hy betree die politiek in 1960 toe hy lid word van die Wetgewende Vergadering onder die Nasionale Party van Suidwes-Afrika. Mudge beskryf hoe hy aanvanklik die beginsels van die Nasionale Party onderskryf het, maar mettertyd tot ander insigte gekom het. Dit het onvermydelik tot sy uittrede uit die Nasionale Party gelei en tot die stigting van sy eie party: die Republikeinse Party.
Hy het ’n persoonlike aandeel gehad in die skryf van die nuwe Grondwet vir die Republiek van Namibië en probeer in hierdie boek antwoorde verskaf op vrae soos waarom dit Namibië so lank geneem het om onafhanklikheid te bereik en wat die rol van Suid-Afrika en die internsionale gemeenskap daarin gespeel het.
Die uitdaging en aftakeling van diskriminasie waaraan Mudge sy lewe gewy het, is volgens prof. Joseph Diescho “’n Damaskus-verhaal wat nooit uit die Namibiese geskiedenis weggeverf mag word nie”.
Diescho was een van die sprekers toe sy biografie in Mei in Windhoek bekend gestel is. Hy het hierdie belangrike “Afrika-boek” as ’n volkskroniek bestempel. “Dit is nie Dirk Mudge of die DTA se verhaal nie, dit is ons almal se verhaal en die storie hoe die fondamente gelê is wat van ons die mees stabiele land op die vasteland maak,” het hy gesê. “’n Verhaal wat vertel hoekom ons vandag veilig onder die kombers van vrede en veiligheid kan slaap.”
Elsa van der Merwe, skrywer van Marionette.
Ná 30 jaar van getroude lewe staan Willemien Niemann voor ’n kruispad-keuse: Moet sy getroud bly ter wille van haar kinders en haar erfgrond, of moet sy skei.
Kan sy op haar eie oorleef nadat Neels haar selfrespek en menswaardigheid met manipulasie en emosionele teistering uitgewis het en daar niks oor is van haar ou self nie? Sy probeer sin maak waarom sy dit toelaat, hoe sy hier beland het, wat haar aandeel in sy woedebuie is. Is hy wat hy is as gevolg van haar? En waarom kan sy nie net voet neersit en sterk staan nie?
Binne een seisoensirkel van die druif en met die hulp en ondersteuning van Lea, haar huishulp en kleintyd-speelmaat, kom sy tot die insig dat sy nie ’n willose slagoffer van die lewe of die natuur is nie, maar iemand wat self verantwoordelik is vir haar keuses – ook die gevolge daarvan. Maria se gesegde dat “swaweltjies nie die vinkies kan help om nes te bou nie, al sukkel die vinkies hoe”, geld nie meer nie. Geen mens is ’n eiland nie en as sy opkyk, sien sy die genadehande wat haar elke dag dra.
Marionette gaan oor die emosionele aftakeling en mishandeling wat daagliks - in ’n mindere of meerdere mate - in huishoudings wêreldwyd afspeel - ongeag kleur, kultuur, godsdiens of finansiële status.
Marionette se boodskap is dat geen mens die slagoffer van die lewe of van sy omstandighede is nie. Jy is wie en waar jy is op grond van elke keuse wat jy in jou lewe gemaak het en steeds maak. Jy kán kies wie jy is, wat jy dink, hoe jy voel en hoe jy reageer op wat die lewe opdis.
Van der Merwe, ’n oudonderwyseres en motiveringspreker, woon reeds sowat drie dekades in Windhoek. Haar vorige boek, Rookkringe, het in 2000 verskyn.
Kobus Lombard, digter van die bundel Skadu oor die sonwyser.
Die vierde digbundel van hierdie Namibiese digter word gekenmerk deur ’n sterk gevoel vir plek.
Soos te verwagte, is daar verwysings na talle plekke in land soos Gobabis, Rundu, Swakopmund, Windhoek, die Okavango- en Nossobrivier, die woestyn en die seekus van die dood.
Selfs in gedigte waar daar geen duidelike verwysings na die Namibiese landskap is nie, bly die leser bewus van die wye en dikwels ongenaakbare landskap wat die agtergrond vir die meeste gedigte vorm, soos in “Ylblou berg”: “ . . . word hy bruin en ruig begroei/met swart voëls wat sirkel/teen die grynslag van sy kranse”.
Hierteenoor is daar in baie gedigte ook sprake van kleiner, intiemer en mensliker ruimtes: ’n strandhuis, die binneruimte van ’n kerk, museums, restaurante, selfs grafte en ’n klerekas.
Met sowel die groter as die intiemer ruimtes tree die digter in gesprek. Dit is opmerklik hoe dikwels die aanspreek van plekke, mense en dinge die inslag van die gedigte vorm, asof die digter homself gedurig in verhouding met die ander stel en in die gedig hierdie verhouding wil verken en peil.
Verweef met die menslike verhoudings is ook die verhouding met die verlede, met sy eie kinderjare en ’n verbygegane plattelandse lewe, wat nooit geromantiseer word nie, maar met ’n effens ironiese toon opgeroep word, soos in die gedig “Gobabis”, waar die verval van die dorpie so geteken word: “die stof hang ’n kring om die sweet van jou tiervelhoed/die vensters van jou oë is gebreek/jou mure skilfer soos oumensvel”. Die digter kyk ook ewe ironies na menslike gedrag in verskillende kontekste: kerkgangers, besoekers aan restaurante, die beheptheid met fiksheid, die verandering van straatname en selfs sy eie skryfpogings.
Oor al hierdie dinge en verskynsels val die skaduwee van die sonwyser, en word die leser vroeg reeds bewus van die verbygaan van tyd sodat sekere dinge onafgehandel moet bly (“Ongevra”) en die onvermoë om te behou of te bestendig: “vergeefs soek ons taal/wat ruik na vars hopies grond/om ons verliese te begrawe”.
Lombard is in 1952 in Waterval-Boven gebore en het as ’n aangenome kind – uit die Maria Klopper-kinderhuis – in Gobabis, Namibië, grootgeword.
Sy debuutbundel, Geknipte naelstring, word in 2001uitgegee deur Protea Boekhuis waarvoor hy in 2003 die kortlys haal vir die Ingrid Jonker-prys. Sy tweede bundel, Tussen wysvinger en duim, en sy derde bundel, Vlerke vir my houteend verskyn onderskeidelik in 2005 en 2010.
Kassie:
Kollig stel volgende Donderdag aan lesers die drie storievertellers voor saam met wie feesgangers op 15 Augustus om die Storievuur kan kuier.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie