Feestyd op Outjo

Gerine Hoff

Mariana Balt - Die gewilde Outjo Wildsfees en wildveiling vind vanjaar op 2 en 3 Mei plaas.
Die verrigtinge begin reeds die Vrydag om 08:00 so uitstallers kry nou die geleentheid om oor twee volle dae hul ware uit te stal.
Verskeie Suid-Afrikaanse en Namibiese kunstenaars soos Ray Dylan (Vrydagaand), Christo en Kobus (Vrydag en Saterdag) en Theuns Jordaan (Saterdagaand) gaan deurlopend optree.
Vrydag kan daar kaas en wyn én lekker kos geproe word met 'n kookkuns aanbieding deur Tian van Kokkedoor en Sarah Theron.
Ander aktiwiteite sluit skyfskiet en kleiduifskiet in waar groot pryse losgeskiet kan word. Die jaarlikse rodeo beloof om ook weer baie aftrek te kry en kinders kan weer die hele tyd heerlik op die terrein in die kinderpretpark kom baljaar.
Dis ook die tyd vir die jaarlikse wildveiling en met die reën wat lyk of dit besig is om droogteverligting te bring kan dit 'n interessante veiling wees, se komiteevoorsitter Fanie Heimstädt.
Met 'n beskeie begin in 2004, het die Otjikondo Boerevereniging se Wildsfees nou gegroei tot 'n toonaangewende fees met topkunstenaars en 'n wildveiling wat as maatstaf dien vir ander soortgelyke veilings.
Die wildsfees het ontstaan uit die idee om 'n gemeenskapsfees daar te stel en geleentheid te skep waar persone en instansies uit die gemeenskap stalletjies en aktiwiteite kan aanbied om hulle produkte en dienste aan die publiek bekend te stel en sodoende 'n inkomste te genereer. Boonop bied dit natuurlik lekker kuiertyd aan vriende en familie.
Sedert 2005 het die Otjikondo Boerevereniging 'n meer permanente terrein vir die wildsfees op Sophienhof Lodge se gronde gekry waar pret, vermaak en allerlei stalletjies deur die hele naweek van die fees aangebied word. Sedert 2010 is die rodeo 'n gewilde deel van die program waar Kamanjabse boerseuns 'n bul wat Amerikaanse cowboys twee keer sou laat dink, laat les opsê!
“Hierdie wildsfeeste het oor die afgelope 10 jaar besoekers en wildkopers van heinde en verre na Outjo gelok. Met die uitstekende samewerking van borge soos groot ondernemings, banke en koöperasies kon Otjikondo Boerevereniging daarin slaag om die Outjo Wildsfees 'n uiters suksesvolle jaarlikse instelling te maak,” sê die organiseerders.
Nie net word die wildbedryf beter aan die publiek bekendgestel nie, maar selfs die kosverskaffers word aangemoedig om wild op hul spyskaarte te hê. Dis natuurlik dié plek om biltong en droëwors by die kilogramme in die hande te kry...
“Ons is trots daarop ook om dit as 'n gemeenskapsfees te sien waar die mense en ondernemings van die dorp hul produkte trots aan feesgangers van reg oor die land en ook vanaf Suid-Afrika bekendstel.”
Die feeskomitee ondersteun ook verskillende projekte op Outjo (soos die Droom vir Outjo-projek) en vanjaar het hulle die Privaatskool Moria genader om met die fees te help en sodoende fondse vir die skool in te samel.
Die hoofborg vanjaar is Windhoek Draught wat dit moontlik maak om die fees oor twee volle dae aan te bied.
Die organiseerders het tans 'n kompetisie op hul Facebook-bladsy waar deelnemers toegangskaartjies kan wen deur hul vriende aan te moedig om ook van die bladsy te hou.
Akkommodasie is oral by gastehuise asook in ' tentedorp wat deur I Dream Africa opgerig word, beskikbaar. Die webtuiste http://outjo-wildsfees.com bied meer inligting hieroor en oor die volledige program.
Vir verdere navrae skakel Fanie en Lindie Heimstädt by 067 312 129 of e-pos [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!