Ferrari weer sterkste handelsnaam ter wu00eareld
Ferrari weer sterkste handelsnaam ter wu00eareld

Ferrari weer sterkste handelsnaam ter wêreld

Francois Williams



Die Italiaanse sportmotorvervaardiger Ferrari het steeds die wêreld se sterkste handelsnaam, het Brand Finance bevind.

Hierdie internasionale onafhank­like handelsnaamwaardasiefirma het Donderdag sy 2020-lyste van die wêreld se sterkste asook die waardevolste handelsname op die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) se jaarberaad in Davos, Switserland, bekend gemaak.

Dit is die tweede ­agtereenvolgende jaar dat Ferrari as die sterkste handels­naam deur Brand Finance gereken word.

Op die lys van sterkste handelsname rangeer Brand Finance handelsname volgens hul relatiewe posisie wat beleggings in bemarking, sakeprestasie en belanghebbers-ekwiteit betref.

Saam met Ferrari op die lys van die top-tien- sterkste handelsname is Disney en die Chinese kitsbood­skapdiens WeChat, die Chinese ­internetreus Tencent (aan wie WeChat behoort), die ouditgroep ­Deloitte, Coca-Cola, Rolex, die oudit­groep PwC asook die internetbetaalstelsel PayPal.

Bloot op grond van handelsnaamwaarde is die e-handelreus Amazon weer die derde agtereenvolgende jaar die wêreld se waardevolste handelsnaam, gevolg deur Google, wat vanjaar met drie plekke geklim en Apple op die tweede plek onttroon het.

Amazon se handelsnaamwaarde word gereken op US$220,8 miljard – dit is die eerste keer dat die perk van US$200 miljard verbygesteek is. Die handelsnaam is nou 18% meer werd as verlede jaar se US$187,9 miljard

Daar is helaas geen Suid-Afrikaanse handelsname of hoegenaamd eens enige Afrika-handelsnaam op Brand Finance se lys van die wêreld se 500 waardevolste handelsname nie.

Hoewel Amazon die waardevolste handelsnaam is, toon die groei van twee Duitse kleinhandelgroepe, Lidi en Aldi – die twee handelsname in die kleinhandelsektor wat die vinnigste groei – dat e-handel nie noodwendig die enigste roete na sukses in dié bedryf is nie, sê Brand Finance.

Vier uit die vyf voorste telekommunikasie-handelsname het waarde verloor die afgelope jaar, met AT&T, wie se waarde met 32% die meeste geval het. David Haigh, ­uitvoerende hoof van Brand Finance, skryf dit aan die groeiende mededinging van ­internet-stromingsdienste en nuwe, opkomende handelsname toe.

Die slimfoon-taxidiens Uber se handelsnaamwaarde het met 'n derde gedaal, maar Tesla het op sy beurt gewys dat hy – met 'n groei van 65% van die vorige jaar se lys af – wat waarde betref die handelsnaam is wat die vinnigste groei.

Die waardevolste nuwe handelsnaam op die lys van 500 is Saoedi-Arabië se staatsbeheerde oliereus Saudi Aramco met US$46,8 miljard. Dit is 24ste op die lys en volg op die grootste notering in die geskiedenis.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!