Fiets sal sy aanhou ry

Die gedugte Irene Steyn laat haar nie deur 'n mediese kondisie terughou nie.
Tanja Bause
Tanja Bause



“Elke keer as ek die Dash of ander resies wen, weet ek dat ek dit nie alleen doen nie. Ek sal dit nooit alleen kan doen nie. Vandat ek siek geword het, dink ek veel anders oor dinge en dit gaan vir my oor my geloof.

“Ek weet dat wanneer ek ry, ek nie net op myself kan staatmaak nie. Wanneer ek op daai podium staan, weet ek dis eintlik 'n wonderwerk en genade, want enigiets kan gebeur; enigiets kan verkeerd gaan en ek is baie dankbaar wanneer ek daar staan.”

So vertel Irene Steyn, die vrouewenner van die 2021 Nedbank Desert Dash soloresies.

Dis die tweede keer dat sy die Dash wen en die vierde keer wat sy dit gery én die podium gehaal het.

Irene is in Windhoek gebore en het ná skool in Bloemfontein gestudeer. In 2004 het sy met Philip in die huwelik getree en het sy deur haar man, 'n driekampatleet, in fietsry begin belangstel.

“Ek was nog altyd aktief en lief vir sport. Ek was 'n drawwer toe ek vir Philip ontmoet het. Deur hom het ek begin fietsry.”

In 2005, nadat Irene voorbe­hoedmiddels gebruik het, het sy siek geword en is sy met Faktor V Leiden op haar chromosoom gediagnoseer.

“Dis 'n versteuring van die bloedstolling wat meebring dat my bloed maklik stol; veral in baie warm omstandighede. Ek dehidreer ook baie vinniger en moet baie vloeistof drink. Ek is sensitief vir estrogeen en dis hoekom ons dit agtergekom het toe ek die voorbehoedmiddel gebruik het.”

Nadat sy siek geword het, is vasgestel dat 'n aar aan die regterkant van haar brein heeltemal verkalk was as gevolg van bloedklonte.

“Dit was 'n kombinasie van die geen en die estrogeen wat die stolling veroorsaak het. Die klonte is met bloedverdunners opgelos en ek het vir 'n lang tyd net gedraf en nie meer fietsgery nie, maar ek was aktief.”

Irene het nog altyd gereeld kopseer gekry en dokters het haar vir sinus behandel.

“My dokter het later gesê sy wil weghardloop as ek met nog 'n kopseer by haar kom, omdat hulle nie meer geweet het wat om te doen nie. So toe ek nou siek word en gediagnoseer is, kon ons uiteindelik die kondisie behandel. Daar was behalwe die kopseer geen ander waarskuwingsteken nie.”

Sy was ná haar swangerskap nie meer op medikasie nie en het ook weer later begin om ernstig fiets te ry. In 2016 het sy aan die Skyride bergfietswedren by Heja Lodge buite Windhoek deelgeneem toe sy 'n bloedklont in haar brein gekry het.

“Ek kon skielik tydens die wedren nie meer uit die een oog sien nie en het vir my man daarvan gesê. Ons het gestop ek het 'n paar keer my oë geknip en ons het voortgery, soos fietsryers nou maar doen. Ek het goed gery en die resies ook nog gewen en toe word ek baie siek.”

Sy het 'n dokter en neuroloog gaan sien en ná 'n breinskandering is uitgevind dat sy 'n bloedklont in die gedeelte vir motoriese beheer in haar brein gehad het.

“Ek het begin om bloedverdunners te neem, iets wat ek nou elke dag moet drink om bloedklonte te voorkom. Ek is ook deur dokters aangeraai om nie meer bergfiets- of uithouresies te ry nie omdat dit te gevaarlik is. As ek sou val en bloei, kan dit baie sleg eindig. Dis nie dat ek nie vir die dokters geluister het nie, maar ek het weer begin fietsry, seker maar omdat ek nog altyd aktief was en dis iets wat my gelukkig maak.

“Maar so iets bly altyd in jou agterkop. Sodra jy 'n kopseer kry, dan dink jy dat jy dalk bietjie te hard gery het, of dat jy miskien besig is om dit te oordoen. Wanneer ek die Dash ry, dan wonder ek of ek nou dalk te ver is en of dit nie nou te warm is. Soms vra ek my man seker 100 keer voor die reisies of ek oukei sal wees.”

Volgens Irene het sy twee episodes in haar lewe gehad; die eerste in 2005 en toe weer in 2016.

“Die laaste een was baie skielik en sonder waarskuwing en dit het 'n impak op jou. Jy begin voel dit wat jy doen, is gevaarlik en dat jy nie meer dié of daai kan doen nie.

“Jy dink ek kan nie en ek moet nie, maar dan het ek ook aan die mense gedink wat graag iets wil doen en nie kan nie. Ek preek baie vir my kinders dat daar talle mense is wat wil en nie kan nie; ek kan nog.

“Aan die begin was dit natuurlik nie maklik nie en ek het elke dag die vrees gehad dat ek iets sal oorkom, maar nou dink ek nie meer regtig daaraan nie. Ná 'n resies soos die Dash dink ek natuurlik daaraan dat dit 'n resies met ekstreme kondisies is, baie hitte en aan alles wat kan gebeur soos dehidrasie, maar dis ná 'n resies.”

Dis juis die uithouresies waarteen die dokters gewaarsku het, omdat die risiko vir bloedstollings deur dehidrasie beduidend groter word, maar volgens Irene vaar sy van nature beter oor langer afstande en is sy deeglik bewus van wat sy kan en nie kan doen nie.

“Ek waag nie onnodige risiko's nie. Ek het net daai tyd 'n besluit geneem om weer fiets te ry omdat dit my gelukkig maak. Dis so goed sy sê vir my kies 'n nuwe stokperdjie. Ek weet van die gevare wat bergfietsry inhou en ek is versigtig, maar ek sal steeds opdaag en dit geniet.

“Wanneer ek tydens 'n wedren sien ek kan nie by 'n sekere punt op- of afry nie, dan klim ek af en stap.

“Ek is glad nie skaam om te stap nie; my fietsryskoene is al deurgestap en dis oukei met my. Ek stap eerder as dat ek 'n kans waag.”



DIE DESERT DASH

In 2017 het sy vir die eerste keer aan die Desert Dash deelgeneem en weens uitputting nie die wedren klaargemaak nie. Sy het die volgende vier jare weer deelgeneem en was die laaste twee jaar die algehele vroue­solowenner.

“In 2018 het ek nie geweet wat ek moet verwag nie; nie soseer van die Dash nie, maar eerder van my eie liggaam. Ek het elke myl wat ek gery het gedink ek moet dankbaar wees om dit te kan doen.

“Ek was gelukkig om die twee kere ná mekaar te wen. Met die Dash het jy geluk nodig, want soveel kan verkeerd gaan.”

Sy probeer om elke dag positief te bly en verkies om die glas halfvol te sien.

“Dis seker maklik om te praat as jy aan die wenkant is. Ek het nie 'n maklike aanloop tot hier gehad nie. Ek het twee kinders en wonder dikwels of ek besig is om die verkeerde ding te doen. Feit bly dat die oefening my beter laat voel. Ek is bewus van my kondisie en die Dash is seker nie die slimste ding om te doen nie,” het sy laggend gesê.

Ná 2016 het sy haar lewe en wat belangrik is begin heroorweeg. Vir haar gaan dit nie oor die wen nie, eerder oor die genot en die mense wat in dieselfde goed belangstel.



RAAD

“Fokus op wat jy kán doen, eerder as op wat jy nie kan doen nie. In my geval kon ek gedink het ek kan nie meer fietsry nie en dat ek iets ander moet soek om te doen, maar ek kan nog fietsry. Ek kan dalk nie meer die heel gevaarlike spronge waag nie, maar ek kan nog ry. Dit maak nie saak wat jy doen nie, dit gaan daaroor om uit te kom, in die buitelug te wees en tussen mense met dieselfde belangstellings.”

Irene neem aan alle soorte pad­fiets- en bergfietswedrenne deel, met haar bekende aptyt vir die langer afstande.

“As daar 'n driekampbyeenkoms is, dan wil ek dit ook doen; hoewel ek nie baie sterk kan swem nie, het ek al een kompetisie gewen. Ek hou van alle soorte sport en ek is 'n baie ywerige sportvrou, al is ek nie noodwendig baie goed nie. Ek sien myself eerder as baie gelukkig.

“Ek het reeds twee 'tweede kanse' gehad. Ek is baie gelukkig dat ek in 2016 nie van die fiets afgeval het nie, dat dit nie 'n erger insident was nie en ek is gelukkig dat ek steeds kan doen waarvoor ek lief is. Ek is steeds geseënd, want daar is baie mense wat dit glad nie kan doen nie.”

Kommentaar

Republikein 2024-09-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Real Valladolid 1 vs 2 Mallorca | Celta Vigo 0 vs 1 Atletico Madrid | Espanyol 1 vs 2 Villarreal | Las Palmas 1 vs 1 Real Betis | Barcelona 1 vs 0 Getafe | Girona 0 vs 0 Rayo Vallecano SerieA: AC Milan 3 vs 0 Lecce European Championships Qualifying: Plymouth Argyle 3 vs 1 Luton Town English Championship: Plymouth Argyle 3 vs 1 Luton Town #N/A Currency: GBP to NAD 22.84 | EUR to NAD 19.09 | CNY to NAD 2.44 | USD to NAD 17.11 | DZD to NAD 0.13 | AOA to NAD 0.02 | BWP to NAD 1.26 | EGP to NAD 0.35 | KES to NAD 0.13 | NGN to NAD 0.01 | ZMW to NAD 0.64 | ZWL to NAD 0.04 | BRL to NAD 3.14 | RUB to NAD 0.18 | INR to NAD 0.2 | USD to DZD 131.76 | USD to AOA 940.1 | USD to BWP 13.08 | USD to EGP 48.31 | USD to KES 128.48 | USD to NGN 1666.22 | USD to ZAR 17.1 | USD to ZMW 26.37 | USD to ZWL 321 | Stock Exchange: JSE All Share Index Same 0 | Namibian Stock Exchange (NSX) Overall Index 1920.41 Up +0.02% | Casablanca Stock Exchange (CSE) MASI 14449.05 Up +0.55% | Egyptian Exchange (EGX) 30 Index 31276.91 Up +0.08% | Botswana Stock Exchange (BSE) DCI 9653.37 Same 0 | NSX: MTC 7.75 SAME | Anirep 8.99 SAME | Capricorn Investment group 17.34 SAME | FirstRand Namibia Ltd 49 DOWN 0.50% | Letshego Holdings (Namibia) Ltd 4.1 UP 2.50% | Namibia Asset Management Ltd 0.7 SAME | Namibia Breweries Ltd 31.49 UP 0.03% | Nictus Holdings - Nam 2.22 SAME | Oryx Properties Ltd 12.1 UP 1.70% | Paratus Namibia Holdings 11.99 SAME | SBN Holdings 8.45 SAME | Trustco Group Holdings Ltd 0.48 SAME | B2Gold Corporation 47.34 DOWN 1.50% | Local Index closed 677.62 UP 0.12% | Overall Index closed 1534.6 DOWN 0.05% | Osino Resources Corp 19.47 DOWN 2.41% | Commodities: Gold US$ 2 658.55/OZ DOWN -0.0053 | Copper US$ 4.56/lb DOWN -0.0111 | Zinc US$ 3 089.80/T DOWN -0.37% | Brent Crude Oil US$ 72.65/BBP UP +1.49% | Platinum US$ 1 001.11/OZ DOWN -0.0062 #N/A