Fietsryer (23) se dood 'n skok

Binne 'n jaar nadat hy ernstig begin fietsry het, het die jongman op hoë vlak van hom laat kennis neem.
Andrew Poolman
Andrew Poolman



Die jeugdige lewenslus en veelsydige sporttalent van Ruan van Staden maak sy onverwagse afsterwe gister moeilik om sin van te maak.

Die belowende 23-jarige fietsryer van Team Kia is by sy ouerhuis in sy slaap oorlede. Die oorsaak van sy dood, klaarblyklik in die oggendure, is nog nie vasgestel nie. Die vorige aand het hy nog saam met sy ouers 'n fliek op TV gekyk.

Van Staden, 'n oudskolier van Windhoek Afrikaanse Privaatskool wat tevore ook nasionale kleure in boogskiet verwerf het, het hom verlede jaar ernstig op padfietsry begin toespits en is in Juniemaand deur Team Kia gekontrakteer. Hy het op 12 Junie sy 23ste verjaarsdag gevier.

Sy Team Kia-spanmaat, Fanie Steenkamp, sê die twee was besonder goeie vriende en daar was geen aanduiding dat enigiets met Van Staden se gesondheid geskort het nie.

“Ruan het Saterdagoggend gewerk (by Build It in Windhoek) en het dus nie aan die Hollard X-Ride bergfietsrit by Oanobdam deelgeneem nie, maar hy het wel ná werk deurgery om by ons aan te sluit.

“Ons het met waterponies (jetski) op die dam gery en het die aand daar oorgeslaap. Hy het op 'n matras agterop 'n bakkie geslaap sonder om 'n woord te kla.

“Ruan is waarlik 'n groot verlies vir ons span. Hy het groot drome in fietsry gekoester en het juis laas naweek nog gepraat dat hy in Desember die Nedbank Desert Dash as 'n solo-ryer wou aanpak. Hy was ook baie gretig dat ek en hy as 'n span moes saamspan om volgende jaar die Absa Cape Epic-toer te gaan takel.”

Op die padfiets het Van Staden verlede maand met 'n vierde posisie by die Pupkewitz nasionale kampioenskap in die tydtoets oor 44 km uitgeblink. Hy was in een uur 03 minute 52 sekondes kort op die hakke van Xavier Papo wat derde ná Drikus Coetzee en André de Klerk was.

Twee naweke gelede was hy ook derde by die Nedbank Windhoek Pedal Power-reeks se Matchless-byeenkoms.

“Volgens die reëls word die derde ryer van elke span se tyd aangeteken en dit was danksy Ruan (derde), André de Klerk (vierde) en Kai Pritzen (sesde) se goeie tye dat Team Kia die byeenkoms se wenspan was.

“Die Matchless-roete verg altyd goeie klimwerk en om daar te presteer, is 'n prestasie waarvan fietsryers kennis neem,” sê Steenkamp.

Mnr. Johan Zaayman, hoofsportorganiseerder van Windhoek Afrikaanse Privaatskool, het gesê Ruan was 'n stil skoolseun wat altyd 'n hand uitgesteek het waar hulp nodig was.

“Die nuus is vir ons skool 'n groot skok. Ons bid net dat die Here sy gesin en almal wat naby aan hom was, sal sterk maak deur hierdie moeilike tyd.”

Ruan van Staden laat sy ouers Riaan en Sandra, asook 'n jonger broer Ruvan en suster Sarenda na.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer