Fietsryer ernstig beseer ná sy vir slaggat uitswaai

'n Gat in die pad het 'n vrou se drome van deelname aan vanjaar se Desert Dash verydel.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – ‘n Kranige fietsryer het ernstige beserings opgedoen nadat sy tydens ‘n oefenrit vir ‘n reuseslaggat in die teerpad uitgeswaai het.

Die 39-jarige Odette van der Westhuizen het onder meer ‘n gebreekte neus en gekraakte wangbeen en ribbebene in die ongeluk opgedoen en was vir twee dae in die hospitaal.

Die ongeluk het op die Hochfeld-pad buite Okahandja plaasgevind waar Odette en haar man vir die Desert Dash geoefen het.

Odette wat fietsry en oefening as haar “happy place” beskryf, sê sy en haar man ry gereeld op dié pad en probeer gereeld om die afstand wat hulle met hul fietse aanpak, te verleng.

Volgens Odette het sy skuins agter haar man gery en die slaggat te laat gesien.

“Toe ek uitswaai na my man se kant het my voorste wiel sy agterste wiel getref. Ek het bo-oor my fiets se handvatsels gevlieg en hande en gesig eerste op die teerpad te lande gekom,” vertel sy.

Odette, wat steeds baie pyn en ongemak verduur, sê sy was ná die val vir ‘n paar oomblikke bewusteloos en deurmekaar.

“Ek kon niks van die val onthou nie en het heeltyd vir my man gevra ‘waar is ons nou?’”

Haar man het hul buurman se vrou gebel wat hulle kom haal en Odette na ‘n dokter op Okahandja geneem het. Sy is per ambulans na Windhoek geneem waar sy in die Mediclinic opgeneem is. Hier is sy geopereer en het sy twee dae deurgebring.

Buiten vir haar gebreekte neus en gekraakte wangbeen, moes sy ook onder meer 15 steke in haar mond kry. Sy het ook twee gate onder haar neus en lippe waar die klippies van die teer haar vel stukkend geskeur het. Odette se een oog is opgeswel en vol bloed nadat ‘n aar in dié oog gebars het.

“Ek ry al lank en ry in die berge en het al kompetisies gedoen en weet hoe om te ry, ek het die nodige vaardighede geleer. Dit (slaggat) het my egter totaal onkant gevang.”

Volgens Odette het die pad redelik slaggate en dra dit baie verkeer, veral vragmotors. Enkele dae ná haar ongeluk byna twee weke gelede (Vrydag 22 Maart) is die slaggat saam met ander in die pad volgens Odette deur die Paaieowerheid met sand gevul. Alle tekens van onder meer die groot plas bloed wat hier gelê het, was volgens haar uitgewis.

Sy kon dood gewees het, sê Odette.

“Never mind ‘n motor se bande, wat as ek dood is? Die Here het my regtig beskerm.”

Odette het ‘n prokureur genader vir ‘n moontlike skadevergoedingseis en siviele saak.

“Dit gaan oor wie onderhou die pad – die munisipaliteit of die paaieowerheid.” – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!